DEUR CONETTE LE ROUX
“Ek is lief vir jou, Jesus!” het Marilize de Clercq in die donkerste oomblik van haar lewe geskreeu.
By daardie bitter geleentheid het sy ook haar man Christian vasgehou en gesê: “Dit kan nóóit tussen ons en God kom nie!”
In daardie stadium was Marilize en haar man 39 weke swanger, maar het toe pas verneem dat hul ongebore dogtertjie Gia nie meer leef nie. Volgens Marilize het sy vroeg daardie oggend wakker geword – en dadelik geweet daar is groot fout omdat sy deurgeslaap het. Marilize was daaraan gewoond om snags dikwels wakker te word omdat die babatjie so woelig en sy self bitter ongemaklik was.
Hulle het hulle dadelik na die hospitaal gehaas.
‘Daar is nie ’n maklike manier nie’
Dis nou agt jaar later, maar die trauma en pyn ná die stilgeboorte van haar eersgeborene bly dié donkerkop stilis steeds by. “Dis ’n einde en ’n pyn waarop geen ouer voorbereid is nie.”
Sy onthou ook die pyn wat sy ervaar het toe sy sonder haar baba moes huis toe gaan. “Mense sê altyd jou hart is seer. Dis waar. Ek was van elke sel in my liggaam bewus. Jou arms pyn, want jy moes iets vasgehou het. Dit was moeilik om asem te haal.
“Jou drome is leeg, jou gebede het verdwaal. Dit het gevoel asof alles tot ’n einde gekom het.”
Maar, vertel Marilize, sy het geweet sy moes weer “waarheid en Woord” hoor. Hoewel sy nie die krag gehad het om haar Bybel te lees nie, het sy dag en nag na Christelike musiek geluister.
Uiteindelik was haar gunsteling-aanbiddingsmusiek die lig op haar pad en die lamp vir haar voet. Sy móés eenvoudig deur daardie woestyn kom, vertel sy.
Dis ook Marilize se raad aan ander. “Ek sê altyd vir mense wat swaarkry-tye beleef: Identifiseer jou gunstelingteks waaraan jy kan vashou. Dag na dag is dít dan jou stukkie lig om tree vir tree te vorder. Dan sal jy dit regkry om daardeur te kom.
LEES OOK: #Reisevanverlies: ‘Tien jaar ná my grootste storm sing ek weer ’n loflied’
“Daar is nie ’n maklike manier nie. Maar God …”
Ander mense se onsensitiewe aanmerkings het dit dikwels nog moeiliker gemaak. Daar was vrae soos of dit makliker is om ’n kind te verloor as jy hom of haar nog nie geken het nie. Marilize sê: “‘The loss of memories made and memories hoping to make’ bly seer. Maar God leer ’n mens genade teenoor ander mense. Want hulle sál vrae vra … en hulle besef nie hoe seer dit maak nie.”
‘Hoe kan U my gebruik?’
Marilize het later ’n punt bereik waar sy haarself afgevra het hoe sy dié verlies moet beskou. “Gaan ek bitterheid in my hart toelaat? Gaan ek woede toelaat? Of gaan ek kyk wat ek daarmee kan doen?
“Dis hier waar ek my steeds bevind.
“Ek moes my uitkyk verander en vra: ‘Wat kan ek vir U doen? Wat kan ek vir u koninkryk doen? Hoe kan U my gebruik?’”
Toe sy uitvind Internasionale Swangerskap- en Babaverliesdag is op 15 Oktober, en dit nogal die dag voor haar verjaardag, het sy geweet sy wil op ’n manier help.
“Destyds was daar ongeveer 60 stilgeboortes per dag in Suid-Afrika. Nie alle mammas kan ’n sielkundige of berader bekostig nie. Sommiges het nie ’n leraar of iemand anders met wie hulle kan praat nie. Daar is ook dié mammas wat die dag ná die baba se stilgeboorte weer moet gaan werk. Huwelike verbrokkel. Daar is net so baie seer …”
Marilize het haar huiswerk gedoen en besef daar is eintlik bloedweinig ondersteuning vir ouers ná ’n stilgeboorte. Vir haar 39ste verjaarsdag het haar vriende haar toe verras met Stillborn Still loved SA, Marilize se eie niewinsgewende organisasie.
“Die plan is om fondsinsamelings te loods sodat ouers berading kan bekostig en ’n pad na genesing kan stap,” verduidelik Marilize.
Vir haar voltooi die moontlikheid om ouers met hierdie groot seer te help ’n volsirkel nadat sy as jong meisie Jesaja 61:3 as profesie oor haar lewe ontvang het. Dié vers lui só in Die Boodskap-vertaling: “Vir hulle wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir vrolikheid. Hulle sal wees soos regop bome wat die Here geplant het om te wys hoe groot Hy is.”
Sy getuig: “Alles in dié vers laat my dink aan ouers wat treur en nie verstaan waarom hulle ’n kind verloor het nie.
“Ek is dankbaar dat ek op 23 tot bekering gekom het. Én vir hierdie vers wat my voorberei het op wat voorgelê het.”