In ons klein gemeente se diens op ’n Sondag is daar altyd ruimte vir ’n gebedsversoek of ’n getuienis.
Dit is veral tannie Susan se stories wat my nog altyd diep geraak het, en een Sondag ná kerk val die woorde sommer spontaan uit my hart: “Ek wil Tannie se stories met meer mense deel.”
Toe ek vir haar sê dat ek voortaan vir LiG gaan skryf, sien sy dadelik ’n raakpunt: “Elise Bosch se dogter het in haar huldeblyk gesê haar ma het geblom in ons almal se stories. Stories van hoop en hartseer, liefde en lof, stories van God se wonderwerke.” Toe voeg tannie Susan by: “Ek wil jou ’n storie vertel van wyle tannie Marie. Elise was ook daar …”
Haar vertelling het my laat voel of ek ook vir tannie Marie en haar man Johan geken het. Hulle het nooit kinders gehad nie, was reeds pensioenarisse, en het meer as genoeg gehad om sonder kommer te kon leef. Toe sterf oom Johan en tannie Marie erf alles.
LEES OOK: 21 Lewenslesse | God is nie die storm nie; Hy is die Een wat met ons saamloop
’n Jaar later ontmoet sy oom Piet, ’n antwoord op haar eensaamheid. Maar kort ná hulle troudag besef sy dat hy geen respek vir haar of haar besittings het nie. Hy het alles uitgedrink.
Die hartseerste is dat hy tannie Marie ook leer drink het – totdat die bank alles kom vat het ten einde hul skuld te delg. Hulle het op straat beland. Oom Piet het nuwe weivelde gaan soek. En tannie Marie was weer eens alleen.
Een aand is ’n jong polisieman op patrollie in Hillbrow. In sy voertuig se hoofligte sien hy ’n gryskopvrou wat roerloos op die sypaadjie lê. Hy klim uit sy voertuig en tel die dronk, vuil en moeë lyf op.
Toe kontak hy tannie Susan wat in daardie stadium as maatskaplike werker by die Toevlug Dienssentrum in Crosby gewerk het. Sy het hom na MES-aksie verwys waar Elise Bosch en haar helpers tannie Marie gewas, gevoed en gehuisves het.
’n Week later het hulle haar begelei om Jesus Christus as haar Verlosser te aanvaar. Sy was 80 jaar oud.
Daardie Donderdagoggend het Elise vir tannie Susan gebel om te hoor of Toevlug Dienssentrum dalk die pad verder met tannie Marie sou kon stap.
Op Donderdae was daar altyd ’n gaskunstenaar wat die seniors vermaak het terwyl hulle eet. Tannie Susan het iemand gestuur om tannie Marie by die Irene-kerk te gaan haal, en hulle het haar by die eregaste, die boereorkes, laat sit.
Terwyl die orkes gespeel het, het tannie Susan gesien hoe tannie Marie met haar knobbelvingers op die tafel tokkel.
“Kan tannie klavier speel?” het sy gevra.
“Vroeër jare, ja,” het die antwoord gekom. “Ek het in so ’n orkes gespeel, maar met die jare se verniel het ek my talent verloor.”
“Ek is seker tannie kan nog speel,” het tannie Susan aangedring.
“Probeer net, groot asseblief!”
Die orkesleier het dadelik ingestem en hulle het tannie Marie tot op die verhogie gehelp en toe tot voor die klavier. Sy het met ’n geboë hoof voor die swart en wit klawers gesit, maar haar vingers wou niks weet nie.
Die inwoners het toe reeds tannie Susan se teken geken, en toe sy in die stilte vir hulle wys, het hulle almal vir tannie Marie begin bid. Maar sy het net so bly sit, sewe minute lank.
En toe begin die note val. Eers hortend en sukkelend, totdat dit begin vloei en ritme kry. Een ná die ander wysie het gevolg. Tot by die laaste een – “Amazing Grace”.
Almal het opgestaan en staande gejuig oor God se genade, onbeskryflik groot.
Toe sy klaar was, het tannie Marie eers ’n oomblik by die klavier bly staan. En toe het sy gesê: “Thank you, Lord. Today I got my dignity back.”
Daar was nie ’n droë oog in daardie saal nie.
Drie dae later is tannie Marie weg. Huis toe.
* Lindie Strydom is ‘n lief-vir-die-Here en bietjie-van-alles-mens wat haar passie vir haar gesin, geloof en gemeenskap as motiveringspreker en -skrywer deel. Haar rol as vrou en ma bly egter haar grootste roeping en vreugde.