Hooffoto verskaf deur Nuelight Publishing
Die gospelsanger Piet Smit is ’n vriendelike, gemoedelike mens wat maklik glimlag. Maar soms gaan die lag met ’n traan gepaard.
Reeds meer as drie dekades lank is hy ’n storievertel-evangelis wat met sy kitaar, warm stem en poëtiese lirieke, hoop en inspirasie aan gebrokenes bring. ’n Man wat met digterlike vernuf God se liefde vir die mensdom besing, maar ook ’n stem gee aan die mens se groot geloofsvrae en diepste kwellings. Want dié vrae is ook Piet se vrae. Dit verwoord sý worsteling.
Wanneer die éintlike geloofspad begin
Op ’n Dinsdagoggend in ’n besige restaurant in Pretoria waag Piet dit om die dinge te sê wat baie volwasse Christene ervaar, maar waaroor hulle nie sommer praat nie. Hy bely: “My geloofspad saam met die Here is nie maklik nie. Soms is dit ook nie lekker nie. Tog sal ek dit vir niks in die wêreld verruil nie.”
Hy verduidelik: “’n Tipiese getuienis handel oor hoe donker jou lewe eens was, dan neem jy Jesus aan as jou Verlosser, en van daar af loop alles net reg en jou lewe is vol vrede.
“Maar die werklikheid is anders. As die euforie eers verby is – noem dit maar die wittebroodfase saam met die Here – begin jou eintlike geloofspad. Dan moet jy jou kruis opneem, aan jouself sterf en Hom elke dag volg. En dís nie altyd maklik nie. Jesus het ons immers in Johannes 16:33 gewaarsku: ‘In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.’”
Piet sê hy het baie deernis vir mense wat voel dat hulle hulle in ’n doodloopstraat bevind. “Ek het ’n hart vir die uitgesaktes in die lewe. Ek wil hulle moed inpraat.”
LEES OOK: Len Muller: ‘Jesus het my lewe gered’
Met sy splinternuwe enkelsnit “Way Above the Sky”, wat sy eerste nuwe lied in tien jaar is, is dit presies wat hy doen. Dié lied se woorde is ’n vrye verwerking van Jesaja 40:12-33. Piet vertel: “God se grootheid teenoor ons nietigheid het my diep getref, en met die lied probeer ek sê: Dalk voel dit asof jy in die modder vassit en daar geen uitkoms is nie. Maar hou moed. As jy bly opkyk en bly glo, sál jy krag ontvang.”

Dié waarheid weerspieël ook die gevoelens in sy hart, want soms voel dit vir hom of die lewe darem net te moeilik word. Tog is hy nooit sonder hoop of sonder dankbaarheid nie.
‘Ek het bly soek na iets meer …’
Piet se wonderwerk-getuienis van 35 jaar gelede was lewensveranderend. Hy vertel: “As hoërskoolseun, en later as dienspligtige in die weermag, het ek hard probeer om die Here te dien. Dit was ’n tyd toe daar meestal gepreek is oor jou kerkbywoning, oor jou kollekte, en oor hoe jy moet ophou sonde doen. Daar is nie gepraat oor hoe om ’n geloofspad te stap nie, of hoe om ’n verhouding met die Here te bou nie.”
En dít is waar hy vasgeval het.
Hy vertel van sy groot ontnugtering: “My eerste werk was in ’n oopplan-kantoorruimte saam met ’n klompie ‘ou manne’. Dit was ooms wat Sondag in die ouderlingbank gesit het en Maandag gespog het oor die afgelope naweek se gedrink en gefuif. Dit het my laat struikel, en net daar het ek besluit dat as dít is hoe Christenskap lyk, wil ek niks daarmee te doen hê nie.”

Hierna het hy ’n dekade lank die lig gesoek in allerlei geloofsdissiplines en filosofieë. Hy het dit nooit beoefen nie, sê hy, maar hy het bly soek na iets meer, na die waarheid. En dit nêrens gekry nie.
“Toe ek dertig jaar oud was, het ek aan niks geglo nie.”
Die groot ommekeer
Intussen het hy sy kleintydse droom begin uitleef en musiek gemaak. Nie op groot verhoë soos in sy drome nie, maar in kroeë en restaurante. Alles vir ’n paar rand en ’n bier.
“Ek was daardie ou in die hoek, die een met die kitaar onder die blad en mondfluitjie om die nek. En duisend liedjies in my kop. Ek kon dosyne sangers namaak, maar het geen benul gehad van hoe om my eie musiek te skryf nie.”
Toe kom die groot ommekeer.
’n Gemeente het hom genader om hul lofprysing te lei, onbewus van sy innerlike konflik. “’n Paar begeesterde preke later,” vertel Piet, “en ek was ’n bekering wat plek gesoek het om te gebeur.”
En so het hy, alleen op ’n gewone weeksaand by sy huis, kort voor middernag sy hart vir die Here gegee in ’n eenvoudige, opregte gebed.
“Daar was geen fireworks nie. Niks het gebeur nie.” Maar teen agtuur daardie oggend het hy sy eerste liedjie geskryf. Hy vertel: “Ek het letterlik ure ná my bekering die vermoë van die Here ontvang om musiek te skep.”
