Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Weduwee se tuin van genesing: ‘Moet nooit nalaat om gasvry te wees nie’

Andriette Marais en haar man en hul vier kinders het eens gelukkig op hul plaas naby Kroonstad gebly. Die egpaar het beplan om saam oud te word, om elke sonsopkoms langs mekaar te beleef en om ’n lewe van eenvoud en vrede te lei.

Hul idilliese bestaan is egter binne agt maande omvergegooi nadat haar man met kanker gediagnoseer en kort daarna oorlede is. “Toe ek my kom kry, is my voete onder my uitgeruk,” vertel Andriette vandag.

En niks het haar voorberei op die leegheid en seer wat gevolg het nie. Haar wêreld het ’n woestyn geword.

Sy en die kinders moes, noodgedwonge, Bloemfontein toe trek. “Ek het voor ons nuwe huis op ’n trappie gesit en na ’n leë, dor landskap gestaar, omring deur wit mure.

“Ek het wel beleef hoe die Here saam met my op die trappie sit en met ander oë na dieselfde woestyn kyk. Hy het geweet wat Hy vir my beplan. Ék het nie geweet nie, maar ek ken Hom en ek het geweet Hý weet.

“Die mense sê tyd genees alle wonde. Maar ek het gevind dat tyd niks genees as jy nie bereid is om jou seer na God toe te neem nie.”

LEES OOK: Boervrou getuig te midde van droogte, kanker: ‘Jy leer kinderlik glo wanneer die uitsigloosheid jou baasraak’

’n Woestyn vol hartseer

Sy het probeer om kop bo water te hou. Sy het voortgegaan met haar gewone dagtaak, sy het haarself gedwing om soggens op te staan en die dag aan te durf. Maar daar was ’n seer wat nie wou wyk nie.

“Ek het gevoel asof ek in my eie hartseer verdrink. Daar was dae waarin ek nie vir mense kans gesien het nie. Ek wou net wegkruip.”

Maar selfs in daardie donker tyd het sy ’n lig gesien. Sy het geweet dat sy nie alleen is nie, dat daar Iemand is wat haar pyn verstaan.

“Die Here het my in die middel van my woestyntjie raakgesien,” vertel sy. “Dit was asof die hemele oopgegaan en Hy sy mooiste engele gestuur het om my daaraan te herinner dat ek nie alleen is nie.”

Daardie wete, daardie diep sekerheid dat God haar nie vergeet het nie, het haar deur die donker routyd gedra.

’n Nuwe begin tussen wit blomme

Andriette het haar seer en trane in die grond ingewerk. Letterlik. Sy het begin tuinmaak, ’n eenvoudige daad wat aan haar ’n bietjie vrede gegee het.

“Dinge moes nou anders word,” vertel sy. “En ek het besluit om ’n tuin vol spierwit blomme te plant om my te herinner aan suiwerheid, aan genesing en aan God se beloftes.”

Haar hande het die grond omgedolwe en haar trane het dit natgemaak, en stadig maar seker het daar lewe gekom. Die tuin het ’n heiligdom geword, ’n plek van herstel vir haar gebroke hart.

Dit het ook ’n plek geword waar sy haar emosies vrye teuels kon gee. Elke plant wat geblom het, was die simbool van ’n stukkie seer wat sy verwerk het.

Maar die Here se planne vir haar tuin was uiteindelik groter as ’n blote private toevlug. “Ek het gedink die tuin is net vir my,” sê sy, “maar toe besef ek God wil hê ek moet dit met ander deel.”

Andriette se lewe het weer kleur gekry, en sy is vyf jaar ná haar groot verlies met Gert getroud. Foto verskaf

’n Teetuin vol hoop

Andriette het besluit om haar passie vir kuns en kosmaak met mekaar te versoen en om ander daarmee te bedien. Haar persoonlike oase het toe ’n teetuin geword, ’n plek waar besoekers nie slegs tee en fyngebak geniet nie, maar ook vrede en hoop vind.

Sy vertel: “Namate ek ervaar het hoe die Here my gebruik om ander gesond te maak en te bedien, het my tuintjie al hoe meer kleur begin kry.”

Vandag is die tuin prentjiemooi, niks minder nie as ’n paradys wat sy soms “God se tuin” noem. “Daar is ’n handgeverfde engel om elke draai, en elke engel herinner my aan die Here se beloftes en sy plan vir my lewe.”

Die teetuin het ’n toevlugsoord geword, ’n plek waar mense kan stil word en asemhaal. Andriette se leuse vir haar tuin kom uit Hebreërs 13:2: “Moet nooit nalaat om gasvry te wees nie, want jy weet nooit wanneer ’n engel deur jou huis kom nie.”

Sy glo vas dat elke mens wat haar tuin besoek met ’n rede daar is, dat hulle deur God gestuur is. “Wees vir mekaar ’n engel,” sê sy. “Sien die mense om jou raak en onthou dat ons die Here se hande en voete is.”

Genesing deur gasvryheid

In Andriette se teetuin word mense oorvloedig bedien. En op ’n unieke manier: Wanneer haar gaste ’n spesiale geleentheid wil vier, bespreek sy die hele tuin net vir hulle.

“Ek wil hê hulle moet voel dat hulle ’n koninklike oomblik beleef,” verduidelik sy. “Hulle kry ’n kroon op die kop om hulle te herinner aan die belofte in Jesaja 62:3: ‘Ek sal jou soos ’n sierlike kroon in my hand hou.’”

Dié eenvoudige simbool laat die gaste hul waarde in God se oë besef.

Wat eens vir haar ’n dorre woestyn was, is nou ’n tuin in volle blom. Ja, Andriette se lewe het weer kleur gekry, en sy is vyf jaar ná haar groot verlies met Gert getroud.

Haar teetuin en lewe is ’n tasbare getuienis van Jesaja 58:11: “Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.”

Andriette weet hoe dit voel om deur ’n donker nag te moet gaan, om alleen en verlore te voel. Maar sy weet ook hoe dit voel om weer op te staan.

“Jesus in my hart en my oë op die hemel,” sê sy. “Dit is hoe ek geleer het om te lewe.”

Sy vertel dat sy by elke moontlike geleentheid haar getuienis van opstaan en hoop met ander deel. “Ek sê aan die besoekers dat hulle, ten spyte van swaarkry, met ’n verwagting moet lewe. Hulle moenie moed opgee nie, want God sal vir hulle sorg.”

Die gaste vertel ná die tyd dat hulle hul geliefdes opnuut leer waardeer. En dat die krone, wat Andriette uitdeel en oor elk ’n seënwens uitspreek, hulle diep raak.

Andriette noem haar teetuin “God se tuin”. “Daar is ’n handgeverfde engel om elke draai, en elke engel herinner my aan die Here se beloftes en sy plan vir my lewe,” vertel Andriette wat self die engele skep en verf. Foto verskaf

‘In elke seisoen was Hy by my’

Andriette se storie is een van rou, genesing en uiteindelik oorvloed. Sy het die diepste seer denkbaar deurgemaak, maar sy het ook gesien hoe God alles nuut maak.

“Die Here het my van ’n tuin na ’n woestyn gelei, en toe na ’n teetuin,” vertel sy. “In elke seisoen was Hy by my.”

Vandag stap mense deur haar tuin en ervaar iets van daardie soort genesing. Hulle vind rus. Hulle vind hoop.

En, soos sy altyd sê: “In die Here se tuin is elke dag ’n spesiale dag.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF