Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Surrogaat vir kleintydmaatjie: ‘Dis beter om te gee as om te ontvang,’ en ander kosbare lesse

Ek en Tania was van kleins af maats. Ons was bure en het op aangrensende plase naby Wolseley grootgeword.

Maar toe ons hoërskool toe is, het ons paaie uiteengeloop. Ek het later verneem dat Tania se eerste swangerskap vol uitdagings was. Met haar dogtertjie Jean se geboorte was daar komplikasies en slegs ’n noodhisterektomie kon haar lewe red.

Anmar en Tania was van kleins af maats. “Ons was bure en het op aangrensende plase naby Wolseley grootgeword,” vertel Anmar. Hier is ’n foto van dié kleintydmaatjies langs mekaar. Van links is Tania Engels, Anmar van Wyk, Ezelle Koegelenberg, Louilla Hartmann (Anmar se sussie) en Jomare Koegelenberg. Foto verskaf

Twee jaar gelede loop Tania en my sussie Louilla mekaar raak. Hul gesprek loop wye draaie en Tania vertel hoe sy en haar man Arnold ’n surrogaatma soek wat hul baba sal dra.

Louilla het Tania aangemoedig om met my in aanraking te kom omdat ek nog altyd mense wou help deur ’n surrogaatma vir hulle te wees.

Maar toe ek Tania se WhatsApp-boodskap kry, was ek eensklaps skepties. Ek was 36, ses jaar ouer as toe my jongste kind gebore is. En daar was die vraag of my man Louis sou instem. Toe ek vroeër surrogaatskap oorweeg het, was hy nie besonder entoesiasties nie.

Ek het begin bid vir wysheid. Ek het my afgevra: Sal ons kinders oukei wees hiermee? Sal hulle dit verstaan? L’Mar, ons seun, was toe agt en ons dogter Vera ses.

Louis het wel ingestem, deels omdat Tania-hulle nie vreemdelinge was nie. Louis is ’n man van min woorde, en hy was bekommerd dat ek teleurgesteld sou wees as die proses nie suksesvol is nie.

’n Uitgerekte, duur proses

Kort hierna het ek Tania en Arnold by ’n koffiewinkel ontmoet. Dit het nogal ongemaklik gevoel. En dit was, vreemd genoeg, stresvol.

Ek dink dikwels daaraan hoe moeilik dit vir Tania en Arnold moes gewees het om so ’n groot ding vir iemand anders te vra. Sê nou die antwoord was ’n groot “nee!”?

Gelukkig het ons onderskeie families bankvas agter ons gestaan. Hulle was opgewonde, maar almal het besef ’n suksesvolle swangerskap was geen uitgemaakte saak nie.

Ek het nooit gedink surrogaatskap is so ’n uitgerekte proses nie. Daar was herhaaldelike doktersbesoeke en bloedtoetse. Daar was sielkundige evaluerings. Én kontrakte wat deur ’n prokureur opgestel is om alles reg en wettig te kry. So ’n proses, het ek vasgestel, kos die biologiese ouers ’n aardige bedrag.

Eers ’n jaar ná hierdie reëlings en prosedures het ons met die werklike proses begin. Ek en Tania het al twee hormoonbehandeling ondergaan. My liggaam moes voorberei word vir swangerskap; Tania s’n moes gereedgemaak word vir die oes van haar eierselle. Die pille en die inspuitings het ons olik gemaak, maar ons was positief. Ons het geweet ons moes deurdruk.

Toe breek die groot dag by die Aevitas-fertiliteitskliniek in Kaapstad aan. Tania se eierselle en Arnold se spermselle is gewerf, en toe het 24 belangrike ure verloop. Sou die eierselletjies dit maak?

Die volgende oggend het ons die nuus gekry: Niks het gegroei nie.

Ons het nog 24 uur gewag, maar die antwoord was steeds negatief. Ons was platgeslaan, verslae – en dadelik het die duiwel begin nesmaak in my kop. Ek het begin twyfel. Waarom? Wat is fout? Ons doen dan alles reg; hoekom laat God dit toe?

Die dokters kon nie verduidelik waarom dit gebeur het nie en hulle het alle hormoonbehandeling gestaak. My hart het gebreek vir Tania. Ek kon sien hoe hartseer sy was.

