Emosies wat tieners ervaar en hoe om emosies te beheer
Tieners en emosies. Dis ’n lewensbelangrike onderwerp. Tieners wat hulleself om die lewe bring, is ’n hartseer werklikheid. Kenners sê as kinders van jongs af leer om oor hul seer te praat, kan dit ’n moontlike oplossing vir dié soort ellende bied. Maar hoe kan ouers vroeg-vroeg reeds ’n oop ouer-kind-verhouding kweek?
Tieners en emosies: Wat sê kenners?
“Dis ontsettend belangrik dat kinders die vryheid gegee word om oor hul gevoelens te praat, of om konstruktief daaraan uiting te gee,” sê Erna Rheeder van Pretoria, koördineerder: SAVF FAMNET en SAVF Father’s Network.
“Indien hulle kan sê hoe hulle voel, én gehoor word, of indien hulle hul emosies toepaslik kan uitdruk deur byvoorbeeld ’n kussing te slaan of hul gewaarwordings in ’n joernaal neer te skryf, sal hulle emosioneel gesonder leef.
“Wanneer sulke kinders dan op ’n dag tieners word, sal hulle eerder oor hul gevoelens praat as om hul besittings of ander mense of hulleself skade aan te doen.
“Kinders moet weet hul gevoelens het bestaansreg. Geen mens kan aan ’n ander sê dis verkeerd om te voel soos jy voel nie.
Watter rol speel die ouers?
“Wat kinders met hul gevoelens maak – dáár is die plek waar die ouers se rol lê. Dis nie die emosie wat reg of verkeerd is nie, maar wat ’n kind met daardie emosie doen.
“As ’n seun byvoorbeeld hoor hy mag nie huil nie, sal hy bloot sy gevoelens onderdruk. Dit kan later in toksiese manlikheid oorgaan en in geweld uiting vind.
“Om jou gevoelens te kan verwoord, maak boonop toekomstige kommunikasie met vriende of ’n huweliksmaat doeltreffender, en vergemaklik konflikhantering. Kinders kan selfs ’n talent soos skilder, sport of sang inspan om hul gevoelens tot uiting te laat kom.”
Tieners en emosies: Waar begin mens?
“Gesonde ouerskap begin by gesonde volwassenes,” sê Ina van Leeuwen, ’n maatskaplike werker in Pretoria wat op ouerskapvaardighede fokus. “’n Ouerpaar moet mekaar in hul ouerskap kan ondersteun. Ek moedig mense met verhoudingsprobleme aan om dit in terapiesessies te hanteer.
“Volwassenes kan só vasgevang in hul eie emosionele bagasie raak dat hulle hul kind se emosionele behoeftes miskyk. Of selfs emosioneel op hul kind begin steun, in plaas van andersom.
“Ek glo dat eerlikheid in ’n verhouding die eerste prioriteit is. Ons moet ook eerlik met onsself wees. Ek moet my tekortkominge kan erken en daaraan werk, anders is dit moeiliker om na my kind uit te reik. Indien onverwerkte trauma jou terughou, kan terapie jou help om jou seer te verwerk.”
Vyf wenke om te kommunikeer met jou kind
- Wys jou kind dat emosies aanvaarbaar is deur toepaslike emosies met die kind te deel en daardeur te werk. Dis moeilik om iets aan ’n kind te leer waaroor jy self ongemaklik voel.
- Gebruik positiewe taal om jou eie emosies uit te druk en jou behoeftes te kommunikeer.
- Deel jou emosies op ’n beheersde manier. Ek kan kwaad word of my hartseer met my kind deel, maar ek moet seker maak ek het beheer daaroor. Kinders kan nog nie rou, onbeheersde emosie hanteer nie. Onthou ook dat kinders grootliks selfgesentreerd is. Hulle is geneig om te dink húlle is die oorsaak vir wat in hul wêreld gebeur. Dit kan tot onnodige skuldgevoelens aanleiding gee. Indien jy baie ontsteld is, deel allereers jou gevoelens met ’n ander volwassene.
- Deel jou kommer oor jou finansies op ’n versigtige manier met die kinders. Vertel eerder oor die planne wat julle maak as om die emosie te wys. Sê byvoorbeeld: “Pappa se werk het verander. Dis nou minder as voorheen, maar dit beteken ook dat Pappa minder geld gaan kry. Dis oukei, ons het genoeg geld om te koop wat ons nodig het. Dink julle ons kan saam na ons inkopielys kyk?” Die kinders moet weet die ouers dra die verantwoordelikheid, maar dat die hele gesin by die besluitneming betrek word.
- Verhoudingsprobleme tussen ouers het onsekerheid tot gevolg. Moenie konflik ontken nie. Jy kan sê jy en jou maat het verskille, maar dat julle besig is om daaraan te werk. Leer jou kinders dat konflik opgelos kan word deur daaroor te praat en deur saam tot ’n vergelyk te kom. Ons kan nie altyd ons sin kry nie. Die manier waarop konflik hanteer word, is belangrik. Geweld, byvoorbeeld, is nooit ’n opsie nie. Moenie die inhoud van jou en jou maat se verhoudingskonflik met die kind deel nie. Só leer jou kind om ander se privaatheid, ook in verhoudings, te respekteer.
Leer jou kind om ook doeltreffend te kommunikeer
Kinders ervaar dieselfde emosies as volwassenes, maar hulle beskik nog nie oor die vaardighede om dit te hanteer nie.
Ons kan hulle help om hierdie vaardighede te ontwikkel, en dalk op dié manier:
- Leer jou kind om emosie te verwoord deur vroeg reeds taal aan emosie te koppel. Begin by jou baba wanneer jy iets sê soos: “Kyk hoe lekker lag my baba! Is jy gelukkig en tevrede?”
- Praat met jou kind oor dit wat julle sien en ervaar. Wys ’n kleuter op die verskillende gesigsuitdrukkings in tydskrifte of boeke. Sê byvoorbeeld: “Kyk hoe frons hierdie seuntjie; miskien is hy kwaai.” Namate jou kind ouer word, kan jy meer komplekse emosies verwoord.
- Verduidelik aan jou kinders hoe sekere emosies jou lyf laat voel. Daar is oulike boekies beskikbaar wat met die ontwikkeling van emosionele taal kan help. Jou kinders leer ook om hul lyf te vertrou om aan hulle leidrade te verskaf oor hoe hulle bepaalde situasies moet hanteer. Hulle moet weet: As ek in ’n situasie beland wat my bang laat voel, sal ek dit op my maag of aan my hartklop voel. Ek gaan na my lyf luister en nie in daardie situasie bly nie, maar vinnig daar probeer uitkom!
- Praat met jou kind oor die hantering van emosies. Vra iets soos: “Wat maak ek as ek skaam voel wanneer ek my eerste klaspraatjie moet lewer?” Beraam dan saam planne oor hoe om oorweldigende emosies te hanteer. Jy kan byvoorbeeld rollespel gebruik om jou kind op ’n moeilike situasie voor te berei.
- As kinders van kleins af leer dat dit in die haak is om oor emosies te praat, gesels hulle makliker met hul ouers daaroor wanneer hulle ouer is. Leer jou kind dis oukei om iemand se mening of se hulp te vra. As ek my kind se probleme uit die staanspoor konsekwent met respek en begrip hanteer, weet dié kind sy of hy kan my vertrou.
- Sommige kinders is praters; ander nié. Skep geleenthede vir jou kinders om hul emosies op ander maniere as met woorde uit te druk. Stuur boodskappe aan mekaar, skryf ’n briefie en nooi hulle om terug te skryf. Teken saam, kleur saam in. Luister of maak saam musiek.
- Bring tyd saam met jou kinders deur. Jy kan nie ander leer ken as jy nie van jou tyd aan hulle afstaan nie. Doen dinge waarvan jou kinders hou. Klein kindertjies se taal is speel. Speel dus met jou kinders, geniet daardie “tee” wat hulle skink, bou saam Lego. Ry saam fiets.
- Ken jou kinders se leefwêreld. Nooi hul vriende oor en leer hulle ken, om die etenstafel of by die swembad. Leer ken jou kind se vriende se ouers. Woon sport- en kultuurgeleenthede by. Indien jou kind se onderwysers jou gereeld by skoolfunksies sien, sal hulle jou makliker kontak indien hulle ’n verandering by jou kind opmerk.
- Kinders se geestelike ontwikkeling is die ouer se taak. Die manier waarop jy kies om jou godsdiens uit te leef, maak die grootste denkbare impak op jou kinders se geestelike ontwikkeling. Vorm hul denke deur soms oor geestelike temas te gesels. Gaan saam kerk toe. Praat ná die erediens met mekaar oor wat daar gebeur het.
- Wees bedag op veranderings in jou kind se belangstellings, energievlakke, emosionele patrone en maats – selfs wanneer jy ’n té positiewe verandering opmerk. Laasgenoemde kan op onderliggende emosionele probleme dui. Skep geleenthede vir gesprek. Indien jou kind jou uitsluit, kry hulp.
Lees ook ons artikel oor die tekens van depressie in kinders en tieners.
Drie stappe om jou eie emosies op die regte manier met jou kind te kommunikeer:
- Erken die emosie. Jou kind sal agterkom iets is verkeerd, en vra dalk waarom jy huil. Sê dan: “Jy is reg, ek het gehuil.”
- Verskaf so min moontlik besonderhede. Sê iets soos: “Ek het gehuil omdat ek en een van my kollegas oor iets verskil het. Dit het my hartseer gemaak.”
- Verseker die kind dat dit onder (jou) beheer is. Sê: “Dit was goed dat ek gehuil het, want ek voel nou beter. Ek is seker ons sal dit môre op kantoor kan regmaak. Jy hoef nie bekommerd te wees nie.”
Op dié manier leer jy jou kind dat verskeie sake ons emosies kan beïnvloed, maar dat dit ons nie hoef te oorweldig nie. Emosies kan en moet hanteer word, en die sleutel daartoe is doeltreffende kommunikasie.
Oorspronklike artikel geskryf deur Mariette Snyman.