Hierdie artikel kan sensitiewe lesers ontstel.
“Ek het nog altyd die behoefte gehad om iets vir die Here te doen, iets aan Hom terug te gee vir wat Hy al baie jare lank, en nou nog, in my lewe doen.”
Só sê Hanna de Kock. Sy woon in Pretoria.
En dié kapelaan doen dit inderdaad: Sy gee terug waar ander eerder verbyhou. Sy ondersteun die familie van geweldslagoffers – selfdood, ongelukke en ander traumatiese gebeurtenisse.
“My werk by EMS Chaplaincy and Trauma Support behels dat ek eerste ontbied word wanneer iets traumaties gebeur, en dit neem my na tonele waarheen ander mense nie sommer sal gaan nie. Ons dien as die skakel tussen die publiek aan die een kant, en die polisie en mediese dienste en brandweer aan die ander kant.”
LEES OOK: God se opdrag: ‘Vergewe jou seuntjie se moordenaar – en vertel jou storie’
Hanna vertel dat om as kapelaan te kwalifiseer, jy opleiding moet ondergaan wat baie streng etiese kodes en reëls insluit. En jy moet ’n Christen wees. “Alhoewel ons enigiemand bedien, moet ’n kapelaan in die drie-enige God glo. Jy kan in elk geval nie hierdie werk doen sonder God se beskerming en bystand nie.”
‘My uniform – soos God se wapenrusting’
Hanna vergelyk die uniform wat sy moet dra met God se wapenrusting, soos Paulus dit in Efesiërs 6 beskryf. “Wanneer ek my uniform aantrek, voel ek in die gees hoe God my die gesag, beskerming en krag gee om by ’n toneel in te stap en te doen wat ek moet doen.”
Sy beklemtoon egter ook die noodsaak om te kan onttrek en self geestelik en emosioneel te herstel ná die hantering van ’n bepaalde situasie.
Hanna dink terug aan ’n motorfietsongeluk in 2021, wat haar altyd sal bybly. Sy vertel: “Ek het die aand in die bed geklim toe daar eensklaps ’n kennisgewing op ons WhatsApp-groep verskyn: Iemand moes kom help by ’n toneel waar die pa van ’n jong gesin in ’n motorfietsongeluk betrokke was.”
Die ma en dogtertjie (dié was maar ses jaar oud) was tuis; die ongeluk het skaars ’n kilometer van hul huis af plaasgevind. “My werk was om die gesin by te staan sodat hulle hulle nie na die ongelukstoneel haas nie. Die man het teen ’n hoë spoed in ’n bakkie se agterkant vasgejaag. Die impak het sy liggaam uitmekaar geruk.

“Ek het by die slagoffer se huis aangekom en sy vrou bygestaan terwyl ander familielede begin opdaag het. Die dogtertjie het nog geslaap.”
Hanna vertel hoe slegs die motorfiets se enjin later deur die insleepdienste by die huis afgelewer is nadat die toneel opgeruim is.
“Soms is dit bloot jou teenwoordigheid wat nodig is om die naasbestaandes te ondersteun, deurdat jy bloot by hulle sit in hul verslaentheid. Só bring jy die Here se liefde in daardie situasie in. Jy sê nie baie nie; jy is daar sodat daardie arme mense nie alleen moet wees nie, en nie alleen die vrees en onsekerheid moet deurmaak nie. Indien hulle vrae het, antwoord jy bloot wat jy in daardie stadium weet.”
Hanna het ’n pad met daardie betrokke gesin gestap – van die uitkenning van die liggaam, wat in hierdie geval weer aanmekaargewerk moes word, tot by die begrafnis. Hulle het spesifiek gevra dat sy daar teenwoordig moes wees.
“Uit die hartseer het ook verlossing gekom, letterlik so, want die familie het tot bekering gekom. Ek en my man het die voorreg gehad om hulle te doop. Dis wonderlik hoe God ’n baie slegte situasie kan gebruik om so ’n wonderlike ommekeer te bewerkstellig.”
Dan was daar die keer toe Hanna ’n pasiënt in ’n staatshospitaal moes besoek. (EMS besoek ook hospitaalpasiënte.) “Hy het net ’n halwe lyf gehad. Die onderste deel van sy lyf het septies geword ná ’n skietwond wat hy tydens ’n plaasaanval opgedoen het en dit moes geamputeer word.
“Hy is later oorlede. Dit het my ontstel toe ek weer eens besef dat mense liefs nie in sommige hospitale behandel moet word nie. Die gebrekkige higiëne is skokkend.”
Elke mens verwerk trauma op ’n eiesoortige manier. Hanna vertel van die dag toe ’n tienerdogter haar opgehang het en die pa foto’s van haar liggaam geneem en dit vir ander mense gewys het. “Daardie pa se optrede het my ontsettend geskok. Maar jy moet onthou dat mense vreemd optree wanneer hulle so ’n traumatiese gebeurtenis deurmaak. Hulle dink nie rasioneel nie.”
‘Die monster in my kinderjare’
Hanna het traumatiese kinderjare beleef. Alhoewel haar pa ’n goeie mens was, was hy ook ’n alkoholis. Wanneer hy gedrink het, het hy in ’n monster verander. Haar ma was bedlêend en was afhanklik van pynmedikasie.
“Ek moes dikwels vir my lewe veg. My pa sou my slaan en die klere van my lyf af ruk wanneer hy onder die invloed van drank was. Terwyl my vriende ’n normale lewe gelei het, moes ek deurentyd in vrees leef.
“Maar ek het reeds van jongs af die Here se stem gehoor. Daar was die aand, iewers in Desember 1991 op Ellisras, en ek was nog op skool. My pa het gedrink en het my beveel om al die deure in die huis te sluit. Ek het gehoor hoe God vir my sê om die deure toe te maak maar dit nie te sluit nie.
“Nie lank daarna nie het my pa met ’n vuurwapen te voorskyn gekom en gesê dat hy ons almal gaan doodskiet. Hy het ook ’n mes by hom gehad en dit na my gegooi. Ek het net gehardloop, die deur oopgepluk en na die bure oorkant die straat gevlug.”
Toe het sy die eerste geweerskoot gehoor, en daarna ’n tweede. Die bure het die polisie gebel. “Nadat ek die skote gehoor het en gewag het dat die polisie moet opdaag, het ek Psalm 23 opgesê, oor en oor.”
Die skote is gelukkig in die huis se dak in gevuur. Die polisie het Hanna se pa gearresteer. Hanna is in ’n plek van veiligheid geplaas en is later kinderhuis toe omdat sy nie meer in die huis kon bly nie.
“Maar ek dink dat alles wat ek destyds moes deurmaak my geestelik en emosioneel voorberei het op wat ek vandag doen. Ek kan tot die beskikking wees van mense wat deur trauma gaan omdat ek self daardeur is. En die Here kan my gebruik om sy hande en voete te wees.
“Ek vertrou die Here om my nog lank te spaar sodat ek kan voortgaan met die werk wat ek doen.”
- EMS Chaplaincy and Trauma Support maak staat op die publiek se finansiële ondersteuning. As jy iets wil skenk of meer wil uitvind, stuur ‘n e-pos na ems.chaplaincy@gmail.com of support@emschaplaincy.org. Besoek ook Hanna se webwerf by www.hdkcounselling.co.za.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















