Ek is in 2018 met servikale kanker gediagnoseer. Ek was 37 jaar oud.
Daar moes ’n histerektomie gedoen word om die gewas te verwyder. Alles was “skoon”. Maar ná ’n jaar het die kanker teruggekeer. Ek het geweier om chemoterapie en bestraling te ondergaan en immunoterapie gekies. Ná dié behandeling was ek kankervry.
In Januarie 2021 het my rug begin pyn, en ek het gedink dis ’n spierspasma. Ná twee weke het my hele lyf begin swel, selfs my gesig. Op ’n dag het ek met ’n skok besef ek het twee dae laas geürineer.
LEES OOK: ‘Ek kies God se beloftes bó verdoemende kankerdiagnose’
Blaasinfeksie. Dit was my eerste gedagte en ek is dokter toe.
Ná ’n reeks bloedtoetse moes ek dadelik by die hospitaal aanmeld. Ek het geweet iets is fout; ek het net nie geweet wat nie.
Gróót fout
By die hospitaal is ek deur ’n nefroloog ingewag. Hy het gesê dat ’n kateter ingesit gaan word. Is dit net blaasinfeksie? het ek gewonder.
Maar toe die chirurg my kom haal en my na die traumakamer neem, het ek besef daar is gróót fout. Dit was toe so, dit was totale nierversaking.
Toe het die aanvalle begin. Ek was twee dae lank in ’n gedeeltelike koma. Dit was boonop Covid-19-tyd en my gesin kon my nie besoek nie. Ek het allerlei toetse ondergaan waarvan ek nie eens bewus was nie. Op die derde dag het die dokter my ingelig dat ’n groot kankergewas die nierversaking veroorsaak. Dit het die nierpype toegedruk.
Vanweë die nierversaking kon ek nie vir die kanker behandel word nie. Ek moes drie keer ’n week dialise kry, twee maande lank, sodat die medici kon vasstel of my nierfunksie nie dalk verbeter nie. Daar was in dié tyd sprake van kunsniere, van ’n moontlike blaasverwydering en dalk ’n kolostomie.
Ek is eers huis toe, en die gereelde dialise het voortgeduur. Ek het baie pyn in my een nier ervaar.
‘Jy is terminaal siek’
Toe het ek besluit om ’n tweede dokter se mening in te win. Maar daardie onkoloog het dié skoknuus gebring: “Jy is terminaal siek.” Volgens hom het ek minder as twee maande gehad om te lewe.
Sy woorde was: “Ons kan probeer met behandeling … om jou ’n bietjie te help met die pyn en die ongemak. Gaan huis toe, dink daaroor, en besluit. Kry jou sake agtermekaar.”
Ek was woedend. Ek het gedink: “Wie is jy om vir my te sê ek gaan nog net twee maande leef?” My hart het uitgeskreeu: “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen!”
Maar my emosies was in ’n warboel. Ek was onseker oor wat my te doen gestaan het. Wat van my drie seuns? Hulle was toe onderskeidelik 10, 14 en 17. En wat van my man en my familie?
By die huis het ek sonder ophou geworstel. Daar was ’n keuse: Ek geniet die laaste rukkie by al my mense, óf ek veg teen die kanker. My kop het teen my hart gestry, dag ná dag, vier dae lank.
God het oorgeneem
Ek was by breekpunt en het besef dat oorgee die enigste uitweg is. Tussen my trane deur het ek gebid: “Here, besluit U asseblief vir my!”
En net daar het ek vrede gevind. Ek het geweet dat ek die geveg sal volhou, en dat God sal voorsien. In my binneste het dié woorde opgeklink: “Gaan net, Annel. Ek sal voorsien.”
Op 7 Julie 2021 het ek met die behandeling begin. Chemoterapie, bestraling, bragi-terapie (inwendige bestraling), dialise, vyf spesialiste …
Hoe kan ’n mens dink dis moontlik om, nadat jy 33 kg verloor het, drie bloedoortappings ondergaan het, en tye sonder kos moes bly, steeds aan te hou veg? Tydens die sesde week moes die dialise gestaak word omdat ek te swak was.
Maar God het oorgeneem.
Ná sewe weke was die behandeling verby. Ek moes ’n verdere twee weke op die volledige uitslag wag.
Toe, in die onkoloog se spreekkamer, kom sy woorde: “Annel, dis onverklaarbaar; daar is geen gewas te bespeur nie.”
Ek kon my ore nie glo nie. Die gewas, so groot soos ’n sokkerbal, was weg.
Boonop kon die dialise gestaak word omdat my niere, ná agt maande, weer begin funksioneer het. “Jy is genees,” het die dokter gesê, “dit is ’n wonderwerk, dis God se genade.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.