Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Sê dit met ʼn Kerskaartjie

Sê dit met ʼn Kerskaartjie | Hoe sê jý “Geseënde Kersfees!”? Met WhatsApp, Facebook, SMS, e-pos, Instagram? Of is jy nog van dié soort wat ’n kaartjie stuur?

Hoe sê jý “Geseënde Kersfees!”? Met WhatsApp, Facebook, SMS, e-pos, Instagram? Of is jy nog van dié soort wat ’n kaartjie stuur?

Vir baie van ons bring ’n Kerskaartjie ’n soort kleintyd-nostalgie wat ons vir altyd sal koester. ’n Terugdink aan ’n destydse kaggelrak vol sulke kaartjies. Saam met Stille Nag en Kersfeespoeding ’n simbool van ’n vergange Kersfeestyd.

Maar, ja, intussen het die jare aangestap en tye het verander. Steeds wens ons mekaar ’n geseënde Kersfees toe – maar nou gebruik ons die sosiale media daarvoor. Dit is immers veel goedkoper, baie makliker, héélwat vinniger.

So maklik en gou soos met die druk van ’n knoppie kan jy sommer ’n klómp mense tegelykertyd bereik.

Maar vir baie sal dit net nooit dieselfde wees nie.

Die eerste Kerskaartjies

Die gebruik om Kerskaartjies te stuur het in 1843 in Brittanje begin, toe sir Henry Cole – op daardie tydstip ’n klerk in die nuutgestigte landwye poskantoor – aan ’n manier probeer dink het om die posdiens toegankliker en aanlokliker vir Jan Publiek te maak.

Toe het hy en ’n kunstenaarvriend, John Horsley, ’n soort pamflet ontwerp wat uit drie panele bestaan het: Die twee buitenste panele het ’n prentjie bevat van mense wat na behoeftiges omsien. En op die binneste paneel was ’n gesin wat ’n groot Kersmaal geniet. (Sommige mense het destyds hierdie prent erg gekritiseer omdat dit ’n kind uitgebeeld het wat wyn drink …)

Die boodskap op dié pamflet was eenvoudig: “A Merry Christmas and a Happy New Year to you.”

Dit was die eerste Kerskaartjie. Besware ten spyt, het Cole en Horsley ongeveer duisend hiervan laat druk.

Nooit sou Henry Cole en John Horsley kon voorsien presies hoe gewild hulle breinkind sou word nie.

Daardie jare kon slegs baie ryk mense dit bekostig om briewe te pos. Nuwe spoorlyne het dit egter heelwat goedkoper gemaak om posstukke te vervoer. Eensklaps kon Jan en alleman dit ook bekostig.

Toe kom die poskantoor, en Cole se blink idee, en ’n verbeterde drukpers – en vanaf 1860 kon Kerskaartjies in baie groter hoeveelhede as ooit versprei word.

Naas Kerstonele wat die krip en die stal uitbeeld, was prentjies van sneeu baie gewild. Dit het die Britte onder andere herinner aan 1836 se baie strawwe winter.

Dié Britse gebruik het spoedig ook die Atlantiese oseaan oorgesteek en in Amerika posgevat. In 1875 het die drukker Louis Prang begin om daar op groot skaal Kerskaartjies te druk. Sy eerste pogings het prente van blomme, plante en kinders gehad.

En in 1915 het John Hall en sy twee broers die bekende Hallmark Cards-­maatskappy gestig, wat vandag steeds een van die wêreld se grootste Kerskaartjie-verspreiders is.

Tuisgemaakte Kerskaartjies het vanaf 1910 gewild geword. Dié kaartjies was dikwels in ongewone vorms, en is met linte en blinkpapier versier. Omdat hulle so delikaat was, is hulle meestal per hand afgelewer.

Intussen het ’n poskantoorwerker in Denemarke besluit om spesiale plakkers en seëls te laat druk waarmee die koeverte wat Kerskaartjies bevat, toegeplak kon word. Hiermee wou hy geld vir liefdadigheid insamel.

Dit was ’n weghol-sukses: Meer as vier miljoen plakkers is in die eerste jaar verkoop. Dié gebruik het gou in ander Europese lande en die VSA posgevat, en vandag is daar steeds baie liefdadigheid­organisasies wat hulle eie plakkers (én Kerskaartjies) oor die Kerstyd laat druk as ’n manier om fondse in te samel.

Die skrif aan die muur?

Ja-nee, dinge het inderdaad verander. Soos handomkeer, sal baie wil sê. En nie noodwendig ten goede nie.

Feit is: Daar is ’n verskeidenheid redes waarom baie mense wegbeweeg het van die koop en aanstuur van tradisionele Kerskaartjies. Vir heelwat is dit bloot nóg ’n uitgawe, en boonop tydrowend.

Ander reken dat hulle deur Facebook en die ander sosiale media met sóveel mense in kontak is dat dit nie nodig is nie – en heeltemal onprakties! – om aan die einde van die jaar boonop ’n kaartjie met die jaar se nuus en foto’s aan te stuur.

Daarby het vele Suid-Afrikaners deesdae familie en vriende in die buiteland; vir hulle is die onkoste en die onsekere aflewering nie die stuur van handgeskrewe Kerskaartjies werd nie.

En, sê hulle, ’n hele pak Kerskaartjies – dikwels die goedkoopste moontlikheid – bevat almal dieselfde prentjie en bood­skap. En dit kan onpersoonlik voorkom, ’n meganiese pligpleging.

Stuur Kerswense só …

Jy kan steeds Kerswense aan jou mense stuur; deesdae is daar bloot meer moont­likhede. En klaarblyklik maak dit nie meer so baie saak op watter manier jy jou geliefdes ’n geseënde Kersfees toewens nie; die boodskap is altyd magtiger as die medium. Liefde en opregtheid maak van altyd af die meeste saak.

Jy kan seker maak dat jou Kerswense na jou geliefdes se hart toe gaan, en seker maak dat hulle weet dit kom ook uit jou hart.

Hoe om Kerswense te stuur:

  • Dink goed na oor dit wat jy met jou kaartjie, SMS of elektroniese boodskap wil bereik. Aan wie presies is dit gerig? Wat wil jy graag vir daardie persoon of gesin sê? Wat is jou hartewens vir hulle?
  • Beskou jou boodskap as ’n geleentheid om iets tot die ander een se hart te rig. Om iets van jou geloof en jou siening oor Kersfees met hulle te deel. Vra jou af: Dra die prentjie van vrolike ysbere wat op “Jingle Bells” se wysie dans jou bedoeling akkuraat oor?
  • Beplan dit as ’n verrassing vir ’n persoon met wie jy soms paaie kruis, en wat hierdie gebaar besonder baie sal waardeer. Wat van die karwag by die supermark? Die skoonmaker by die werk?
  • Moenie jou Kerskaartjie gebruik as ’n geleentheid om met jou gesin te spog of om oor die afgelope jaar se prestasies in jou huis uit te wei nie.

Maak en stuur ʼn bruikbare Kerskaartjie:

  • Ontwerp jou eie Kerskaartjies en druk dit op ’n magnetiese vel. Of lamineer dit en plak ’n klein magneet (beskikbaar by hardewarewinkels) agterop om só ’n persoonlike yskasmagneet te maak.
  • Verander ’n doodgewone skryfboek of dagboek in iets besonders deur jou Kerswense voorop te plak, dit te versier en met duursame plastiek oor te trek. Die ontvanger sal die hele jaar deur aan jou dink.
  • Maak ’n klein album met die hele gesin se wense, inspirerende Skrifgedeeltes en prentjies en stuur dit aan familie en vriende wat ver woon.
  • Maak jou Kerskaartjie in die vorm van ’n Kersboom-versiering. Die ontvanger daarvan kan dit dan uitstal of aan die Kersboom laat hang.
  • Ontwerp en druk jou Kerskaartjie op ’n plakker. Plak dit dan op ’n koffiebeker en maak die beker vol lekkers.
  • Vra jou kinders om te teken of te skryf wat Kersfees vir hulle beteken. Plaas dit op ’n stuk A4-grootte karton, en plak ’n klein almanak vir die nuwe jaar daarop.

Ander Kerskaartjie-feite

  • Ten spyte daarvan dat minder mense deesdae gedrukte Kerskaartjies pos, word daar steeds meer Kerskaartjies as enige ander soort kaartjie gepos.
  • Verreweg die meeste Kerskaartjies word deur vroue gekoop en gepos. Slegs sowat 15% van alle Kerskaartjies word deur mans gekoop.
  • ’n Getekende Kerskaartjie deur die kunstenaar William Egley – die man wat baie van Charles Dickens se boeke geïllustreer het – word in die Britse Museum uitgestal.
  • ’n Kerskaartjie in die VSA se Smithsonian Museum vertel die verhaal van een van die hartseerste Kerstye in die Amerikaanse geskiedenis: Dit is in November 1963 deur pres John F Kennedy en sy vrou Jackie onderteken, kort voor die sluipmoord op hom op die 22ste van daardie maand. Nie een van die kaartjies wat daardie jaar spesiaal deur die egpaar laat ontwerp is, is ooit uitgestuur nie.
  • Een van die heel eerste Kerskaartjies – die Henry Cole en John Horsley-produk – is op ’n veiling vir meer as R400 000 verkoop.
  • Die rekord vir die meeste Kerskaartjies wat een persoon in ’n jaar gestuur het, beloop ’n haas ongelooflike 62 824. Dit is amper genoeg om ’n rugbyveld vol te pak! Dié indrukwekkende prestasie is in 1975 deur ene Werner Erhard van San Francisco behaal.
  • Navorsing deur Hallmark het uitgewys dat die meeste mense Kerskaartjies stuur … omdat hulle dit self geniet om sulke kaartjies te ontvang.

e-Kerskaartjies vir die e-fundi

Daar is verskeie toepassings wat gebruik kan word om persoonlike boodskappe aan geliefdes reg oor die wêreld te stuur. Dit is goedkoop; heelwat daarvan is gratis. Baie van hierdie toepassings laat jou toe om jou eie boodskap of selfs ’n foto of twee by te sit. Gaan soek gerus op jou selfoon of die internet om te sien watter spesifieke toepassings beskikbaar is.

Lees hierdie artikel vir ’n verskeidenheid moontlikhede om e-kaartjies te maak.

Loer ook op LiG se webwerf vir inspirasie vir die gesin.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF