Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Op 31 was ek bedlêend … toe kry ek ’n nuwe hart,’ vertel 33-jarige

DEUR HELÉNE MEISSENHEIMER

Die Covid-pandemie het dit nog moeiliker gemaak om mense te help wat nuwe organe nodig het. Leendert Wijnja (33) kon, danksy ’n nuwe hart, onlangs sy eerste 10km wedloop hardloop. Hy hoop sy storie sal mense inspireer en ook herinner hoe belangrik orgaanskenking is.

Dit is ’n lewenslustige jong man met wakker oë agter ’n ligteraam bril en ’n breë glimlag wat op ’n winderige Oktoberoggend agter ’n buitetafeltjie inskuif by ’n Kaapse koffieplek. Die rede vir sy zest for life klop reëlmatig soos ’n metronoom onder sy grys T-hemp met ’n rooi hart waarbo geskryf staan ‘And … I’m back’.

Hy draai om en wys wat staan agterop: ‘Recycled parts inside’.

“Vir my is dit belangrik om mense te laat weet al is daar partykeer baie donker tye, is dit belangrik om vir jouself klein doelwitte te stel elke dag. Moenie gaan sit en wag om dood te gaan nie,” vertel Leendert. Foto: Heléne Meissenheimer

In sy geval. ’n Gesonde hart.

Iets wat Leendert nie geken het nie tot verlede November toe hy op 32 ’n nuwe hart gekry het.

Dieselfde hart wat dit vir hom moontlik gemaak het om binne ’n jaar sy eerste 10 km padwedloop te kon hardloop saam met sy tweelingbroer Anthonie en swaer Mike Eybers. Dr Willie Koen, Leendert se hartoorplantingchirurg, vertel sy hart het amper gaan staan toe hy hiervan hoor, want dit is nogal ’n rare prestasie vir iemand om so kort na ’n hartoorplanting iets soos ’n 10 km padwedloop aan te vat. Maar voeg hy by, hy is baie trots op Leendert.

Vir Leendert was die wedloop een groot lekker. “Ek het elke oomblik geniet,” glimlag hy breed en kan nie die plesier wegsteek dat sy broer, ’n ervare langafstandatleet, nie by hom kon byhou nie.

Vir hierdie wedloop het Leendert dieselfde T-hemp as vandag gedra. Hy het dit laasjaar laat maak om sy hartoorplanting te vier.

’n Rare aangebore hartkwaal

Leendert en Anthonie is op 24 Februarie 1989 in die Mary Font Katolieke hospitaal in Pretoria gebore. Sy boetie het niks makeer nie, maar “die dokters het dadelik geweet daar is fout met my, want ek was ’n potblou babatjie.” Hy is na ’n ander hospitaal oorgeplaas waar sy hartjie ’n paar keer gaan staan het tydens die maand wat hy daar was. ’n Rare aangebore hartkwaal, tetralogie van Fallot, is by hom gediagnoseer. Die Amerikaanse mediese webblad Capitalcardiology.com beskryf dit as “’n kombinasie van defekte wat lei tot verswakte longbloedvloei en verminderde suurstofvlakke in die bloed”.

Leendert vertel hy het aan die hartskenker se familie ’n dankiesêbrief geskryf – die “moeilikste brief wat ek nog geskryf het … hoe sê ’n mens dankie vir ’n ander se hart?” Foto: Heléne Meissenheimer

Sy ma Sivera beskryf dié tyd in ’n e-pos aan as “… die begin van ’n reis van 33 jaar waar emosies gewissel het van angs, hoop, bekommernis en ook blydskap as sy gereelde mediese ondersoeke getoon het daar is geen verslegting nie”.

Op 18 maande het hy sy eerste hartoperasie gehad. Hy kon toe al loop, “maar my ma het gesê hulle kon my van ver af hoor soos ek gehyg het”. Hoewel die operasie gehelp het om bloedvloei na sy hart te verbeter, was sportdeelname op skool uit.

Hy was 17 met sy tweede hartoperasie toe sy een hartklep vervang is. “Toe sê hulle vir my ‘sien jou weer oor so 15 of 20 jaar’”. Wat niemand toe geweet het nie is dat sy beskadigde hart nie nog 20 jaar sou hou nie.

Moegheid toe nie werkstres nie

Na matriek skryf hy in om op Potch (Noordwes-Universiteit), later Tukkies (Universiteit van Pretoria) vir NG dominee te gaan leer, want “ek het ook nog altyd geweet dat ek bedoel is om mense te help en het gevoel dat predikantwees in lyn was met daardie doel”.

Die eerste tekens van hartversaking het begin wys teen middel-2019. Leendert was skaars ’n jaar in sy eerste pos as enigste leraar van ’n plattelandse gemeente. Hy het eers gedink dit is as gevolg van werkstres dat hy saans sukkel om te slaap en heeltyd ’n gevoel van angstigheid het. Hy het ook agtergekom hy word vinniger moeg wanneer hy met sy Duitse herdershondkruising, Jager, gaan stap en soggens sou hy wakker word met ’n rokershoes hoewel hy nog nooit gerook het nie.

Teen Desember kon hy nie meer eet nie, was heeltyd naar en kon glad nie slaap nie. Hy was toe pas aangestel as tweede leraar op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap. By sy eerste kerkraadsvergadering in Januarie moes sy kollega, dr Ben van Tonder en van die kerkraadslede hom huis toe dra. “Ek het letterlik nie meer krag in my bene gehad nie … ek was so moeg,” onthou Leendert.

By ’n internis in George kry hy die skoknuus wat ’n mens nie wil hoor as jy net 30 is nie. Hy het ’n hartoorplanting nodig. Sy hart was gedaan.
Hy het nie ’n keuse gehad nie. Hy moes bedank as predikant en saam met Jager intrek by sy ma op George. Teen Mei 2020, ’n week voor sy 31ste verjaardag, was hy feitlik bedlêend. Sy hartfunksie was 11% terwyl normale hartfunksie tussen 60% en 70% is.

Sy ma onthou hoe magteloos sy gevoel het om hom so te sien. “Ek het daagliks gesien hoe moeilik dit vir Leendert is en daar was niks wat ek kon doen om dit vir hom beter te maak nie … al wat ek kon doen was om hom in die hande van die Here oor te laat en te vertrou dat Hy die beste weet”.

‘Ek het ’n “breek” gevat van gebed en kerk’

Vir drie maande was hy kwaad vir die wêreld en teleurgesteld in God. “Ek het ’n breek gevat van gebed en kerk,” sê Leendert. Tot op ’n dag wat hy besluit het om elke dag iets te doen waarop hy trots kan wees. Al is dit net om die 100 treë te loop tot by die parkie naby sy ma se woonstel. Toe raak dit 500 treë, ’n kilometer … ’n Jaar later kon hy 5 km stadig stap met ’n hartfunksie van 35%.

In Mei 2021 trek hy Kaap toe om nader te wees aan sy hartoorplantingchirurg sou ’n hart beskikbaar raak. Toe amper oornag verswak sy hart dramaties terug na slegs 15% hartfunksie. Koen onthou dat Leendert se hart twee keer feitlik gaan staan het in een dag. Hy het dringend ’n nuwe hart nodig gehad, maar die kanse om gou ’n geskikte hart te kry was skraal.

Covid en orgaanskenking

In 2019 is slegs sowat 23 hartoorplantings landwyd gedoen. Die getal het in 2020 tydens die Covid-pandemie teruggesak na slegs twee of drie. Dr Koen verduidelik die pandemie het dit baie moeiliker gemaak om geskikte orgaanskenkers te vind. “Dit begin nou weer regkom, maar orgaanskenking vat die langste … dit geskied teen ’n slakkepas,” sê Koen.

Daarom, toe Leendert sesuur die aand op 21 November op sy selfoon sien Koen bel hom, het hy dadelik geweet dit beteken net een ding. ’n Hart, in die geval die gesonde hart van ’n 23-jarige jongman van dieselfde bloedgroep (O+). Dieselfde aand nog moes Leendert by Chris Barnard-hospitaal inboek. Die volgende oggend in ’n 10-uur operasie is sy lewe handomkeer verander.

Dieselfde jongman, wat byna ’n jaar terug vir ’n kwartier moes rus na hy 10 trappe geklim het, stap nou elke dag tussen 3 en 5 km, soms selfs meer. Hy is ook aktief betrokke by die NG gemeente Pinelands as lidmaat en is besig met sielkundestudies.

Sy ma sê niks in Leendert se lewe word as vanselfsprekend aanvaar nie. Hulle beskou elke klein stappie met sy herstel tot die onlangse 10 km-wedloop afgelê as ’n wonderwerk.

Leendert sê sy hart klop steeds warm om mense te help, maar hy sien homself nou as ’n toekomstige tentmakerpredikant – in die week ’n sielkundige met preekbeurte oor naweke – eerder as voltyds by ’n gemeente.

Hy vertel graag sy storie om mense wat swaarkry hoop te gee. “Vir my is dit belangrik om mense te laat weet al is daar partykeer baie donker tye, is dit belangrik om vir jouself klein doelwitte te stel elke dag. Moenie gaan sit en wag om dood te gaan nie.”

Intussen het hy ook aan die hartskenker se familie ’n dankiesêbrief geskryf, “moeilikste brief wat ek nog geskryf het … hoe sê ’n mens dankie vir ’n ander se hart?”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.