Om saam sewe sakke sout op te eet, beteken dat jou huwelik babas, kleuters, tieners en uiteindelik ’n leë nes moet oorleef. Hierdie fases is soos die seisoene – uiteenlopend. En hier is wenke om jou huwelik in elke fase gesond en gelukkig te hou.
DEUR SUSAN GOOSEN
Hoekom moet ek aan my huwelik wérk? Werk is mos moeite, inspanning – en die huwelik is tog ’n genot, ’n Godsgawe, dan nie?
Dit is nie so eenvoudig nie, sê die kenners. “Gesonde, stabiele en standvastige verhoudings ‘gebeur’ nie sommer nie,” sê Anri van den Berg, ’n huweliksberader by Vita Nova Counselling in Pretoria. “Baie mense gaan totaal onvoorbereid in ’n huwelik in.
“Daar is ’n verwagting dat dit altyd maklik sal wees,” sê Anri. “Maar soos wat die tyd aanstap en die omstandighede verander, besef paartjies dat hul drome en verwagtinge nie meer met die werklikhede van hul verhouding ooreenstem nie.
“Om 1 Korintiërs 13 se soort liefde ’n deel van jou huwelik te maak, is nie maklik nie. Albei huweliksmaats moet verantwoordelikheid vir hul verhouding aanvaar en albei moet aktief daaraan bou.”
Dr Tienie Maritz, \’n voorligtingsielkundige in Pretoria, voeg die volgende by: “Alle verhoudings berus op werdersydse vertroue. Hierdie vertroue groei met verloop van tyd en in verskillende omstandighede. Hoe meer vertroue groei, hoe sterker die verhouding.
“In ’n huwelik groei hierdie vertroue wanneer lewensmaats mekaar se behoeftes verstaan en bevredig. Ons omstandighede verander gedurig, en só ons behoeftes. ’n Paartjie wat pas getroud is, het ander behoeftes as ouers met drie jong kinders, en as dié wie se kinders uit die huis is. Om in pas met hierdie veranderende behoeftes te bly en toepaslik daarop te reageer, vra toewyding van albei partye.”Dr Tienie Maritz, ’n voorligting- en opvoedkundige sielkundige in Pretoria, voeg die volgende by: “Alle verhoudings berus op wedersydse vertroue. Hierdie vertroue groei met verloop van tyd en in verskillende omstandighede. Hoe meer vertroue groei, hoe sterker die verhouding.
- Die begin
Tienie sê: “Die eerste tien jaar in ’n huwelik stel hoë eise aan ’n paartjie, juis as gevolg van al die veranderinge wat hulle moet trotseer. Die gevaar hier is dat huwelikskwaliteit gedurende dié tyd kan afneem vanweë die aanpassings wat, byvoorbeeld, onder een dak woon en kinders wat gebore word en die onderskeie beroepe van hulle vra.
“Statistieke wys dat ongeveer die helfte van alle huwelike in die eerste sewe jaar misluk, terwyl net 10% van die paartjies ná 20 jaar tou opgooi. Dit blyk dus dat huweliksmaats wat suksesvol deur die aanvanklike veranderinge kon werk, aan ’n sterk verhouding gebou het.”
Anri voeg by: “Dit is belangrik dat ons, te midde van die verskillende lewensfases, seker maak dat ons in voeling met mekaar bly. ’n Paartjie moet ’n doelbewuste besluit neem om saam te groei en mekaar op alle vlakke te bly ken.”
- Met klein kinders
Enigeen met babas of klein kindertjies in die huis sal alte goed weet hoe dié asempies die bestaande orde kan uitdaag. Hieroor sê Tienie: “Kinders verander die algehele kwaliteit van ’n huwelik, bloot omdat die ouers soveel tyd en energie aan die kinders afstaan. Dit is dieselfde inspanning wat voorheen aan die huweliksverhouding gegee is.
“Nou kom daar boonop eiesoortige beroepsuitdagings in dié fase en dit plaas verdere druk op die huwelik. ’n Gebrek aan tyd en energie kan daartoe lei dat intimiteit in hierdie fase afgeskeep word.”
En dan is daar natuurlik die gebrek aan slaap. Anri waarsku dat juis dit tot verhoogde irritasievlakke kan lei.
Verskillende ouerskapstyle kan ook tot konflik lei. Anri verduidelik: “Die ouers se onderskeie benaderings tot dissipline het baie met hul eie agtergrond en opvoeding te doen – en indien daar groot verskille is, kan dit wrywing tot gevolg hê.
Wenke vir dié seisoen
- Wees eerlik oor die nuwe uitdagings en jou behoeftes. Moenie eenvoudig aanneem dat jou maat verstaan nie.
- Wees geduldig met mekaar.
- Maak tyd vir julle twee – nét julle twee. Vra ’n ouma of ’n vriendin om die fort te hou, gaan drink dan saam koffie of gaan stap ’n ent. Wag saans tot die kinders in die bed is, skakel die selfone en televisie af en praat met mekaar oor die dag wat verby is. Luister na jou maat se hart.
- Wees ’n span en verdeel die verantwoordelikhede wat met jul huishouding gepaard gaan. Help jou maat om te rus.
