Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ons weet God se genade is oorgenoeg vir my pa’

Hooffoto: Lizelle Lötter

In Junie vanjaar het my ouers by ons in Somerset-Wes aangekom vir my en my verloofde, Leonard Steenkamp, se troue. Op 22 Junie in die NG Moederkerk op Stellenbosch was dit baie spesiaal dat my pa, Barry Fourie ons in die huwelik kon bevestig. Hy het my ook by die kerk ingebring.

Maar ons kon sien my 73-jarige pa, ’n afgetrede NG-predikant van Kroonstad, was nie gesond nie. Hy en my ma Anette is nou afgetree in Cannon Rocks, ’n klein kusdorpie in die Oos-Kaap.

Die bekommernis oor my pa het ’n bietjie van ’n demper op die dag wat net ’n groot vreugde moes wees, geplaas.

Tog het ons eers groot fees gevier en daarna het my pa al die nodige toetse hier in die Kaap ondergaan. Op ons wittebrood moes ons die aaklige nuus hoor dat daar ’n baie groot gewas (15 cm x 10 cm x 10 cm) aan my pa se long groei.

LEES OOK: ‘Jy is kankervry! Dis onverklaarbaar,’ hoor vrou nadat ’n reuse-gewas behandel is

Na ’n operasie wat amper vyf ure geduur het, plus ’n ses weke lange herstelproses en nog ’n hele reeks baie intensiewe toetse, is hy met ’n baie rare en aggressiewe kanker, myofibroblastic sarcoma, gediagnoseer.

Die toetse het getoon dat immunoterapie baie goed sal werk vir hierdie kanker. Een van die toetse het ’n 100%-aanduiding vir immunoterapie gelewer.

Uiteindelik moes ons met baie groot hartseer die nuus verneem dat sy mediese fonds nie vir die medisyne gaan betaal nie. Hulle weerhou hom dus van medisyne wat sy lewe kan red. Ons veg voort om teen die besluit te appélleer.

Ongelukkig is dit ’n uitgerekte proses en my pa het nie tyd om te wag om met behandeling te begin nie. Hy het die behandeling dringend nodig, want twee maande ná die operasie het ’n CT-skandering gewys daar is reeds weer ‘n nuwe tumor wat groei.

Immunoterapie is ’n nuwe grondverskuiwende benadering waar die liggaam se immuunsisteem kanker beveg. Dit gee ongelooflik baie hoop vir pasiënte wat andersins min hoop sou hê.

Die gesin volg ’n goeie vriendin se raad en vier die lewe. Hier is Minki en haar ouers, Barry en Anette Fourie. Hulle drie geniet dit om soms ’n lekker koppie koffie iewers saam te gaan drink. Foto verskaf

’n Enkele immunoterapiesessie kos R82 000. Die behandelingsplan vereis dat ’n pasiënt vele sessies – ongeveer 18 – moet ontvang. In totaal kan dit die behandeling tot by R1,5 miljoen laat beloop.

Mediese fondse keur dit summier af. Ek kan net dink dat dit oor die kostes gaan, want hulle sê hierdie medisyne is nie gelys op die PMB-lys* by hulle nie. My vraag is: Waarom so duur? Hoe kan daar so ’n duur prys op lewe wees? Dit voel of die sisteem gebreek is. Hoe kan dit so buite bereik van pasiënte wees?

En dan wonder ek: Is farmaseutiese maatskappye besig om wins na te jaag eerder as om na pasiënte se welstand om te sien?

Vir nou kan ’n mens net hoop en bid vir pasiënte soos my pa wat hierdie behandeling broodnodig het. Ons is ’n gelowige gesin en weet dat ons elkeen se lewe in die Here se hand is. Ons weet sy genade is oorgenoeg vir my pa, daarom vertrou ons vir sy lig en leiding in hierdie tydperk.

My pa is een van die mense met die mooiste hart wat ek ken. Hy het sy hele lewe lank mense gehelp met soveel deernis en liefde en doen dit steeds. Hy het koninkrykswerk gedoen met alles binne-in hom en doen dit ook steeds. Ek voel as daar iemand is wat verdien om ’n bietjie deernis en liefde terug te ontvang, is dit hy.

Ek het so baie geleer by ’n vriendin van my wat ’n paar jaar gelede deur ’n baie hartseer tyd is met die verlies van haar gesin. Haar motto is: Een van die beste maniere om hierdie soort hartseer teen te werk, is om die lewe te vier.

Tussen alles deur span ons laer rondom my pa en geniet die saamweestyd as familie hier in die Kaap. My ouers mis hulle tuiste en vriende in Cannon Rocks, maar hulle kon weens die omstandighede nog nie terugkeer daarheen nie. Hulle woon tans by my en Leonard en my jonger boetie. Dis nou nie heeltemal hoe ons ons eerste maande as getroude paartjie ingedink het nie, maar ons is dankbaar ons kan vir my ouers iets beteken en hulle deur hierdie tyd help.

Ek wil graag ’n beroep doen op lesers om vir my pa te bid. Daar is soveel krag in gebed en dit dra ons en my ouers in hierdie tyd.

As ek my geloofsreis in een sin kan opsom, is dit: ‘Die Here is vir my genade”. En ongeag wat ookal gebeur, sal dit ons uitkyk op die lewe bly.

Intussen het ek ook begin fondse insamel om te help met behandelingskostes. Ek hoop om na vier drips goeie resultate te kan toon om aan die mediese fonds te bewys en hulle te oortuig om tog saam met ons as familie die behandelingskostes te dek. My pa kon reeds sy eerste drup ’n week gelede ontvang en daarvoor is ons baie dankbaar.

  • Klik hier vir die BackaBuddy-veldtog wat Minki vir haar pa van stapel gestuur het.

* PMB is die lys van voorgeskrewe minimumvoordele (Prescribed Minimum Benefits). Dis ’n lys van mediese toestande en behandelingsriglyne waaraan alle mediese fondse moet aandag gee om hulle pasiënte se diagnose, behandelingsplan en voortgesette versorging te verseker.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.