DEUR CONETTE LE ROUX
“Dit voel asof iemand ’n dolk in jou hart steek. Asof jou hart in duisend stukkies verpletter word.”
Só probeer Karen Swanepoel haar seerkry beskryf nadat sy die skokkendste nuus denkbaar in ’n hospitaalbed in Welkom moes aanhoor. Daar het toe reeds tien dae verloop sedert haar man Sckalk en twee kleuters, Juan (2) en Jeanelle (5), oorlede is.
Die grusame motorongeluk wat Karen se hele gesin uitgewis het, het in Januarie 2012 plaasgevind. Die gesin was op pad terug ná ’n heerlike Desembervakansie. Vanweë haar ernstige beserings het die dokters haar dae lank in ’n geïnduseerde koma gehou.
Die impak van die tragedie het haar eers tydens haar gesin se roudiens getref, vertel dié dieetkundige. “Ek onthou ek het kort ná die ongeluk vir my ma gesê ek wens ek kan ’n jaar vooruit sien, want ek weet nie hoe ek hierdeur gaan kom nie. My ma het geantwoord: ‘My kind, ek weet ook nie hoe nie, maar jy sál hierdeur kom.’
“As ek vandag daarop terugkyk, besef ek dit was net genade van Bo. Dit was soos daardie teksvers: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Dit is regtig wat ek daagliks ervaar het ná die ongeluk. Die Here het my die krag gegee om dag na dag, uur na uur en tree vir tree die pad te stap.”
Karen sê sy is ook baie dankbaar vir ’n wonderlike ondersteuningsnetwerk, en vir haar ouers by wie sy ná die ongeluk in Mosselbaai gaan woon het.
Sy het wel baie lank geworstel met die vraag: “Waarom is my lewe gespaar?”
Die antwoord daarop, sê Karen, het later vir haar duidelik geword. Hoewel sy ’n introvert is, is dit vandag haar lewensdoel om haar storie van swaarkry na genesing met ander te deel, en sy doen dit as spreker en op talle ander maniere.
Sy het ook haar getuienis in haar boek Ek sal weer ’n loflied sing neergeskryf.
Dié titel is vir Karen baie spesiaal omdat Psalm 43:5 die teksvers op haar geliefdes se roudiens was. Dit lui só: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.”
Sy sê dié teksvers was ’n belofte wat God tydens die roudiens aan haar gemaak het, en uiteindelik waar gemaak het.
Intussen het Karen weer liefde gevind, en sy is in Desember 2015 met André getroud. Hulle het uit die staanspoor geweet hulle wil graag kinders hê, maar Karen was reeds ouer as 40. Karen en André het, ná twee jaar se probeer, besluit om in vitro-bevrugting op die proef te stel – maar nie meer as drie probeerslae nie. Die eerste twee was onsuksesvol, maar ná die derde in vitro-bevrugting was hulle swanger met ’n tweeling.
Vandag sê sy: “Reynard en Desiré is my dubbele reënboog ná die storm.”