Tortilla-wiggies en quesadillas
DEUR HELEEN MEYER; FOTO\’S: ADEL FERREIRA
Lewer 6-8 porsies
Jy benodig
- 500 ml (200 g) gerasperde mozzarellakaas • 180 ml mieliepitte (vars of bevrore) • 1-2 sprietuie, in dun skyfies gesny • 45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak • 6 sagte volkoring- of multisaad-tortillas (ongeveer 20 cm in deursnee) • 200 g klein tamaties, in dun skyfies gesny
- Nog vars koljanderblare vir garnering
Jy maak só
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier of foelie uit en smeer dit liggies met olie.
- Meng die kaas, mieliepitte, sprietuie en gekapte koljander saam en geur dit na smaak.
- Tortilla-wiggies: Sny 2 van die tortillas in 8 wiggies, soos ’n pizza, en hou die res heel.
- Pak die wiggies op die bakplaat en skep die helfte van die kaasmengsel met van die tamaties eweredig bo-oor.
- Skakel die oondrooster se element aan en rooster dit 10 minute lank of totdat die kaas gesmelt het.
- Quesadillas: Verhit intussen ’n groot braaipan oor matige hitte. Verdeel die orige kaasmengsel en tamatieskyfies tussen twee van die heel tortillas. Sit ’n bykomende tortilla bo-op elkeen en druk dit liggies vas.
- Plaas een quesadilla op ’n slag in die pan. Rooster dit aan die een kant tot goudbruin en totdat die kaas begin smelt. Draai dit versigtig om met twee groot eierspane, en rooster die ander kant tot goudbruin.
- Sny die quesadillas in wiggies en sit dit dadelik warm voor, saam met die warm tortilla-wiggies. Garneer dit met vars koljanderblare.
Wenk
- Indien jy van vars brandrissies of jalapeños hou, kap dit fyn en roer dit by die kaasmengsel, of sit dit voor saam met die warm wiggies.
Guacamole
Dit lewer ongeveer 250 ml
Roer die volgende bestanddele saam: 2 ryp avokado’s, fyngedruk; 10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie; 15 ml (1 e) suurlemoen- of lemmetjiesap; ¼ rooi soetrissie, ontpit en in klein blokkies gesny; 1 klein groen brandrissie, ontpit en gekap, of ’n knippie rooipeper; 2 sprietuie, fyngekap; 45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare. Geur die mengsel met 10 ml (2 t) gemaalde komyn, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
Wenk
As dit moeilik is om ryp avokado’s in die hande te kry, kan jy voorafbereide guacamole by die supermark koop. Kies dan een met min ander geure, en geur dit self met die res van die bestanddele in dié guacamole-resep.
Vrugte-salsa
Lewer 6-8 porsies
Meng die volgende bestanddele saam: ½ klein pynappel of papaja, in blokkies gesny; ½ rooi soetrissie, ontpit en in klein blokkies gesny; 250 ml (1 k) fyngekerfde rooi- of witkool; ’n hand vol kruisementblare, grofgekap; 1-2 gepiekelde jalapeños, gekap. Geur dit met ’n groot skeut lemmetjie- of suurlemoensap, en olyfolie na smaak.
Bone-salsa
Lewer 6-8 porsies
Meng die volgende bestanddele saam: 1 x 410 g-blik swartbone, gedreineer; 125 ml (½ k) mieliepitte; ¼ komkommer, in blokkies gesny; 5 ml (1 t) gemaalde komyn; ’n hand vol koljanderblare, grofgeskeur. Geur dit met ’n groot skeut lemmetjie- of suurlemoensap, en met olyfolie na smaak.
Wenk
Voeg fyngekapte brandrissie of jalapeños by die mengsel, as jy wil.
Groen kruiesous
Lewer ongeveer 200 ml
Plaas dié bestanddele in ’n mengbak en verpulp dit met ’n stokmenger of in ’n voedselverwerker tot ’n gladde mengsel: 60 g vars koljanderblare en -stingels, grofgeskeur; 1-2 klein rooi brandrissies, ontpit en gekap; 1 knoffelhuisie, gekneus; 15 ml (1 e) witwynasyn; 15 ml (1 e) suurlemoensap; 90 ml (6 e) avokado- of olyfolie.
Chilli con pollo (Hoender met Meksikaanse geure)
Dié resep is aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 4-6 porsies
Jy benodig
- 20 ml (4 t) olyfolie • 4-6 hoenderborsies aan die been, gehalveer (sien wenke hieronder) • 2 middelslag uie, gekap • 2 knoffelhuisies, fyngedruk • 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny • 1-2 klein rooi brandrissies, gekap (sien wenke hieronder) • 5-10 ml (1-2 t) rooipeper, of na smaak • 5 ml (1 t) paprika • 10 ml (2 t) gemaalde komyn • 10 ml (2 t) gemaalde koljander • 125 ml (½ k) lemoensap • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties • 50 ml tamatiepasta • 30 ml (2 e) gekapte vars origanum • 2 lourierblare • 1-2 heel steranys • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 1 x 410 g-blik rooi nierboontjies, gedreineer
Jy maak só
- Verhit die helfte van die olie in ’n groot kastrol en oor matige hitte, en verbruin die hoenderborsies aan albei kante. Skep dit uit en hou dit eenkant.
- Verhit die orige olie en soteer die uie, knoffel en soetrissie daarin totdat dit sag is. Roer die brandrissies en speserye by en soteer dit totdat dit aromaties is.
- Voeg die hoenderborsies, lemoensap, tamaties, tamatiepasta, origanum, lourierblare en steranys by die groente en roer alles goed deur. Verhit dit net tot kookpunt en sit dan die deksel op.
- Verlaag die hitte en laat prut dit 20 minute lank, of totdat die hoender net gaar is – maar beslis nie droog nie!
- Skep die hoender uit en laat dit effens afkoel. Ontbeen en ontvel die hoender en pluis die vleis in repies. Plaas dit weer terug in die warm sous.
- Geur dit na smaak en roer die boontjies by. Laat prut dit nog 10 minute lank met die deksel op, totdat dit deurwarm is. Geur dit verder, indien nodig.
- Sit die hoender met warm tortillas, vars koljanderblare, ’n salsa van jou keuse (sien die resepte hiernaas), gesnyde vars tamatie, avokadoskyfies, suurroom of ongegeurde jogurt en suurlemoenwiggies voor.
Wenke
- Sny heel hoenderborsies aan die been met ’n skerp kombuisskêr in die helfte, dan word dit vinniger gaar.
- Skep die hoendermengsel op ’n laag tortilla- of mielieskyfies. Strooi gerasperde kaas bo-oor en laat smelt die kaas onder ’n warm oondrooster-element.
- Die hoendermengsel is selfs geuriger as dit die vorige dag berei word.
- Daar is ’n verskeidenheid brandrissie-variëteite beskikbaar. Brandrissies kan ontpit word om die smaak minder skerp te maak. Of plaas dit heel in die sous en haal dit uit voordat die vleis voorgesit word. Dit sal dan die vleis geur, maar nie so skerp laat smaak nie.