Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Paartjie word uiteindelik ouers ná desperate surrogaat-soektog op Facebook

Pas nadat ek en my man Kris in 2016 getroud is (ek was 28 en hy 32), het ons besluit om met ’n gesin te begin. Dis nou tien jaar gelede, en wanneer ek oor die afgelope dekade terugkyk, besef ek eintlik eers oor hoeveel hekkies ons moes spring voordat ons dié reis kon voltooi.

Wanneer jy in die middel van ’n storm is, oorleef jy bloot. En dit was ons werklikheid, jare lank. Ek het twee miskrame beleef. Ons het geld bymekaargeskraap vir drie keer se in vitro-bevrugting (IVB). Daar was min eierselle, maar ons kon darem vier embrio’s vries. Maar toe moes ek eers ’n kanker-skok verwerk en ’n volledige histerektomie ondergaan, met komplikasies daarna.

Hospitale en allerlei mediese prosedures was nog altyd van my grootste vrese, en tog kon ek talle laparoskopies en histeroskopies deurstaan.

Maar ook daarna het sake nie verloop soos ons gewens het dit moes nie. Elke keer as ons hoop gekry het, het iets skeefgeloop. Uiteindelik het ons ’n surrogaat gevind, maar ná ’n jaar se saamstap is ons aansoek in die hof afgekeur. ’n Tweede surrogaat het op ’n dag spoorloos verdwyn. Dit alles het ons finansieel en emosioneel uitgeput. Die mediese- en regskostes was enorm. Ons het net vier embrio’s gehad en die tyd het ons begin inhaal.

Ek was moedeloos. En ek was kwaad vir die Here. Hoekom altyd ons? het ek gedink.

’n Soektog op Facebook

Ná al die mislukkings het ons besluit om ons trots te sluk en op Facebook te vra of iemand bereid sou wees om ons baba te dra. Dit was vir ons vernederend om ons intieme sake so uit te stal, maar ons het niks gehad om te verloor nie.

Op 6 Januarie 2024 het daar ’n boodskap in my e-posbus beland wat my tot vandag toe hoendervleis gee. Die skrywer daarvan was ’n familielid van ’n goeie vriendin, iemand wat dit nog nooit oorweeg het om ’n surrogaat-ma te wees nie. Só het sy geskryf: “I have been thinking and meditating and praying about you … I have never considered being a surrogate. Ever. But the moment I realised that I could do this for you, my heart has been set.”

LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’

Marisa van der Merwe van Welgemoed in die noordelike voorstede van Kaapstad, se woorde het alles verander. Dit het beteken dat die Here ons gebede verhoor het. Dat Hy die wonderlikste, liefdevolste en mees onselfsugtige vrou denkbaar oor ons pad gestuur het. In die loop van die daaropvolgende twee jaar het sy en haar gesin ons ten volle aanvaar en opregte, oorweldigende liefde aan ons betoon. Wat Marisa vir ons gedoen en beteken het, is onmeetbaar.

Op 6 Januarie 2026, kort voor vyfuur daardie middag, is Olivia Jane Snyman gebore. Sy was gesond, en perfek geskape. Haar naam dra vir ons ’n diep betekenis: Olivia isafgelei van “olyfboom” en dit beteken “vrede, vrugbaarheid, skoonheid en waardigheid”. Jane beteken “God is genadig”.

Presies tien jaar nadat ons begin het met ons pogings om swanger te raak, is ons gebede beantwoord. Presies twee jaar nadat ons daardie lewensveranderende e-pos ontvang het, is ons kleine Olyfie gebore.

Nadat ons so ’n hegte verhouding met Marisa en haar mense gesmee het, het ek besef ons storie is toe nie een van hartseer en verlies nie, maar van hoop. Ja, daar was donker tye en dit het langer geduur as wat ek gedink het ek sou kon oorleef. Dit het my geloof laat wankel.

Maar selfs tóé was God besig om met ons te werk. Kyk dan net: As ons nie besluit het om nog een keer met die IVB te probeer nie, sou die dokters dalk nie die kankeragtige selle betyds opgespoor het nie. As ons eerste twee surrogaatskap-probeerslae die gewenste uitkoms gehad het, sou ons nooit vir Marisa en haar mense ontmoet het nie. Ons dogter is uit die tweede laaste embrio gebore.

Ons beker loop oor

Vandag loop ons beker oor. Terwyl ek nou hier skryf, sit ek met Olivia in my arms. Daar is nie genoeg woorde in hierdie wêreld om ons dankbaarheid teenoor Marisa en haar gesin, en bowenal teenoor die Here, uit te druk nie.

Ons dank Hom dat Hy in Marisa se hart gewerk het. Dat Hy só ’n engel vir ons gestuur het. Dis enkel en alleen genade.

Hier is ons boodskap aan elke potensiële mamma en pappa wat dalk steeds wag en steeds bid: Moenie ophou nie. Wanneer dit voel asof jy aan ’n toe deur klop, weet maar dat die Here jou hoor. Wanneer dit voel asof jou geloof te klein is, weet dat Hy jou vashou. Dit het presies tien jaar geduur om ons reis te voltooi, maar die bestemming was groter en beter as enigiets wat ons ooit kon opdroom. Al die eer kom ons Here toe.

  • Lindy Snyman woon in Stellenbosch en sy is ’n digitale bemarkingsbestuurder.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Bou ’n Toekoms

Belê in ’n Christelike toekomsplan en laat iets aan die volgende generasie van gelowiges na…

Vertel my meer

Maak ’n nalatenskap

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Vertel my meer

Red ongelowiges

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Vertel my meer

Maak godsdiens vir kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF