Dit is tienerselfdood-voorkomingsweek (8-14 Februarie 2026) op Suid-Afrika se gesondheidkalender. LiG het by ’n opvoedkundige sielkundige, dr Chaland van Zyl, gaan kers opsteek. Sy het die belangrikste potensiële tienerprobleme geïdentifiseer, en sê hoe ouers dit kan hanteer. Hier sê sy: “Die behoefte om allereers gehoor te word voordat oplossings aangebied word, is vir tieners van wesenlike belang.”
Tieners praat nie maklik oor hul vriendskappe nie. Nie omdat dit vir hulle onbelangrik is nie, maar juis omdat dit soveel beteken. In adolessensie word vriendskappe veel meer as bloot sosiale bande; dit word verweef met identiteit, met behoort, met selfwaarde. En met dié diep vraag: Is ek aanvaarbaar soos ek is?
Wanneer sake in hierdie ruimte skeefloop, ervaar tieners dit as iets wat hul hele wêreld laat wankel. Dis vir seker nie bloot ’n “effense terugslag” nie …
’n Tiener het dit op ’n keer só aan my beskryf: “Toe ek my ma vertel dat my beste vriendin my begin ignoreer het, het my ma dadelik voorgestel dat ek haar moet konfronteer, of dat ek nuwe vriende moet soek. Ek weet sy het dit goed bedoel, maar dit het gevoel asof daar nie plek is vir hoe seer ek was nie. Ek wou net hê iemand moes hoor dat dit my hart breek om uitgesluit te voel.”
LEES OOK: Tienerkwessie #1: ‘Sien mý raak, nie net my punte nie’
Hierdie ervaring is algemeen onder tieners: die behoefte om eers gehoor te word voordat oplossings aangebied word.
Verhoudings is ankers
Vir volwassenes is probleme met vriendskappe dikwels heel eenvoudig: Mense kom en gaan; verhoudings verander, dis deel van die lewe. Maar vir tieners is ’n vriendskap nie bloot ’n verhouding nie, dis ’n anker. En wanneer daardie anker loskom, voel dit asof die grond onder hulle skuif. Wat vir ’n ouer soos ’n oplosbare probleem lyk, voel vir ’n tiener na verwerping en verlies.
Ouers beskik oor die natuurlike en liefdevolle instink om te help, te beskerm en reg te maak. Wanneer raad egter te gou kom, hoor tieners iets anders as wat bedoel word. Hulle hoor: “My emosies is te groot. My seer is ongerieflik. Ek moet dit vinniger verwerk.”
Dis juis as gevolg van daardie soort optrede dat tieners hulle begin onttrek, dat hulle ophou praat en nie meer hul ouers inlig nie.
Eerder emosionele veiligheid as oplossings
Ek wil ouers daaraan herinner dat tieners in sulke tye nie oplossings nodig het nie, maar emosionele veiligheid. Navorsing oor adolessensie wys uit dat emosionele regulering nie in isolasie kan plaasvind nie. Tieners leer om hul gevoelens te hanteer wanneer hulle iemand het wat dit saam met hulle kan dra. Hierdie sogenaamde “regulerings-hulp van buite” is ’n kernboublok vir latere emosionele veerkragtigheid.
Eenvoudige, empatiese reaksies maak ’n groot verskil. Uitsprake soos: “Dit klink regtig seer,” of: “Ek kan hoor hoe belangrik hierdie vriendskap vir jou is,” help ’n tiener om veilig genoeg te voel om verder te praat. Wanneer die ouer iets vra soos: “Wil jy hê ek moet net luister, of wil jy idees hê?” word die tiener ’n gevoel van beheer en respek gegee.
Wanneer tieners voel hulle word gehoor, word hulle gaandeweg meer ontvanklik vir leiding. Om gehoor te word is nie ’n luukse nie; dit is die brug na groei.
- Dr Chaland van Zyl werk daagliks met tieners en hul ouers, en in skole regoor Suid-Afrika. Sy is ’n opvoedkundige sielkundige by ’n skool in Gauteng. Sy is ook die stigter van TeenMindsSA, ’n platform wat daarop gerig is om tieners se innerlike wêreld beter verstaanbaar te maak en ouers toe te rus met navorsingsgebaseerde, praktiese insigte. TeenMindsSA kan aanlyn gevind word, asook op Instagram en Facebook, waar gesprekke oor adolessensie, emosionele ontwikkeling en gesonde ouer-tiener-verhoudings voortgesit word.

















