Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Rolskaatsterapie ná ’n egskeiding

Toe Connie Stowers sowat drie jaar gelede die eerste keer ’n paar rolskaatse aangetrek het, was sy 40 kg swaarder as wat sy nou is, sy was 30 dae op die spreekwoordelike waterkar, en sy was pas geskei.

Sy woon in die staat Massachusetts in die VSA en werk as ’n eiendomsagent (The Real Eskater). Sy vertel: “Ek het dit tóé nie geweet nie, maar dit was die begin van ’n reis wat my lewe vir altyd sou verander.”

Vandag is sy steeds ’n geheelonthouer. En dié enkelma van ’n dogtertjie is báie entoesiasties oor rolskaats.

Op haar eerlike en dikwels komiese manier bemoedig Connie haar volgelinge op sosiale media deur haar eie verhaal van swaarkry en opstaan met hulle te deel.

’n Skermgreep van Connie toe sy pas begin skaats het. Foto: Instagram

As sy nou op alles terugkyk, sê sy, is daar een oomblik wat vir haar uitstaan: “Ek het in daardie stadium regtig gesukkel met my gewig, met spanning en met die nadraai van my egskeiding. Ek het daardie spesifieke aand twee opsies gehad: Ek kon na ’n kroeg toe gaan – iets wat ek gewoonlik gedoen het – óf ek kon iets nuuts probeer deur na ’n rolskaatsbaan toe te gaan.”

Sy het laasgenoemde gekies.

’n Onlangse skermgreep van Connie in aksie op die rolskaatsbaan. Foto: Instagram

“En wat begin het as ’n manier om die leë gevoel in my binneste tydens die moeilikste tyd van my lewe te probeer vul, het in ’n passie verander. Dit het my selfvertroue gegee, en my ’n totaal nuwe perspektief geleer.”

Sy verduidelik hoe rolskaats vir haar niks minder nie as terapie geword het: “Dit het my geleer om elke keer weer op te staan as ek geval het,” skryf sy op haar Instagramblad.

Connie se Instagram- en Facebookblad wemel van inspirerende video’s. Een van die reels (’n kort samevoeging van meer as een video) is van Connie wat, net nadat sy dié stokperdjie aangepak het, in ’n skrapse uitrusting op ’n rolskaatsbaan probeer skaats. By dié video het sy afbrekende kommentaar van ’n volger op die skerm aangebring, onder meer: “Jy is steeds vet.”

Maar die volgende video wys ’n heelwat skraler Connie wat op dieselfde rolskaatsbaan flink en glimlaggend toertjies doen. Hier was haar raad aan haar volgelinge: “’n Vriendelike herinnering daaraan dat dit nie jou werk is om ander tevrede te stel nie. Leef ’n lewe wat vir jóú eg voel.”

LEES OOK: VIDEO: Ma se leuse na dogtertjie se dood: ‘As sý kon uithou, kan ék dit doen’

Sy verduidelik dat sy haar lewe lank ’n partytjiedier was, “the life of the party”. En sy het aanvanklik gedink alkohol is haar probleem. “Maar ek het later besef alkohol is nie die probleem nie; dit was my oplossing. Dit was my oplossing vir al die trauma wat ek toe nog nie verwerk het nie, en vir die onsekerhede wat ek nie kon stilmaak nie. En vir die seerkry wat ek nooit wou erken nie.

“Wanneer ek ’n drankie geniet het, het ek nie na pret gesoek nie, maar na ontsnapping. Alkohol het die chaos stilgemaak, die pyn verdoof en my rede gegee om dié dele in myself wat aandag benodig, te ignoreer.”

Volgens Connie was dit glad nie maklik om alkohol se houvas te verbreek nie. Maar toe sy dit eers regkry, het sy ontdek wie sy regtig is en waarvan sy hou.

En so hou Connie vol om – al skaatsende – haar pad na genesing met ander te deel. “Jou plasing het net op die regte tyd gekom,” skryf een van Connie se talle volgelinge op sosiale media. “Dankie dat jy jou kwesbare oomblikke met ons deel.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF