Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vrou ná mislukte swangerskap: ‘God het nooit sy hand van my kop gelig nie’

“Ek wil jou verseker dat Hy nie sy hand van jou kop gelig het nie. Hy weet steeds hoeveel hare jy op daardie kop het. Plaas jou vertroue op Hom en weet dat die lig weer sal skyn.”

Só bemoedig Thato Seopa ander mense nadat sy ’n ektopiese swangerskap beleef het. Sy vertel ook van die rouproses wat daarop gevolg het.

In Maart 2021 was Thato Seopa, toe ’n onderwyseres in Fourways, Johannesburg, reeds ’n klompie weke lank swanger, maar sy het elke dag pyn verduur. Sy vertel: “Dit was my eerste swangerskap en ek het nie geweet wat om te verwag nie. Ek het gedink ’n mens móét maar pyn hê …”

Maar een middag was die pyn ondraaglik. “Ek en my kêrel Charlton het besef ons moet ’n plan maak, ons moet by ’n ginekoloog uitkom.

LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’

“By die hospitaal het die suster en dokter aan diens by die trauma-eenheid baie vrae gevra. Die dokter sê toe iets oor ektopiese swangerskap, maar ek het nie geweet wat dit is of wat dit vir my kon inhou nie.

“Toe het die dokter probeer om ’n radioloog op te spoor. En vandat hulle daardie jel op my gesmeer het om die sonar te doen, totdat hulle aan my verduidelik het wat presies die toedrag van sake was, was vir my bitter erg. Toe die dokter boonop verduidelik ’n ektopiese swangerskap beteken die bevrugte eierselletjie het nie in die baarmoeder vasgeheg nie, maar op ’n plek waar die embrio nie verder kon groei nie, het ek uiteindelik die implikasies gesnap. Dis die ergste ding wat ek nog deurgemaak het.”

Omdat Thato en Charlton nooit vermoed het dat daar iets ernstigs fout was nie, het hulle nie ’n tas saamgeneem hospitaal toe nie. Terwyl Thato dus Covid-19-toetse moes ondergaan voordat sy opgeneem kon word, het Charlton terug huis toe gery om vir haar nagklere te gaan inpak.

Toe Thato ná ’n operasie en twee nagte in die hospitaal ontslaan is, was sy so vol pyn en steeds so geskok dat sy nie kon regop loop nie.

Sy vertel: “Ek was ontsettend depressief. Ek het alleen gevoel. Dit was asof God my verlaat het. Ek het nog nooit van sy weë afgewyk nie, maar nadat dié ellende ons getref het, het ek nie meer kerk toe gegaan nie.

“Stadig maar seker het ek tog begin herstel. My ma het my gereeld bemoedig, en van my vriendinne het my vertel van húlle probleme met swangerskap. Gaandeweg het ek weer moed gekry, al het dit nogal lank geduur.

“My ouers was baie dierbaar. Hulle het my gereeld gerusgestel. En hulle het nooit druk op my geplaas om my verhouding met die Here weer in orde te kry nie, al het hulle daarvoor gehoop.

“Omdat Charlton mettertyd gevoel het hy wil nie meer alleen kerk toe gaan nie, het ek myself, trane en al, weer kerk toe gesleep.

“Ek is nou 31 jaar oud, en ek het geleer om in God se wil te berus. Nee, ek het steeds nie ’n kind nie, maar ek is nou nader aan Hom as ooit. Ek plaas Hom voor alles in my lewe. Ek luister baie na geestelike musiek.

“En ek hou vas aan Psalm 34:19: ‘Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.’ Dis een van die Bybelverse wat my tydens die trauma gerusgestel het.”

Namate Thato emosioneel begin herstel het, het sy besef hoeveel ander mense ook met hierdie soort hartseer leef. “Ek kon hul seerkry verstaan, ek kon hulle ondersteun.

“Deesdae kyk ek anders na alles wat gebeur het. Hoewel my verlies bitter moeilik was om te hanteer, gebruik die Here my nou as ’n getuie. Daar was dus tóg ’n doel met dit alles. Nou kan ek ander mense bemoedig wanneer hulle ook in so ’n situasie beland.”

Thato en Charlton woon en werk sedert Oktober 2023 in Parow in Kaapstad –  ’n hele 1 660 km van haar ouers en grootworddorp Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo. Behalwe dat hulle steeds besig is om aan te pas by die Kaapse kultuur, die stadiger pas en die sopnat winters, leef sy saam met ’n nuwe besef:  “As jy ook iets deurmaak wat vir jou bitter erg is, huil gerus, vra al die vrae wat by jou opkom. Maar moet net nie God se hand los nie. Ek weet dis nie maklik nie, veral nie as jy jou hart op iets gesit het nie.

“Ek wil jou verseker dat Hy nie sy hand van jou kop gelig het nie. Hy weet steeds hoeveel hare jy op daardie kop het. Plaas jou vertroue op Hom, en weet dat die lig weer sal skyn.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.