Die tienerjare is een van die mees dinamiese en uitdagende fases in ’n kind se lewe – en ook in dié van ouers. Tieners se emosies is dikwels ’n wipwarit.
Jou kind beweeg van kindwees na volwassenheid, en dit bring groot veranderinge op fisiese, emosionele en kognitiewe vlak. Dit verklaar waarom jou tiener soms laggend die huis invlieg en ’n uur later huilend in hul kamer sit.
Vir ’n ouer kan dit oorweldigend wees om hierdie emosionele buie te hanteer. Maar die goeie nuus is: daar is maniere om jou tiener liefdevol en met wysheid te ondersteun.
Waarom is tieners se emosies so intens?
Tieners se emosies is nie noodwendig net ’n drang om ongehoorsaam te wees of drama te ontketen nie. Uiteenlopende en intense emosies word meegebring deur werklike prosesse wat binne hulle liggaam en brein plaasvind.
1. Fisiese veranderinge
Wanneer puberteit begin, verhoog hormone soos estrogeen en testosteroon dramaties. Hierdie hormone beïnvloed die brein se emosionele sentrum, die limbiese stelsel, wat beteken dat tieners emosies intenser ervaar. Volgens die American Academy of Child & Adolescent Psychiatry is hierdie hormonale veranderinge een van die groot redes vir die buierigheid in tieners.
2. Breinontwikkeling
Die prefrontale korteks – die deel van die brein wat verantwoordelik is vir beplanning, besluitneming en selfbeheer – ontwikkel stadig en is eers volledig ontwikkel in ’n mens se vroeë twintigs. In teenstelling hiermee is die brein se emosionele sentrum, die amigdala, reeds van jongs af goed ontwikkel en aktief. Dit beteken dat jou tiener emosies sterk ervaar, maar nog nie die vermoë het om dit altyd logies te bestuur nie.
Dr Laurence Steinberg, ’n vooraanstaande navorsingsielkundige en kenner in adolessente ontwikkeling, verduidelik dat hierdie “wanbalans” tussen emosionele intensiteit en selfbeheer een van die hoofredes is waarom tieners se emosies soms die oorhand kry.
3. Emosionele ontwikkeling
In die tienerjare begin kinders hul eie identiteit soek. Hulle vra: “Wie is ek?” en “Waar pas ek in?” Hierdie vrae bring emosionele onsekerheid mee, veral omdat hulle portuurgroep, sosiale media en skooldruk ’n groot rol speel. Tieners se selfbeeld is broos en kan vinnig deur kritiek of verwerping beïnvloed word.
Hoe kan jy jou tiener ondersteun?
Al voel dit soms asof tieners se emosies soos ’n warrelwind deur die huis waai, kan jy ’n anker van stabiliteit wees. Hier is praktiese maniere:
Luister meer as wat jy praat
Tieners het dikwels nie oplossings nodig nie, maar eerder iemand wat luister. Wanneer jou tiener emosioneel is, probeer om nie onmiddellik raad te gee of te oordeel nie. Net die wete dat jy verstaan en omgee, kan groot verligting bring.
Stel duidelike, maar liefdevolle grense
Struktuur gee tieners veiligheid. Hulle mag dalk kla oor reëls, maar diep binne weet hulle dat dit jou manier is om liefde en beskerming te wys.
Help jou tiener om emosies te verwoord
Navorsing toon dat tieners wat leer om emosies te verwoord, dit beter kan hanteer. Vra vrae soos: “Voel jy gefrustreerd omdat jy uitgesluit is?” of “Is jy teleurgesteld omdat jy nie goeie uitslae gekry het?” Dit help hulle om emosies te herken en beter te bestuur.
Wees ’n rolmodel
Jou tiener kyk hoe jy jou eie emosies hanteer. As jy geduldig bly in spanning, wys jy vir hulle dat selfbeheersing moontlik is. En boonop modelleer jy wat die uiteinde is daarvan om emosies reg uit te druk en te bestuur.
Skep ’n veilige geloofsruimte
Moedig jou tiener aan om vrae oor geloof te vra sonder vrees vir verwerping. Jou huis kan ’n plek wees waar hulle leer dat God ’n bron van troos en stabiliteit is, selfs wanneer hul emosies onstuimig is.
Praktiese wenke vir uitdagende oomblikke
- Wanneer jou tiener kwaad word, bly kalm en gee hulle tyd om af te koel.
- Wanneer jou tiener hartseer is, bied fisiese nabyheid – ’n drukkie kan meer sê as woorde.
- Moet nooit jou tiener se emosies afmaak as ’n “oorreaksie” nie. Vir hulle is dit werklik en intens.
- Gebruik gesinsrituele soos saam eet, kos maak of gebedstyd om ’n gevoel van stabiliteit te bou.
’n Bybelse perspektief
Die Bybel gee riglyne wat ouers kan help om tieners met liefde en wysheid te lei.
- “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” (Spreuke 22:6) Hierdie vers herinner ons dat die manier waarop ons nou ons tiener begelei, ’n blywende invloed het.
- “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” (Psalm 34:19) Jou tiener se hart mag soms stukkend of oorlaai voel. Jy kan hulle wys dat God naby is, selfs in emosionele swaarkry.
Wanneer jy jou ouerskap in geloof anker, word jy nie net ’n gids vir jou tiener nie, maar ook ’n getuienis van God se liefde.
Tieners se emosies kan soos ’n doolhof voel – vol draaie, doodloopstrate en onverwags nuwe paaie. Maar as jy verstaan dat hierdie emosies deel is van ’n normale ontwikkelingsproses, en jy jou tiener met geduld, liefde en geloof begelei, help jy hulle om nie net hul tienerjare te oorleef nie, maar ook sterk en veerkragtig as jong volwassenes vorentoe te stap.





















