‘Hoe kon God dit toelaat? Het Hy my nie in sy Woord belowe dat ek nog ’n seun sou hê nie? Nou is ’n deel van my liggaam weggeskeur.’ So het Nanki Robbertse van Midstream gesê nadat sy haar seun Kaleb op 39 weke verloor het.
Nanki en Iwan Robbertse het nooit kon droom dat hulle hul tweede seun sou verloor nie. Nanki se eerste swangerskap, dié met Joshua in 2012, was normaal. Toe het alles, tot aan die einde, vlot en volgens plan verloop.
Joshua is met behulp van ’n keisersnee gebore, en Nanki wou graag ’n normale geboorte ervaar.
Toe raak sy swanger met Kaleb. Die ginekoloog en die vroedvrou was tot op 39 weke tevrede met alles en daarvan oortuig dat sy normaal geboorte sou kon gee.
‘Ek het geweet daar is groot fout’
Maandag 5 April 2016 was ’n gewone, besige dag. Toe Nanki teen halftien daardie aand in die bed klim, het sy eensklaps besef dat sy Kaleb nie deur die dag voel beweeg het nie.
Sy vertel: “Ek het gereeld teen Kaleb gedruk as ek hom nie gevoel het nie, en dan het ek altyd ’n reaksie gekry, so asof hy my terug druk.”
LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’
Dié keer het haar maag bloot pap gevoel. Daar was geen reaksie nie. “Ek het geweet hy is dood. Ek het my vroedvrou Christine gebel en sy het gesê ek moet dadelik hospitaal toe.” Die verpleegpersoneel het tevergeefs probeer om ’n hartklop op te spoor.
Nanki was diep geskok en het onmiddellik gevra of sy iets gedoen het wat tot haar baba se dood kon gelei het. Was sy dalk te emosioneel tydens die swangerskap? “Ek het aan alles gedink wat ek gedoen het en nié gedoen het nie.”
Die ginekoloog het later bevind dat klein Kaleb se naelstring ’n knoop gehad het wat daardie dag styfgetrek het. “Niks het meer sin gemaak nie. Ek was verward. God het my dan vroeër ’n belofte gegee dat ek ná Joshua weer ’n seun sou hê …”
‘Het ek God verkeerd gehoor?’
Nanki sê sy het destyds ’n Bybelvers oor Kaleb gekry voordat sy swanger geraak het. Dit was Jesaja 13:12, wat só lui in ’n Engelse vertaling: “I will make a man more rare than fine gold … than the pure gold of Ophir.”
Nanki vertel dat sy nog altyd ’n noue verhouding met God gehad het. “Ek het die verwagting gehad dat God iets spesiaals gaan doen en dat hierdie ’n baie spesiale kind met ’n spesifieke roeping sou wees. Eensklaps het ek gewonder of ek verkeerd gehoor het.”
Nanki sê sy het met baie vrae geworstel. Sy kon nie slaap nie en het God om antwoorde gesmeek. Hy het haar toe só geantwoord: “Our life here on earth is merely a speckle when compared to eternity.”
“En ek het besef dat sy beloftes oor Kaleb tot ver anderkant ons tyd hier op aarde strek. Kaleb se roeping en impak sal nie slegs in hierdie tyd op aarde wees nie, maar ook in die hemel, wanneer die aarde nuutgemaak is.”
Maar hoe nou? Hoe kon sy hierdeur kom? “Hoe staan jy elke dag uit die bed uit op en sit een voet voor die ander? Ek het God gevra om my te leer hoe om te rou. Hy weet immers die beste.”
Nanki sê sy het by die diepkant ingespring en haarself doelbewus toegelaat om te rou. Om werklik te rou, met oorgawe. Sy het nie gaan werk nie en haarself die tyd gegun om eenkant te wees. Dan was dit net sy en God. By Hom kon sy huil.
‘Hul lewe gaan voort …’
Intussen moes sy na Joshua omsien. Maar hoe doen jy dit as jy nie energie en geen motivering het nie? “Ek het baie alleen gevoel. ’n Deel van my liggaam is weggeskeur, en dit het gevoel asof almal om my bloot voortgaan met hul lewe, so asof niks gebeur het nie.”
Daar was mense wat selfs die manier bevraagteken het waarop Nanki gerou het. Hulle het gesê dis tyd dat sy “aanbeweeg”. “Ek het soos ’n alien gevoel, iemand wat nie in hierdie wêreld inpas of hoort nie.”
Uiteindelik het sy begin om te blog ten einde van die rou emosies ontslae te raak. Dit was terapeuties om haar seer neer te skryf. Dit was vir haar asof sy werklik gehoor word.
Ná ’n ruk het sy ’n ondersteuningsgroep in die VSA opgespoor – Hope Mommies. Nanki vertel: “Ek het hul Facebook-blad begin volg. Hul benadering help jou om minder ‘anders’ te voel wanneer jy met mense wat in ’n soortgelyke situasie is in aanraking kom. Ek het ’n mosaïek-hart vir Kaleb gemaak, en ’n video met al die foto’s wat ek van hom gehad het. Ek het foto’s van hom laat druk. Ek het musiek gesoek wat by my emosies gepas het.”
Intussen het sy steeds met God baklei en Hom gesmeek om haar te help. Sy het ook ’n geestelike berader gaan spreek om haar deur die storms te lei.
‘Ek het begin om na ander uit te reik’
Hope Mommies is ’n nie-winsgewende Christelike organisasie wat ouers ondersteun wat ’n kind verloor het. Die groep is gestig om ouers wat babas verloor het te ondersteun, onder meer deur Bybelstudies en naweekwegbreke. Hulle het ook sogenaamde Hope Boxes beskikbaar gestel om ma’s te help om hul verlies te verwerk.
Nanki vertel: “Dié organisasie het my geïnspireer. Ek het besef dat ons nie so iets in Suid-Afrika het nie en ek het God gevra om my uit hierdie donker put te haal en mense oor my pad te stuur vir wie ek kan help.”
Daarop het sy besluit om haar eie “bokse-van-hoop” te maak. Sy het by haar vroedvrou Christine begin, en dié het haar vertel van mense wat ’n baba verloor het. So het een egpaar twéé geword, en twee drié.
Nanki het ook by ’n ondersteuningsgroep genaamd Empty Wombs ingeskakel. Hul maandelikse byeenkomste het mettertyd in Hope Box-sessies verander. Mammas wat reeds so ’n boks ontvang het, het bokse versier vir ander mammas wat ’n baba verloor het. Elke boks bevat, onder meer, ’n notaboek, ’n briefie van Nanki, kaartjies met gunsteling-Bybelverse, ’n kers, ’n koffiebeker en ’n sagte speelding.
“Ek het gesien hoe dit vroue help om hul verlies te verwerk,” vertel Nanki. Met verloop van tyd het Netcare by die projek betrokke geraak, en die bokse-van-hoop word nou landwyd versprei. Hiermee word aan die ontvangers gesê: Ons erken jou groot verlies. Jy is nie alleen nie en ons kan jou die hoop gee dat jy weer geluk sal ervaar.
Die Hope Boxes was egter nie die einde van Nanki se betrokkenheid nie. Haar blog het so goed gevaar dat van haar vriende voorgestel het dat sy ’n boek skryf.
“Ek wou nie,” sê sy. “My blogs was persoonlik. Dit was vir my eie genesing.
God het egter anders besluit. En dit het vir my gevoel asof Hy self die boek geskryf het; ek was bloot ’n instrument.”
Die boek Hope After Loss is nou ook deel van die Hope Boxes-projek.
‘My raad aan ander?’
“Gee jouself toestemming om te rou. Moenie voel dat jy so gou moontlik met jou lewe moet voortgaan nie. Dis skadelik vir jou psige, want jou seer word dan bloot ‘weggebêre’. Dit sal in ’n latere stadium terugkeer – ongenooid, erger, meer intens as ooit.
“Dis terapeuties om jou gevoelens, gedagtes en gebede neer te skryf. Dit help jou om die seer te verwerk.”
Nanki sê dat kreatiewe aktiwiteite soos verf en mosaïek haar ook gehelp het. Sy sê voorts dat jy jou nie deur ander mense se menings oor die dood en rousmart moet laat beïnvloed nie. “Vertel jou familie en vriende hoe hulle jou kan help. Maak kontak met iemand wat self so ’n ervaring deurgemaak het.”
’n Sonskynkind
Nanki se lewe het ná Kaleb se dood inmekaargetuimel, maar God het haar met nog ’n seun geseën: Uzziah is in 2017 gebore.
Hy is haar sonskynkind wat net vreugde uitstraal. Nanki sê: “Onthou dat God se voorsienigheid, sy liefde en genade altyd groter is as die seer en pyn wat jy deurmaak. Jou verhouding met Jesus is die enigste manier waarop jy deur so ’n verlies kan kom. Hy sal jou vertroos, jou help, jou vashou, jou lei en jou weer oplig.”
- Drie LiG-lesers kan Nanki se boek Hope after loss wen. Stuur ’n e-pos teen 15 November met jou naam, telefoonnomer en koerieradres aan getuig@lig.co.za Merk die onderwerplyn “Hope-kompetisie”.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.