Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Tieners se emosies – hoe kry jy jou kind om te praat?

Tieners en emosies

Dalk voel dit vir jou of jou tienerkind ’n geslote boek is. Jou tieners se emosies veroorsaak behoorlik dat hulle soos ‘n boek toeslaan wanneer ’n gesprek na dieper, persoonlike dinge of emosies neig. En jy weet jy moet tog nie daaroor begin karring nie; jou geneul of kritiek of kwaai stemtoon sal net die situasie vererger.

Jy kán hulle egter aan die praat kry, sê die kenners. Probeer net eers verstaan waar die weerstand teen sulke gesprekke vandaan kom, en skep dan ’n veilige ruimte vir gesprek binne die gesin.

Bea Potgieter, ’n kliniese sielkundige in Kaapstad, sê: “Wanneer hierdie mede-huisbewoners – om watter rede ook al – onveilig voel om hul gevoelens met ander te deel, sal hulle hulle vir seker teen sulke gesprekke verset. Hulle sal hulle eerder onttrek, of verdedigend of reaktief optree.”

Hoe kry ek my tieners aan die praat?

Dalk voel jy om eerder handdoek in te gooi. Om jou voor te neem om eers met hulle te praat as hulle “eendag mooi groot” is. Maar bly geduldig, sê die kenners, want om oop en eerlike gesprekke met jou tieners te voer, is van onskatbare waarde vir hul groei en ontwikkeling.

Marelize Nell is ’n sielkundige by Mindrubiks in Vanderbijlpark. Sy sê: “Wanneer daar ’n oop, veilige ruimte vir gesprek is, bou dit vertroue. Dan help jy om jou tieners se emosies te bestuur, om hul identiteit en waardes te vorm. En hulle weet dan dat hulle nie die moeilike dinge alleen hoef te trotseer nie. Hulle leer ook hoe gesonde kommunikasie lyk en voel, en dít sal hulle met hulle saamdra – in hul vriendskappe, hul toekomstige huwelik en in hul verhouding met God.

“Gesprekvoering is dus nie bloot ’n ‘ouerskaptegniek’ nie; dit is die brug tussen jou en jou tieners, tussen jou tieners se emosies, en die begrip en insig daarin. En dit sal hulle help om veilig, gesond en gesentreer groot te word.”

Marelize verduidelik verder: “Die dele in die brein wat tieners se emosies verwerk, soos die amigdala, is baie aktief in die tienerjare. Dit beteken hulle ervaar emosies intens, onder meer vrees en woede en hartseer en opwinding. Maar dié deel in die brein wat emosies reguleer en wat met selfbeheersing help (die prefrontale korteks), ontwikkel stadig en sal eers in hul vroeë twintigs heeltemal volwasse wees.

“Dit alles beteken dat tieners baie sterk gevoelens ervaar, maar nog nie oor die vaardighede beskik om dit goed te bestuur nie. En beslis nie om dit behoorlik te verwoord nie. Dis hoekom hulle soms sukkel om te sê hoe hulle voel. En waarom hulle soms impulsief optree, of buierig is, of eenvoudig in hul dop kruip. Wanneer ’n ouer dié dinge begryp, word dit makliker om met deernis en geduld op te tree. En om nie hul stiltes as abnormaal te beskou nie, maar as deel van hul groei en ontwikkeling.”

Volgens Marelize lê ’n verdere rede waarom tieners nie wil praat nie by die manier waarop ouers (en veral die pa) gewoonlik reageer. Die kinders mag dalk bang wees dat hulle nie verstaan sal word nie en eerder gekritiseer of verkleineer gaan word. Wanneer ’n ouer gereeld die jonges se gevoelens afmaak of hulle spot, wanneer iets kleins ’n hewige reaksie tot gevolg het, leer die tiener dat dit veiliger is om stil te bly. Hulle bou dan as ’t ware ’n muur om hul emosies, wat moeilik is om weer af te breek.

“Tieners praat net as hulle weet dit is veilig om dit te doen – emosioneel én fisiek veilig. Dit beteken hulle moet weet hulle gaan nie beskuldig word of skaam gemaak of afgekraak word as hulle eerlik is nie.”

Tieners en emosies – 5 maniere om ‘n veilige ruimte te skep

1 Luister sonder om te oordeel
Dis ’n voorreg as jou tieners openlik met jou gesels. Moet dit tog nie beskou as ’n geleentheid om dadelik reg te help of om sake te probeer beredder nie. Luister eers. Vra later vrae (as dit nodig is) en gee dan leiding. Soms het hulle nie ’n antwoord nodig nie; slegs ’n vriendelike luisteraar, ’n “veilige oor”.

2 Bly kalm, al voel jy geskok
Indien jy oorreageer wanneer jou tieners jou iets meedeel wat vir hulle moeilik is om oor te vertel (’n fout wat hulle gemaak het; twyfel wat hulle ervaar; emosies wat jy nie van hulle sou verwag nie) leer hulle: “Ek kan toe nié alles vir my ma of pa vertel nie.” ’n Oorreaksie het dikwels tot gevolg dat hulle emosioneel oorlaai word met nóg emosies wat hulle nie kan hanteer nie.

3 Moenie alles in ’n les omskep nie
Tieners verloor belangstelling in ’n gesprek wanneer dit vir hulle voel daar word vir hulle gepreek. Om met jou tiener gesprek te voer beteken dat jy iets oor jouself vertel – iets oor jou vrese, jou foute, die dinge wat jy geleer het en hoe jy dit geleer het. Dra dié dinge op ’n nederige manier oor en nie in die hitte van die oomblik nie. En doen dit dikwels, ook om die braaivleisvuur. Vertel jou kind van gebeure uit jou kinderjare en veral jou tienerjare. Laat hulle besef dat jy ook ’n mens is en dat jy nie ’n perfekte lewe gelei het nie. Dat jy ook foute gemaak het, hartseer beleef het, twyfel ervaar het.

4 Voer gereelde gesprekke
Gesonde kommunikasie vind nie slegs in die diep en “groot” gesprekke plaas nie. Ja, die lewe is dikwels gejaagd, maar maak tyd vir meer informele gesprekke. Hou dit lig. Jy is immers gereeld in jou kinders se geselskap wanneer julle in die motor ry of in die kombuis doenig is. Gebruik sulke geleenthede.

5 Respekteer jou tiener se uniekheid
Jou tieners is nie meer kinders nie, en ook nie ’n jonger weergawe van jou nie. Hulle is unieke individue met hul eie manier van dink, voel en glo. As jy dit kan respekteer (al stem jy nie altyd met hulle saam nie) sal hulle makliker met jou praat.

Artikel deur Maretha Botes

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF