“Dis die heel ergste ding wat met ’n mens kán gebeur.”
Dit was my woorde aan ’n vriendin ná die dood van ons dogter, Marizanne Strydom. Sy het op 13 Januarie 2022 op ’n stuk grondpad verongeluk, naby ons plaashuis in die Vrede-distrik in die Vrystaat.
Marizanne was ’n veeartsenykundestudent wat pas haar tweede jaar voltooi het. Sy was maar 21 jaar oud. Hoe ironies dat haar laaste stilhouplek by die veearts op die dorp was, waarheen sy ons boerboel vir die jaarlikse inentings geneem het. Sy sou net gou die hond laat inspuit, terugkom huis toe, en dan haar vakansie verder geniet …
LEES OOK: ‘God alleen bring berusting en vrede,’ sê vrou ná albei haar dogters sterf
Op ’n doodgewone Donderdagoggend het ek haar gegroet voordat ek werk toe is. Sy het vir my die plaashek oopgemaak terwyl sy met haar beeshond in haar arms gestaan het. “Sien jou later, Poppie,” was my laaste woorde aan haar.
Niks kan ’n mens hierop voorberei nie. Dit is nou 22 maande later, en die seer gaan nie weg nie. Elke dag is die verlange daar. Elke dag lê die trane vlak. Elke dag soek ek haar nog in die huis, aan tafel, buite op die plaas. Jy verbeel jou jy hoor haar fluit, of jy hoor haar kwinkslae en haar Afrikaanse musiek langs die braaivleisvuur.
Tussen al die hartseer deur kan ek getuig dat ons hemelse Vader elke dag by my is. Hy was daar langs die pad toe ek haar hand vir oulaas kon vashou, en Hy is steeds hier.
’n Mens het baie vrae, maar ek het geleer om nie te veel daarvan te vra nie. Die Here maak nie foute nie; Hy weet wat Hy doen. Ek berus daarby dat Hy die toekoms ken. Dat ek Hom moet vertrou. Dat wat gebeur het deel van sy meesterlike plan is. Ek weet nie waarom dit met ons moes gebeur nie, maar Hy weet. Dit gee my vrede en troos.
Deur al die hartseer en pyn het ek ons Vader se sagmoedigheid ervaar. Ek het beleef hoe die Heilige Gees my elke dag bemoedig. Hoe Hy my versterk en krag gee om te volhard en om die pad saam met Hom te stap.
Ek dank die Here elke dag vir die amper 21 jaar se vreugde wat Marizanne vir ons gebring het. Sy was ’n positiewe, opgeruimde, lewenslustige mens. Sy inspireer my elke dag om voluit te leef.
Daar het ook iets moois te midde van al die hartseer gebeur: Michelle, ons jonger dogter, is tans ’n mediese student in haar derde jaar op Tukkies. Sy en Marizanne het net 17 maande verskil en was mekaar se beste vriendinne. Marizanne was haar rolmodel op vele gebiede.
Michelle kan toor met woorde en sy het onlangs ’n digbundel, Sonneblomskrif, die lig laat sien. Hierdie bundel bevat onder meer gedigte wat Michelle se hartseer oor haar suster verwoord. Sy het die bundel dan ook aan Marizanne opgedra.
Ek sal die wedloop wat voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus (Heb 12:1) terwyl die oorwinnaarskroon op my wag (2 Tim 4:8).
Ek hou vas aan die hoop wat my laaste woorde aan Marizanne vir my gee: “Sien jou later, Poppie …”
- Ninon Strydom doen tans administratiewe werk by ’n braaikuikenboerdery. Sy is getroud met Marnus.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.