Susan Fourie (82) se lewenspad was sedert 14 Februarie 2023 vol opdraandes. Sy het op daardie dag die skoknuus gekry dat sy eierstokkanker het, reeds in fase 4.
“My eerste gedagte was: ‘Wat gaan van Louis word?’”
Haar man was toe 91 jaar oud, en swaksiende.
Die gelowige, begaafde Louis
Die nuus van sy vrou se kanker het aanvanklik nie tot Louis deurgedring nie. Susan sê: “Hy wou nie die werklikheid daarvan aanvaar nie.”
Twee dae later het Louis in hul meenthuis se sitkamer geval en sy been gebreek. Hulle is dokter toe en Louis het ’n “moonboot” gekry. Die volgende dag het hy weer geval en dié keer sy heup gebreek. Hy is dadelik in die Pinehaven-hospitaal in Krugersdorp opgeneem. Die ortopeed het op ’n heupvervanging besluit.
Hoewel die dokters aanvanklik huiwerig was om te opereer vanweë Louis se gevorderde ouderdom, is die operasie toe wel gedoen. Maar tydens die operasie het Louis ’n hartaanval gehad.
Susan vertel: “Die dokters kon wel nie met sekerheid sê of dit ’n hartaanval of dalk ’n beroerte was nie.” Hy moes nietemin dadelik ’n pasaangeër kry.
“Hy was ’n rukkie lank by sy volle positiewe, en toe het hy vir my en ons een seun Nico, wat langs sy bed was, gevra of hy vir ons kan bid. Daarop het hy ook vir die dokters gebid, en vir ons twee seuns wat in die buiteland woon.”
Maar enkele minute voordat die inplanting voltooi is, het Louis weer ’n hartaanval gehad en hy het gesterf.
Louis en Susan was 53 jaar lank getroud. Hy was ’n prokureur en ook ’n begaafde komponis. Hy het verskeie oratoria gekomponeer, onder meer ’n Lukaspassie en ’n Matteuspassie. Al twee dié werke is deur die Paasfeeskoor in Johannesburg uitgevoer. Die komponis het ook die koor gelei.
’n Berg om te klim, maar …
Die dag ná Louis se dood het daar nog ’n berg op Susan gewag: Sy moes met die eerste van 19 chemoterapie-behandelings begin.
“Dit was vir my soms onverstaanbaar, eintlik ook onverklaarbaar, dat my lewe in ’n kort tydjie soveel wendings opgelewer het. En hoe kalm ek gevoel het ten spyte daarvan. So baie dinge het gelyktydig gebeur: die tyding van die kanker, Louis se skielike dood, en die vertroosting wat ek deur dit alles ondervind het.
“Nadat ek met die chemoterapie begin het, het ek nie so siek geword soos talle ander mense nie. My skoolvriendin Hester was toe ook ’n chemoterapie-pasiënt en sy het bitterlik siek geword. Toe ek haar in daardie tyd besoek het, was ek geskok om te sien hoe maer en broos sy geword het.
“En ek het so goed gevoel! Ek bestuur selfs my motor, terwyl sy heeltemal te siek en te onseker was om selfs ’n entjie te gaan stap.
“Ek het soms skuldig gevoel omdat dit met my so goed gegaan het. Ek het trouens selfs gewonder of die chemoterapie dalk nie sy werk gedoen het nie. Tog was ek deurentyd dankbaar en ek het vasgehou aan die belofte wat ek aan God gemaak het: dat ek sy wil sal aanvaar.
“Ek het Hom ook gevra om my tog net vir ’n klein rukkie gesond te hou terwyl twee van my seuns hier was vir Louis se begrafnis – Louis junior, wat toe in Bali gewoon het, en Hannes, wat in Australië woon.
“Ek het ook die hele tyd vir myself gesê dis geen ‘ooreenkoms’ wat ek met die Here aangaan nie; ek glo dat ’n mens dit nié mag doen nie.
“Maar die Here het my versoek gehoor en ek was deurentyd so gesond dat ek saam met my kinders kon kuier totdat hulle vertrek het. Daarvoor het ek die Here geprys, en ek het weer vir Hom gesê ek aanvaar wat Hy ook al oor my pad sal laat kom. Ek sal nie kla nie. Ek het gereeld gesê: ‘Laat u wil geskied.’”
Die sterk vrou, en nóg ’n hoë berg
Wanneer vriende en familie Susan besoek, sê hulle dikwels hulle bewonder haar omdat sy so ’n sterk vrou is. Daarop reageer sy só: “Ek wil nie die indruk wek dat dit as gevolg van my ‘groot’ geloof en my eie krag is dat dit so goed gaan met my nie. Ek bly vir almal sê dat dit nie ek is nie, maar die Here alleen.”
Ná sewe maande se weeklikse chemoterapie is twee gewasse op haar eierstokke verwyder. Een was so groot soos ’n klein rugbybal. Nog ses chemoterapiesessies het ná die operasie gevolg.
In September 2023 het Susan die goeie nuus ontvang: Die kanker was in remissie.
Elke maand daarna is bloed getrek en ’n bloedtelling gedoen – en in Desember het die telling begin styg. In Januarie en Februarie was dit nog hoër.
Sy vertel: “Toe die nuus oor ’n tweede sarsie kanker kom, was ek ’n paar uur lank behoorlik platgeslaan. Maar die Here het weer eens ingetree. Ek het tuis gekom ná die slegte nuus, en daar kry ek ’n boodskap van Louis junior dat hy die Sondagoggend in Suid-Afrika land. En hy het nie eens geweet van die kankertelling nie!”
Sedert Maart vanjaar was chemoterapie weer haar voorland, en hierdie keer word die sogenaamde “rooiduiwel” maandeliks toegedien. Hoewel Susan bewus is van die baie ernstige newe-effekte van dié kragtige middel, is sy nogmaals gelukkig. Sy word soms moeg en kry soms hoofpyn, maar dit is al.
‘My siekte gaan oor God se genade’
Intussen het sy ’n klein boekie in haar boekrak ontdek – Genadig en Genesend, ’n preek deur ds Willem de Waal, jeugpredikant van die Gereformeerde Kerk Linden. Haar oorlede man het in 2011 ’n CD-kopie van dié preek aangevra en dit getranskribeer sodat die gedrukte weergawe aan siek mense versprei kon word.
En daar vind sy toe die antwoord op al haar brandende vrae. Soos dié woorde in Deuteronomium 32:39: “Besef dit tog; Ek is die Here. Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe, Ek maak siek en Ek maak gesond, sê die Here.”
Susan sê: “Dit is dus nie waar dat die duiwel agter elke siekte sit nie. Wat wel waar is, is dat siekte deel is van die gebrokenheid ná die sondeval. Dit is die werklikheid waarin ons lewe.”
Sy onthou ook die Johannesverhaal oor Jesus wat die man gesond gemaak het wat blind gebore is. Die omstanders wou weet of die man blind is vanweë sy sonde of as gevolg van sy ouers s’n. Waarop Jesus geantwoord het: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word” (Joh 9:3).
“Toe ek daardie woorde lees,” vertel Susan, “het ek besef dat God siekte kan gebruik om Hom te verheerlik, sodat iemand anders sy krag in jou lewe kan sien.
“My siekte gaan dus nie noodwendig oor my genesing nie, maar oor God. Hy het mag oor siekte en dood. Hy alleen besluit oor die verloop daarvan. Daarom is dit so noodsaaklik dat almal moet weet my welstand gaan nie oor myself nie, maar oor God se genade. Hulle moet kennis neem van wat God deur my sê. Ek dank Hom dat Hy my as ’n getuie gebruik.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.