Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Tienerkwessie #1: ‘Sien mý raak, nie net my punte nie’

Dit is tienerselfdood-voorkomingsweek (8-14 Februarie 2026) op Suid-Afrika se gesondheidkalender. LiG het by ’n opvoedkundige sielkundige, dr Chaland van Zyl, gaan kers opsteek. Sy het die belangrikste potensiële tienerprobleme geïdentifiseer, en sê hoe ouers dit kan hanteer. “Die druk van akademiese prestasie is wesenlik,” sê sy, “en dit speel ’n groot rol in tieners se probleme met hul selfbeeld.” Die oplossing hiervoor is nie ingewikkeld nie …

Skoolgaan het lankal nie meer net akademiese prestasie as einddoel nie. Vir baie tieners word hul belewenis op skool ’n maatstaf van hul waarde: Is ek genoeg? Doen ek genoeg? Sal ek aanvaar word as ek nie uitblink nie?

In ’n wêreld waar punte, toetse en vergelykings sentraal staan, word akademiese prestasie (of die gebrek daaraan) maklik met selfbeeld verstrengel.

Een tiener verwoord dit só: “Dit het nog altyd vir my gevoel asof my punte vir my ouers belangriker is as wat ék is. Die eerste ding wat my ma my vra as ek by die huis kom, is of daar al punte beskikbaar is. Omdat my punte nie baie goed is nie, voel dit soms asof ek ook nie goed genoeg is nie.”

Hierdie ervaring is pynlik algemeen en word dikwels in stilte gedra.

LEES OOK: Tienerkwessie #2: ‘Ek wou hê jy moes my hóór, en nie dadelik oplossings gee nie’

Die meeste ouers bedoel dit nie so nie. Hulle is bekommerd, betrokke en wil hul kind vir die toekoms voorberei. Hulle vra oor punte omdat dit vir hulle as ’t ware iets tasbaars gee, iets waaraan vasgehou kan word in ’n onseker wêreld.

Maar in ’n tiener se belewenis word ’n herhaalde fokus op prestasie maklik vertaal na ’n eenvoudige maar swaar boodskap: Ek is wat ek presteer.

Die druk wat akademiese prestasie op hulle plaas, raak nie net hul motivering nie, dit raak ook hul gevoel van selfwaarde. Wanneer tieners begin glo dat hul waarde in hul punte lê, word elke toets ’n oordeel en elke swak uitslag ’n bevestiging van “ek is nie genoeg nie”.

Hoe ironies dan dat navorsing uitwys dat wanneer selfwaarde begin wankel, leervermoë en kognitiewe funksionering ook taan. ’n Brein wat in oorlewingsmodus is, kan nie optimaal leer nie.

Die mens agter die punte

Ek wil ouers daaraan herinner dat tieners die beste leer wanneer hulle emosioneel veilig voel. Hulle floreer wanneer hulle beleef dat hulle aanvaar en ondersteun word, selfs, en veral, indien hulle akademies sukkel. Dit beteken nie dat hul prestasie onbelangrik is nie; dit beteken bloot dat die volgorde saakmaak.

’n Gesonder volgorde begin by die mens agter die punte. Dan klink die gewenste vraag só: “Hoe gaan dit regtig met jou?” En dalk: “Hoe voel dit vir jou wanneer jy sukkel?” Uiteindelik word dit: “Kom ons dink saam oor watter soort ondersteuning jou kan help.” Wanneer dié soort vrae en opmerkings die toon aangee, word prestasie in die regte konteks geplaas.

As tieners regtig weet dat hul ouers se liefde nie afhanklik van prestasie is nie, word dit veiliger om moeite te doen met hul skoolwerk. En veiliger om te misluk. En, selfs belangriker, dit word veiliger om hulp te vra. In sulke veiligheid word die grondslag gelê vir volhoubare leer en gesonde selfwaarde.

  • Dr Chaland van Zyl werk daagliks met tieners en hul ouers, en in skole regoor Suid-Afrika. Sy is ’n opvoedkundige sielkundige by ’n skool in Gauteng. Sy is ook die stigter van TeenMindsSA, ’n platform wat fokus op die emosionele welstand van tieners en die versterking van ouer-tiener-verhoudings. TeenMindsSA se werk kan aanlyn gevolg word, sowel as op Instagram en Facebook, waar hierdie gesprekke verder gevoer word.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF