’n Nuwe tendens is die afgelope paar jaar in Amerika geïdentifiseer: egskeiding by mense ouer as 50. Maar ook in Suid-Afrika is daar talle volwasse kinders wat moet vrede maak met die feit dat hul ouers nie meer ’n paartjie is nie. Deur Conette le Roux
Toe die voormalige Amerikaanse vise-president, Al Gore, en sy vrou, Tipper, dit in 2011 bekend maak dat hulle van mekaar gaan skei – en dít ná ’n huwelik van 40 jaar – was almal geskok. Om nie van hulle vier kinders te praat nie.
Dié gebeurtenis het die term “grey divorce” die lig laat sien, en verwys na huweliksmaats van 50 en ouer wat van mekaar skei. En dit het, volgens Susan Brown, ’n Amerikaanse sosioloog, navorsers genoegsaam geprikkel om ’n hele aantal studies in dié verband van stapel te stuur.
Dié navorsing het onder meer uitgewys dat die egskeidingsyfer vir Amerikaners bo 50 sedert 1990 verdubbel het. En meer as die helfte van dié “gryse egskeidings” is dié van paartjies wat langer as 20 jaar getroud is.
Moontlike redes
In Suid-Afrika is daar nog nie hieroor formeel navorsing gedoen nie. “Maar,” sê
dr Nola Redelinghuys, hoof van die departement sosiologie by die Universiteit van die Vrystaat, “ons kon vanuit ’n demografiese vertrekpunt ’n hele paar afleidings maak.
“Eerstens moet ons weet dat die lewensverwagting in Suid-Afrika vanaf 52 jaar in 2005 na 61 in 2015 gestyg het. Bejaarde mense het deesdae die vooruitsig om veel ouer te word. En indien hulle in ’n ongelukkige huwelik vasgevang is, word egskeiding eensklaps ’n opsie; hulle weet dat hulle na alle waarskynlikheid nog ’n lang en redelik gesonde leeftyd voor hulle het. En daarom besluit hulle om nie langer in so ’n huwelik te bly nie.
“Ek vermoed,” sê dr Redelinghuys, “dat hierdie demografiese rede wel ’n toename in egskeiding onder Suid-Afrikaanse bejaardes tot gevolg het. Maar dit is net ’n vermoede, omdat daar geen statistiek beskikbaar is wat dit bevestig nie.
“’n Mens moet in gedagte hou dat daar ander sosio-ekonomiese faktore is wat ook ’n rol sal speel, soos vroue se geleidelike toetrede tot die arbeidsmark. Baie bejaarde vroue is dus deesdae in ’n veel beter finansiële posisie as hul susters van ’n paar dekades gelede, en nie meer finansieel-gesproke afhanklik van ’n eggenoot nie.
“En dan is daar die nuutgevonde vryheid wat saam met die leë nes-fase kom. Ook dit maak egskeiding in hierdie lewensfase ’n oorweging.”
‘Hoekom nou?’
Die nuus dat Ouma en Oupa gaan skei, stuur natuurlik skokgolwe deur ’n familie.
Hoekom nou, ná al die jare? Dit is gewoonlik die kinders se eerste vraag. Gevolg deur krete soos: Van wanneer af is daar dan sulke groot probleme tussen julle? Ons het nie gedink dit is só erg nie – is dit iets wat óns gedoen of nie gedoen het nie? Was ons grootwordjare dan ’n leuen? En, Ma en Pa, wat sê ons vir julle kleinkinders …?
“Jou ouers se egskeiding is ’n moeilike, selfs traumatiese gebeurtenis – dit maak nie saak of jy 13 of 30 is nie,” sê Ine de Vries, voorligtingsielkundige by Family Focus Therapy Centre in Bloemfontein.
“Volwasse kinders wie se ouers skei, beleef dikwels intense gevoelens – verlies, ongeloof, hartseer en woede, en maak ’n rouproses deur wat soortgelyk is aan dié waardeur ’n jonger persoon gaan wanneer dié se ouers skei,” sê Ine.
Volgens haar is daar talle probleme waarmee hierdie volwasse kinders kan worstel. “Dikwels word ouers se liefde en sorg gedurende die kinderjare nou bevraagteken. Volwasse kinders wonder of hulle herinneringe aan hul grootwordjare ooit eg en betroubaar is.
“Gepaard hiermee ervaar hulle ook skuldgevoelens dat hulle ouers dalk ‘ter wille van die kinders’ bymekaar moes bly, en dat hulle (die kinders) hul ouers van ’n gelukkiger lewe beroof het.”
Daar vind waarskynlik ook nou ’n omruiling van rolle plaas, sê Ine.
“Die geskeide ouers steun nou meer op die kinders vir hul emosionele, finansiële en praktiese behoeftes.
“Die ouers se egskeiding het dalk ook ’n ander, onvoorsiene gevolg: hulle volwasse kinders se verhouding met hul eie lewensmaat. Veral wanneer daar ook huweliksprobleme voorkom.
Dan is daar ook die komplikasies wat die (straks onvermydelike) kantkiesery bring: Aan wie se kant is jý, Ousus? Pa of Ma s’n …?
Ine sê: “Die kinders moet besef dat hulle ouers se egskeiding nie hul gelukkige kindertydherinneringe of die liefdevolle verhouding met hul ouers uitwis nie. “Nog minder is jou ouers se egskeiding nou ’n maatstaf vir jou huwelik. Versorg eerder jou huwelik met ’n hernieude ywer. En bespreek jou vrese en bekommernisse openlik met jou maat.”