Xenia Jacobs van Pretoria is sedert Julie 2021 twee keer deur die dal van doodskaduwee weens Covid-19 en verwante komplikasies. Tog het die Here haar gedra en in haar behoeftes voorsien, met Psalm 23 as gids en beskerming.
In Julie 2021 was ek 54 en baie siek. Hoë koors, kortasem, ’n verskriklike moegheid, geen eetlus of reuk nie en boonop naar. Koorsblare het van my lippe af na binne my mond versprei en af na my keel toe.
Ek het in die bed gelê en gewonder hoekom ek nog nie my bloeduitslae vir Covid gekry het nie. Net hierna het ek aan die slaap geraak en met ’n skok wakker geskrik. Dit het gevoel of ’n weerligstraal my long tref – dit was ’n ongelooflike lig wat ek nog nooit tevore gesien het nie.
Ek het op my knieë geval, begin bid en gesê: “Here, spaar asseblief my lewe”.
Ek het my foon gevat en die SMS met my uitslae gesien: Dit was positief.
LEES OOK: ‘Ek koester elke oomblik na ek byna sterf’
Ek het net geweet Jesus het vir my iets probeer sê met daardie ongelooflike lig.
Die volgende oggend het my suurstof geval na 41 en daarvandaan het ek nie meer geweet wat om my aangaan nie. Ek is in die intensiewe sorgeenheid (ISE) opgeneem en op ’n ventilator gesit. Tot vandag kan ek nie onthou hoe lank ek daar was nie. Terwyl ek so siek was, kon ek alles om my hoor: mense se hulpkrete na God om hulle lewe te spaar, ’n gekners van tande – dit was verskriklik.
Toe ek dae later wakker word, het ’n suster begin huil en gesê sy het gesien hoe haal God my tussen die dooies uit.
God het my lewe gespaar, maar ek het baie newe-effekte gehad. Ek het dinge soos ’n diepaartrombose en ’n skaars aorta-siekte gehad wat bloedklonte veroorsaak.
Later was ek op suurstof by die huis tot ek op ’n dag gesê het nou los ek dit, want my God het vir my splinternuwe longe gegee.
Nadat ek die suurstof gelos het, het my maag begin swel; ek het blou en ongelooflik moeg, siek en afgemat gevoel.
Gebede vir gevangenes in Potgieterstraat
Eendag ry ek saam met my eksman Peet Jacobs Randburg toe. Op pad terug, in Potgieterstraat by die tronk, sê ek vir hom die Here sê ons moet vir daai mense bid.
Hy kyk my verstom aan asof hy nie weet wat ek nou vir hom sê nie en die volgende oomblik begin iemand ’n baie diep preek op die radio, maar die radio werk al langer as ’n jaar glád nie!
Ons albei was verstom – maar die ongelooflike gebeur toe die prediker sê ons moet vir ander mense bid en ook vir onsself in siektes en finansies. Dit was asof die Here op daardie oomblik met my praat.
Na die preek begin ’n manstem Psalm 23 te sing. Dit was so mooi, asof dit uit die hemel gekom het. Ek het begin huil en geweet die Here gee vir my daardie boodskap.
Twee dae daarna beland ek weer in die ISE. Van 23 November tot 23 Desember is ek weer op ’n ventilator en kry selfs ’n trageostomie.
‘Ek het gevoel asof ek dood was’
Die Here het my deur diep waters gevat; my hele lewe het op ’n skerm voor my afgespeel terwyl ek in ’n koma was. Ek kon alles om my hoor en ek kon myself aanmekaar hoor Psalm 23 sing. My geloof en God se genade het my gered.
’n Deel van my maag het agter my hart gaan lê weens ’n net wat voorheen tydens ’n breukoperasie ingesit is. Daar was ook ander komplikasies met my ingewande.
Ek wou baie graag weer Kersfees tuis wees. Al was ek nog baie siek en op suurstof, is ek kort voor Kersfees ontslaan. Ek was tuis, maar ek het dood gevoel, asof ek geen lewe in my gehad het nie. Ek moes weer van voor af leer loop, eet, skryf en dit het gevoel of ek geen gevoel of emosie in my liggaam het nie.
Op ’n dag het ek by God gepleit om my te help sodat ek weer kan loop, eet en skryf. Al plan waaraan ek kon dink, was om Psalm 23 met bordkryt teen my buitemuur uit te skryf.
Psalm 23 die begin van my pad saam met God
Daarvandaan stap ek ’n noue pad saam met die Here.
’n Groot skok wat ek moes hanteer, was die verlies van my voortande wat in die slag gebly het toe mediese personeel vir my pype in my keel moes insit. Toe ek uit die koma kom en ek besef God het my lewe gespaar, maar my voortande is weg, het dit vir my gevoel of ek my waardigheid verloor het. Maar intussen het ek kunstande gekry en voel ek asof ek weer my waardigheid terug het.
Ek het voorheen invorderingswerk vir radioloë gedoen, maar omdat ek so lank siek was, het ek my werk verloor. Tog het ek geweet God sal sorg.
Na my en Peet se egskeiding in 2010, het ons ’n baie goeie verhouding gehandhaaf. Ek het hom bygestaan met alles en hom soms versorg as hy siek was. As hy in die hospitaal was, was ek altyd daar vir hom. Ons kinders is reeds uit die huis uit; hulle ouderdomme wissel van 25 tot 37 jaar.
Peet het tragies in November 2023 ’n breinvirus opgedoen en gesterf. Toe ek besef hy het sy pensioengeld aan my bemaak, kon ek vir my ’n plekkie koop met die pensioengeld.
Jesus het voorsien.
Maar nog is dit nie die einde nie. Daar is probleme met die bloedvloei na my bene en daarom moet ek binnekort ’n tweede stent binne my maag kry.
Maar ek weet, Hy sál my bene genees. Hy het my reeds deur die dood gedra, Hy sorg elke dag vir my. God is groot.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.