Foto’s: Sonja Coetzee
Dié bekende kok het reeds verskeie verpletterende terugslae beleef, maar sy het nog altyd die vermoë gehad om op te staan en van nuuts af te begin. Nadat haar huis in November 2022 afgebrand het en al haar aardse besittings vernietig is, het sy soos ’n feniks uit die as verrys en nuwe vlerke gekry.
Die 16de November 2022 was ’n heerlike sonskyndag in die Kaapse Wynland. Daar het nie ’n briesie getrek nie. Renette Vosloo, alombekende sjef wat in 2014 vierde in kykNET se Kokkedoor-kompetisie geëindig het, het saam met familie en haar woonstelmaat Zalman Davis by haar huurhuis in Raithby, buite Stellenbosch, gebraai.
“Ons het buite vuur gemaak, in ’n ou kruiwa wat ek destyds van Pringlebaai af gebring het, van ons restaurant in die Hangklip-hotel. Eensklaps het ’n fratswind opgekom en ’n kooltjie het op die huis se grasdak beland. Die dak het dadelik vlamgevat.
LEES OOK: ‘Ek bly hoopvol, want ek is in God se ICU,’ vertel Annelie Botes ná amputasie
“Ons het met twee brandblussers probeer om die vuur te blus, maar dit het nie gewerk nie. Ons het toe besef ons moet dadelik daar wegkom, en net die kinders gegryp, en selfone en handsakke, en gehardloop.”
‘My hele geskiedenis in ’n oogwink uitgewis’
Haar eerste reaksie was: “Nee! Dit kan nie met my gebeur nie! Ek was stomgeslaan en het in ’n patetiese bondeltjie net daar gesit. Ek het verslae na die brand gekyk, so asof ek nie deel was van die verwoesting wat voor my oë afgespeel het nie.”
Van die bure het aangehardloop gekom en probeer help, maar hul pogings om die vuur te blus was tevergeefs.
Renette sê sy het alles in die brand verloor – en dit was nie verseker nie.
“Ag, daar was so baie sentimentele dinge … Soos die stoof wat ek met een van die uitdagings in Kokkedoor gewen het. En ’n stofie waarop ek in die TV-reeks Rooitamatie, wat ek saam met John-Henry Opperman aangebied het, het ook in die slag gebly. Al my spysenier-toerusting.
“Daar was so ’n mooi kassie, wat ek nog geverf het, wat sedert my kosmaak-dae in Cullinan saam met my getrek het. Kosbare boeke, soos my Breyten Breytenbach-digbundels. My trourok.
“Dit was alles deel van my vesel, soos ’n tapisserie. Dit was asof die brand my hele geskiedenis in ’n oogwink uitgewis het.”
Maar dan voeg sy by: “Gelukkig vir moderne tegnologie, want al daardie aardse besittings is op my Facebookblad, en ek kan steeds daarna kyk. ’n Silwerrandjie om die donker wolk is dat wanneer ek nou weer moet trek, daar nie so baie is om mee te trek nie …”
Haar seun Gerhard, wat in Pretoria woon, het vir haar gesê die brand was eintlik ’n “purge”, ’n reiniging.
‘Om getraumatiseerde mense te ondersteun’
Renette vertel hoeveel engele daar om haar was, mense wat hulle ná die ramp bygestaan het. Rosa, ’n buurvrou, het haar byvoorbeeld ná die brand ’n kalmeermiddel ingejaag en huisvesting gegee. “Ek het nie eens ’n ekstra broekie gehad nie; al my klere is uitgebrand.”
Ja, sy was baie kwaad, en het gevra hoekom haar oorlede man Emile haar met “al die gemors” gelos het. Emile (sy het hom “Mielie” genoem) is op 11 September 2020 skielik oorlede. “Ek sê nie ’n mens moenie vasklou aan aardse en veral sentimentele besittings nie, maar ek het besef jy moet die een of ander tyd net laat gaan.
“Ek het oor die kole geloop, en uit die vuur en as soos ’n feniks verrys. My ou vlerke het dalk afgebrand, maar ek het nuwe vlerke gekry waarmee ek nou weer kan vlieg.”
Deesdae, sê sy, word daar baie op depressie en die bewusmaking van depressie gefokus. “Maar ons maak te min van trauma en hoe ’n mens dit moet verwerk, hoe ons daardeur kan kom. En hoe ons getraumatiseerde mense kan ondersteun.”
‘Dis nie God se skuld nie’
Sy sê sy vra nooit hoekom soveel swaarkry juis háár tref nie. “Ek het my derde kind net voor geboorte verloor. Dit was 14 maande ná my dogter Maia se geboorte.
“Ek het altyd gesê as ek ’n kind verloor, moet hulle my ook maar begrawe. Ek het egter toe reeds besef dat ek nie God daarvoor kan kwalik neem nie. Dit is soos die lewe is, en wanneer ons teëspoed beleef, leer ons sekere lesse. Dis nie God se skuld nie.
“Ek vra Hom eerder vir wysheid en krag, ek vra Hom hoe ek die situasie moet hanteer en oorbrug. My boodskap aan die wệreld is dat ’n mens nie God ‘die monster’ moet maak nie; dis nie Hy wat die swaarkry oor ons lewe bring nie. Ons moet net ons hand in syne plaas.”
‘Solank ek en my diertjies kos het om te eet …’
Dis nou byna nege maande ná die brand, en dit gaan eintlik goed met haar, sê Renette. Sy huur tans ’n gerieflike tuinwoonstel in die Strand, nie te ver van Maia nie, wat in Helshoogte woon.
“Ek gaan voort met my lewe en probeer kop bo water hou. Solank ek en my diertjies kos het om te eet, gaan dit goed.”
Sy sê sy doen in hierdie stadium werk wat na haar kant toe kom. “My skoonseun Francois is in die wynbedryf, en hy en ek bedryf af en toe ’n ‘pop-up-restaurant’. Ek moes nou die dag ook help om ’n restaurant se spyskaart te verfyn.”
Daar is tans geen planne om ’n nuwe kookboek aan te pak nie. “Maar ek is lief vir skryf, en ek oorweeg dit om ’n roman te skryf. Dalk een waarin stories en resepte gekombineer word.
“En ek sal graag in die nabye toekoms ’n sabbatsreis wil aanpak na Tipperary, Ierland. Dis waar my voorsate vandaan kom.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.