“Die res van my lewe gaan ek hierdie pragtige dogtertjie sien grootword met die wete dat ek nie vir Tania-hulle gekies het nie, maar dat God mý gekies het om deel van hierdie storie van liefde, hoop, vertroue, vriendskap en genade te wees,” sê Anmar (links). Tania staan aan die regterkant. Foto verskaf

Nege weke …

Maar kort hierna is die hormoonbehandeling hervat. Optimisme en skeptisisme het mekaar afgewissel. Ná die “oesdag” moes ons weer 24 lang ure wag.

En dié keer was die perfekte embrio’s daar!

Eensklaps het almal weer hoop gehad. En ek het skuldig gevoel. Ek moes aan God se goedheid vasgehou het!

Ná die embrio-inplasing in my baarmoeder was daar ’n 10 dae-wagtydperk. Was die inplanting suksesvol?

Uiteindelik het die wonderlike nuus gekom: Ek was swanger!

Almal was oorstelp van blydskap en ons almal het saam feesgevier.

Ons vreugde was egter van korte duur. Op nege weke het ek die kosbare baba verloor. 

Ek was moedeloos, hartseer. En ek was bekommerd, want ek het vroeër twee babas op nege weke verloor, enetjie voor elk van ons kinders.

Ek het opnuut getwyfel: Is ek régtig die een wat hulle kon help? En sê nou dit gebeur weer? Hoeveel kon Tania en Arnold nóg verduur? Wanneer gee hulle moed op?

Hoekom verloor ek drie babatjies op nege weke? Wat is fout met my?

Toe daal daar ’n groot kalmte oor my neer. Die Here het my die versekering gegee dat ons net geduldig moet wees. Dat dinge op sý tyd gebeur en nie op ons tyd nie.

Net daar het ek besluit: Voortaan sal ek nie weer negatiewe gedagtes by my toelaat nie. Ek het vir Tania gevra of hulle weer wou probeer. Ons almal besluit: Ons probeer so gou moontlik weer.

’n Paar weke later volg ’n verdere inplanting.

En ek het weer swanger geraak. Ons was in die wolke.

Maar toe vir daardie nege weke …

Op nege weke het ek begin bloei, maar ek het aktief teen enige negatiewe gedagtes gekies.

Tydens ’n noodafspraak by die fertiliteitskliniek hoor ons ’n perfekte hartklop, én ons kry die nuus dat die baba fluks groei. Ons was verstom oor God se goedheid en guns, en die trane het behoorlik geloop.

Jean hou met trots haar babasussie Yuke vas. Foto verskaf

Alles het ’n werklikheid geword

Teen Week 16 kon ons die hormoonbehandeling staak en ek kon my aanmeld by my ginekoloog by Panorama Mediclinic in Kaapstad. Ek het begin gesonder voel; die naarheid was minder erg.

My bababoepie het begin wys en alles het ’n werklikheid geword. Wanneer Tania en Arnold my vir die dokterbesoeke kom oplaai het, was die tweejarige Jean saam met hulle. En sy was vreeslik opgewonde as sy sien kleinsus Yuke waai vir haar “op die dokter se TV”.

Ons het die weke afgetel en elke mylpaal gevier. Ons het saam gelag en saam gehuil, en selfs “40 days” gevier voor Yuke se koms.

Yuke se geboorte was ’n báie spesiale ondervinding. Ek kan daardie emosies nie behoorlik beskryf nie en dit nie met énigiets vergelyk nie.

Tania-hulle se droom om nog ’n babatjie te hê is uiteindelik bewaarheid.

Tydens dié hele proses het ek so baie geleer. Veral ook om nooit aan God se genade en liefde te twyfel nie.

Ek het geleer dis soveel beter om te gee as om te ontvang. En om nooit te oordeel nie, want elke mens het ’n eie storie en loop ’n eie lewenspad. Sommige het seer, en baie het ’n behoefte aan hoop.

Sal ek dit weer doen? Beslis. Maar vir eers wil ek my tyd en aandag aan ons tienjarige L’Mar en agtjarige Vera gee.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF