Ek is ’n gerehabiliteerde dwelmslaaf.
My paadjie met dwelms het begin toe ek 19 jaar oud was. Ek was vyf jaar lank verslaaf aan heroïen en kokaïen. Ek is in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem, maar ek het ’n week ná my ontslag weer begin dwelms gebruik. Ek het my studies gestaak, vriende verloor en op straat geëindig. Ek het by ’n verkeerslig gebedel, skelm by ’n karwasplek geslaap – en deurentyd na die volgende “fix” gesoek.
Maar een oggend, juis by ’n verkeerslig, het ek opnuut besef ek wil nie so leef nie. En ek het gebid. Ek is toe na ’n vriend se pa se huis in Pongola en het vyf weke daar gebly in ’n poging om “skoon” te kom.
Daarna is ek terug Pretoria toe, ek het werk gekry en het twee kinders gehad. Later is ek met Eben Zandberg getroud.
Ek was tien jaar lank dwelmvry en ek was daarvan oortuig dat my verslawing iets van die verlede is. Ek het nie meer na dwelms gesmag nie; ek het nie eens daaraan gedink nie.
LEES OOK: 11 jaar verslaaf, 18 jaar skoon: ‘My storie is een van genade, genesing en tweede kanse’
Hulle sing vir die Here, dat Hy na ons moet kyk
In 2021 het ek vyf familielede verloor: In Juniemaand is my sussie, haar man en hul kind dood nadat ’n lorrie in hulle vasgery het. Ook in Junie het my man aan Covid-19 gesterf, en in Desember is my oupa oorlede.
In Augustus 2022 het my ouma gesterf. My lewe het inmekaargetuimel. My man, my steunpilaar, was weg. Wie sou my help om al dié verliese te bowe te kom?
Ek was baie kwaad vir die Here. Ek kon nie verstaan watter soort god soveel mense in so ’n kort tydjie van hul geliefdes wegneem nie.
Voor ek my kom kry, het ek weer begin dwelms gebruik. Dit het ’n jaar geduur en ek is vier keer in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem. Uiteindelik is ek gearresteer en moes tronk toe gaan. Die eerste aand in die tronk was baie erg. Jou menswaardigheid word van jou af weggeneem.
Nietemin het die vroue in my sel soggens en saans gebid. Die tweede oggend, op pad hof toe, het ek vroue hoor sing toe ek by die trappe afkom. Die lied was in ’n taal wat ek nie ken nie; ek kon dus nie die woorde verstaan nie. Maar ek het hoendervleis oor my hele lyf gekry en ’n wonderbaarlike kalmte ervaar. Die vrou langs my het gesê hulle sing vir die Here, dat Hy na ons moet kyk.
Hy het my gebede verhoor
By die hof het ek, terwyl ek gewag het om geroep te word, deurentyd met die Here gepraat. Ek het Hom gesmeek dat borgtog aan my toegestaan word sodat ek my onskuld kon bewys.
Hy het my gebed verhoor. Ek het uit die hof gestap en my hande in die lug gegooi en uitgeroep: “Dankie, Here!”
Ek is terug na die rehabilitasiesentrum en het my program daar voltooi.
Nou bou ek elke dag aan my verhouding met die Here. Hy het my die afgelope twee jaar die krag gegee om teen die verslawing te baklei en om te groei. Ek het regtig nie geweet daar is soveel krag by Hom te vind nie.
Dit was wel nie ’n maklike pad nie. Ek het ’n klómp keer gevra: “Here, hoekom het U my verlaat?” Maar dan het Hy my weer laat besef Hy is by my, Hy sal my nooit alleen los nie.
Vandag is ek meer as twee jaar lank “skoon”, ek het my eie blyplek, ek het ’n goeie werk in die finansiële sektor en ek het ’n motor. Daarby het ek vir ’n B Com-graad ingeskryf en my eerste jaar suksesvol voltooi. Ek is vasbeslote dat my kinders, wat tans by familielede woon, weer by my sal kom bly.
En ek het hierdie keer werklik die oplossing vir verslawing gevind: die Here.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