- Hanteer konflik op ’n sagte manier en neem in ag dat jou maat dalk oormoeg of óór-emosioneel is. Moenie voor die kinders baklei nie. Moenie kritiseer, beskuldig of jouself probeer verontskuldig nie.
- Bid vir mekaar en vir jul kinders.
- Met tieners
Net wanneer jy jou op die skouer wil klop omdat die kinders uit die doeke is, kan fietsry en lees en fluks in die skool vorder, slaan die tienerjare toe …
O wee! sug Anri. “Klein kinders, klein probleme; groot kinders, groot probleme!
“Buiten die snelle fisiologiese veranderings en die gepaardgaande emosionele uitdagings, het tieners boonop ’n groterwordende behoefte aan vriende. Dit is normaal. Maar hul vriendekring het dikwels ’n groot invloed op die res van die gesin. Is julle hierop voorbereid?
“Nou is daar ook groter finansiële eise: skool- en koshuisgelde, buitemuurse fooie en al die ander dinge waarop tieners reken hulle geregtig is.”
Tienie sê: “Die tienerfase word gekenmerk deur die konstante losmaak-proses van tieners binne veilige grense. Tieners se gedrag laat ouers dikwels twyfel oor die sukses van hul opvoeding, en aan die drome en verwagtinge wat hulle vir hul kinders het.
“Baie tyd en aandag word afgestaan aan die kinders se veranderende behoeftes – emosioneel, fisies, sosiaal en intellektueel. Én om ’n gesonde vertrouensverhouding te bou. Dit kan soms vir die ouers voel asof die kinders en hul maats, en al die aktiwiteite en eksamens, die huis heeltemal oorgeneem het.
“En,” voeg Tienie by, “in baie gevalle moet die ouers in hierdie tyd ook by die versorging van hul eie ouers betrokke raak.
“Al hierdie uitdagings plaas groot druk op die huwelik – en die werklike gevolge hiervan word dikwels eers in die volgende fase gesien, wanneer die kinders die huis verlaat en daar skielik ’n stilte oor alles en almal neerdaal.”
Wenke vir dié seisoen
- Stel ’n positiewe voorbeeld wat julle verhouding betref. Wat die kinders hier as voorbeeld sien, beïnvloed hul eie verwagtinge rondom verhoudings.
- Maak steeds tyd vir mekaar. Dit behoort nou makliker te wees om vir ’n aand of selfs ’n kort vakansie weg te gaan. Kinders moet besef dat hulle nie belangriker as jul verhouding is nie. Leer hulle om hierdie alleen-tye te respekteer.
- Sorg vir pret in jul gesin. Speel speletjies en vestig rituele.
- Kommunikeer eerlik en ondersteun mekaar.
- Die leë nes
Volgens Anri kan dit gebeur dat ’n egpaar met verloop van tyd uit mekaar dryf, veral wanneer hulle deurentyd op hul kinders of op hul onderskeie beroepe fokus en nie op mekaar nie. Die tyd wat hulle tot hul beskikking het, word tussen al die baie verantwoordelikhede verdeel. Gevolglik trek die huwelik aan die kortste end.
Wanneer die kinders op ’n dag die huis verlaat, kan dit die ouers depressief, magteloos, en onseker laat. Dit gebeur ook byvoorbeeld wanneer een ouer baie na hierdie nuwe fase uitgesien het, terwyl die ander een eintlik daaroor rou.
“Natuurlik bly jou kinders steeds jou kinders,” sê Anri, “en die feit dat jy in baie gevalle nie meer kan help wanneer hulle probleme kry nie, kan vir menige ouer ’n swaar las wees om te dra.”
Tienie sê dat die uitdaging nou daarin lê om die fokus na nuwe aktiwiteite te verskuif, dinge wat net die paartjie insluit. Hulle is egter dikwels nie voorberei daarop om die verhouding te herstruktureer nie. Boonop is die verwaarlosing wat nog uit vorige fases kom in baie gevalle té prominent. Dit alles maak die saam wees ingewikkeld, en selfs ongemaklik.
“Maar,” sê Tienie, “dié tyd kan juis die begin wees van ’n wonderlike, nuwe avontuur waar paartjies mekaar opnuut ontdek, stokperdjies kan beoefen, kan reis, ’n sportaktiwiteit kan aanpak of deur hul gemeente of ’n diensorganisasie ’n positiewe verskil in die samelewing kan maak.Tienie sê dat die uitdaging nou daarin lê om die fokus na nuwe aktiwiteite te verskuif, dinge wat net die paartjie insluit. Hulle is egter dikwels nie voorberei daarop om die verhouding te herstruktureer nie. Boonop is die verwaarlosing wat nog uit vorige fases kom in baie gevalle té prominent. Dit alles maak die saam wees ingewikkeld, en selfs ongemaklik.
Wenke vir dié seisoen
- Dink aan watter dinge julle nog altyd saam wou doen, maar waarvoor julle destyds nie tyd of geld gehad het nie.
- Probeer iets nuuts: Beplan ’n vakansie of sluit by ’n klub of uitreikaksie aan.
- Bly betrokke by jul kinders se lewe deur vir hulle te bid en raad of hulp te gee wanneer hulle daarvoor vra. Waak daarteen om oor te neem of namens hulle besluite te neem.