En ’n paar dae later was daar nog ’n liedjie in sy kop, en toe nog een …
Dit het bly uitborrel, tot vandag toe.
Piet se lirieke verwoord meestal sy eie vrae, sy seer. Maar wanneer die lied begin vorm aanneem, sê hy, kom dit as ’n direkte antwoord van die Heilige Gees af. Hy beskou dit as ’n wonderwerk. “Wanneer ander mense daarop reageer en sê dat die lied net vir hulle bedoel is, staan ek verdwaas en verwonderd voor God. Hoe kan die Here iemand soos ék gebruik, ’n mens wat tot vandag toe nie ’n enkele noot musiek kan lees nie?”
’n Tweede bekering, en probleme …
Piet praat graag oor die tweede helfte van sy geloofspad, dit waarna hy verwys as ’n tweede of ná-bekering-getuienis. Hy sê Christene behoort meer daaroor te praat, want te veel van hulle dink hulle worstel alleen deur die lewe se “hoekom?” en “eina!”.
“By my is dit die verwoestende artritis-pyn in my vingers. Ek sukkel om kitaar te speel, want my vingers voel soos brandende naalde.” Elke oggend strek hy sy hande uit in gebed en vra vir genesing. “Maar tot op hede kies God om dit nie gesond te maak nie, en ek moet daarby berus.”
Daar is ook groot finansiële uitdagings, veral nadat die koms van die internet die musiekbedryf soos handomkeer verander het. Piet vertel: “Dié situasie het as ’t ware die musikante in ’n relatief klein gospelmark se keel afgesny. Veral wat ons passiewe inkomste betref. Voorheen kon ons CD’s vervaardig en verkoop en van die inkomste ’n bestaan maak. Maar deesdae is dit nie meer ’n opsie nie.”
Hy praat oor die baie plaaslike musiekmakers wat met hul hande in die hare sit. “Dit verg baie werk en derduisende rande om ’n liedjie te laat opneem. Maar sodra jy dit op die internet laai, is jou belegging tot niet. Duisende mense luister gratis daarna en laai dit selfs af. Terwyl die sanger en liedjieskrywer slegs ’n paar sent daarvoor kry. Vér te min om die onkoste te verhaal, wat nog te sê om volhoubaar te bly werk.”
Die algemene publiek is salig onbewus daarvan dat elke kykslag net sowat drie sent werd is vir die uitvoerder daarvan.
“My ervaring is dat die meeste Christene oningelig is oor die beginsel van ‘saai’ in die Koninkryk. Vir ons as bedienaars van die Woord geld die beginsel wat in Matteus 10:8 se Jesuswoorde só lui: ‘Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.’
“Vir die mense wat bedien word, geld Paulus se vermaning in 1 Timoteus 5:18: ‘Want die Skrif sê jy mag nie ’n bees waarmee jy graan dors se bek toebind nie, en ook: Die arbeider is geregtig op sy loon.’
“Ek sê dus dikwels aan die Here se kinders dat hulle aan hul dominee of pastoor moet dink, en aan die spreker of sanger wat hulle met God se woord bedien. Hierdie mense het ook uitgawes. Paulus skryf in 1 Korintiërs 9:14 dat hulle wat die evangelie bring van die offergawes moet lewe.
“Ja, ons waardeer die seënbedes en die dankie-woorde. Maar dit betaal nie die kruideniersrekening nie. My raad is: Gaan kyk op die prediker of sanger se webwerf. Gee ’n donasie, al is dit klein. Saai in hul bediening. Want slegs só kan hulle met hul werk voortgaan. Paulus skryf in 2 Korintiërs 9:7 dat God ’n blymoedige gewer liefhet.
“Een ou sê: ‘Dis darem baie onregverdig; ek het reeds so min geld en nou verwag die Here dat ek 10% daarvan moet weggee.’ ’n Ander een sê weer: ‘Die Here het so baie geld, en tog laat Hy my toe om 90% daarvan te gebruik.’”
‘Om tot op ’n punt te glo, en dan weg te draai’
’n Christen se ná-bekering-getuienis vertel dikwels van ’n moeilike pad. Hieroor sê Piet: “Die meeste ouens wat hulle in ’n doodloop-situasie bevind, hou aan om te glo … maar tot op ’n punt, en besluit dan om weg te draai. Hulle sê die Here hoor hulle nie meer nie.
“Op daardie oomblik juig die duiwel, want hy het nog ’n mens laat val.
“Daar is ’n beter benadering: As jy nie weet wat die regte ding is om te doen nie, moenie die verkeerde ding doen nie.”
Op ’n lang geloofspad, een vol hoogte- en laagtepunte, het Piet Smit geleer: “As die Here jou nooit toelaat om te sukkel en seer te kry nie, hoe kan jy ooit iemand anders se seer verstaan? En as ons bid en dadelik kry wat ons vra, hoe sal ons ooit groei in ons geloof?”
Dis wyse woorde, en dit laat jou opnuut besef dat hierdie musiek-evangelis nooit soveel harte sou kon aanraak as hy nie self ook goed vertroud was met die lewe se lig én die lewe se donker nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















