Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Skooljuffrou raak harte aan: ‘Koester die verlede, maar vertroetel elke nuwe oomblik’

’n Ruk gelede het ek, ná ’n rondhardloop-middag, deur ons Bolandse dorp gery. Ek het so skramsweg die winkels raakgesien en aan Mr. VIDEO teruggedink. Dit was die plek, nie so lank gelede nie, waar jy video’s en later DVD’s kon uitneem om by die huis te gaan kyk.

Die volgende prentjie uit my verlede het by my kom aanmeld: Vrydag, uiteindelik! Daar is maats wat kom oorslaap en ons gaan video’s kyk. Ek en my broer en susters wonder reeds die afgelope klompie dae oor watter video ons moet kyk. Iets wat vir alle ouderdomme geskik sal wees.

My ma sal moeite doen om die aandete iets besonders te maak. Dit sal bederfkos wees, naweekkos, soos ons dit genoem het.

Vroegaand stap die hele gesin, met die maats, by Mr. VIDEO in. Daar is reëls, weet ons, onder meer:

  • Slegs een DVD word uitgeneem.
  • Almal moet die video goedkeur, al moet ons daaroor stem.
  • Jy kýk nie eens na die rakke in Mr. VIDEO waar die video’s uitgestal word wat nie geskik sal wees nie.
  • Daar sal geen R2 wees vir die Jawbreaker-masjien nie, en ook niks vir die buitensporige duur mikrogolf-springmielies by die toonbank nie. By die huis wag tuisgemaakte springmielies.

In die winkel kies elkeen ’n eie koers. Die dae lange beplanning is vir eers vergete. Die missie? Die perfekte video!

Haal die ‘witgoud’ uit …

Ons ken die roetine: Wanneer jy ’n ander gesin gewaar wat die winkel inkom, word daar goed gekyk na die koers wat hulle inslaan. Ons maak seker dat elkeen stelling inneem by ’n bepaalde rak; ons “beskerm” daardie video’s wat ons oorweeg om uit te neem maar nog nie finaal op besluit het nie.  

Ons hou die inkommers stip dop. Hulle mág ons nie voorspring nie. Wanneer iemand te na aan een van ons moontlike keuses kom, haal ons solank die “witgoud” uit en hou dit styf vas. Dis nou die blokkie onder elke DVD-kassie, dit wat jy by die toonbank ingee sodat jy die gesogte DVD kan kry.

LEES OOK: Jesus se uitnodiging na nader, ligter, minder

Later staan jy met soveel blokkies in jou hand dat die tannie by die toonbank vir jou begin kyk.

Lekkertes en lesse

My oudste suster het altyd reguit op die twee-vir-die-prys-van-een-rak afgepyl. Maar daarvoor moes Ma en Pa se arm eers gedraai word. Saterdag is daar sport op die TV en dan moes ons klaar gekyk wees; buitendien moes die video Saterdagoggend elfuur terug wees by Mr. VIDEO.

Die stryery oor die DVD se terugbesorg was Saterdagoggend se probleem. O, en as jy daardie Saterdag steeds sakgeld oorgehad het, kon jy darem ’n JC en ’n paar Chappies koop. Troos vir die voete wat op die teer brand wanneer jy op pad was om die video terug te gee.

Maar Vrydagaand se grootste bekommernis het deurentyd geknaag: Sê nou ons kom by die huis en die DVD is gekrap? Ons hoop en bid maar vir die beste …

Dié vrees was ook die rede waarom ons gewoonlik gereken het twee-vir-die-prys-van-een sou beter wees. As een beskadig is, is daar ’n plan B.

Op so ’n Vrydagaand is daar ’n kermisbed opgemaak. Dié wat wou lê, kon tot die volgende oggend bly lê. Daar was in elk geval genoeg springmielies en Oros. Laasgenoemde is ekstra soet aangemaak, omdat ons kon!

Deur al dié dinge het ons stiptelikheid aangeleer, en dissipline en reëls, sonder dat ons dit besef het.

Nostalgie en nuwe ervarings

Dis nostalgie soos dié wat ’n mens se hart warm maak. Soms “verdrink” jy behoorlik in daardie herinneringe wat jou laat glimlag, maar wat ook vir ’n diep en dalk hartseer sug sorg.

Ek is so jammer vir kinders wat nie sulke Vrydagaande ken nie. Hulle weet ook niks van die draairoomys waarvoor jy skemeraand kafee toe moes loop nie, of hoe om paddavissies by ons skool se riviertjie te vang nie. Die moerbeiboom se blare op die Pen Basson-krieketveld kan nie meer gepluk word nie; nou is daar ’n hek en ’n wag wat jou sal voorkeer.

Ons moet maar aanvaar dat dit ons taak as ouer en opvoeder is om nuwe ervarings te skep en dan daarop voort te bou.

Ja, ons kan die goeie ou dae koester, maar ons moet ook elke nuwe dag aangryp en gebruik. Ons moet nuwe herinnerings skep, dié soort waarvoor jy jou moet oopmaak, soortgelyk aan daardie blink DVD wanneer jy die kassie tuis oopgemaak het.

Want daar kom ’n tyd dat ons ons blokkies moet ingee, daardie witgoud van ons lewensverhaal wat ons saam met ons dra.

En ons moet onthou dat as ons keuses nie uitwerk soos ons wil hê dit moet uitwerk nie, as die video vashaak omdat daar ’n nare krapmerk is, daar altyd ’n plan B is.

Daar is immers vele rakke waaruit jy kan kies. Kies dié keer reg, of dit nou ’n komedie of ’n riller of ’n romantiese storie of ’n speurverhaal is, of dalk selfs ’n “to be continued”-reeks.

Kies tog net reg!

  • Ciska Marais is ’n graad vier-onderwyser aan Hugenote Laerskool in Wellington. Sy het dié stuk geskryf en dit toe in die personeelkamer voorgelees. Almal wat dit gehoor het, is diep daardeur geraak.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►