DEUR ADRI COETZEE
Ek is, soos my man Leon, ’n algemene praktisyn in Keetmanshoop in Namibië. Ons word daagliks met siektes gekonfronteer, ook kanker. Ons het vier kinders – Nico (19), Jurgens (17), Karien (15) en Leandri (12) wat in ’n huis grootword waar praatjies oor gesondheidsake alledaags is.
Ek beskou dit as my plig om te sorg dat alle vroue bo 40 gereeld ’n mammogram laat doen. Ook my sussies en my ma, al kom daar nie kanker in ons familie voor nie. Ek het nie tyd om self te gaan nie.
Die aand van 1 September 2020 kom ek uit die stort – en my oog vang ’n vel-induiking in my regterbors. Ek skrik, en ek voel dadelik. ’n Knop.
Ek ken die kliniese tekens van borskanker, en die mat word onder my uitgeruk. Ek gaan wys dadelik vir Leon. Dis grendeltyd en reis tussen streke is verbode. Ek sê hom die mammogram kan maar eers wag; hy sit sy voet neer en sê dit moet so gou moontlik gebeur. Ek maak ’n afspraak in Windhoek. Dit sal my eerste mammogram wees. Ek is 45 jaar oud.
Deurentyd worstel ek met God. Nee, Here, nie ék nie, dit kan nie wees nie …
Daardie Donderdagmiddag ry ek en Leon Windhoek toe. Net ons twee. Ons vertel die kinders ons het sake om daar af te handel, hulle weet niks. Leon is daarvan oortuig dis nie kwaadaardig nie en ek stem hardop saam met hom; in my hart wonder ek.
Terwyl Leon by ontvangs wag en ek by die mammogramkamer ingaan, is dit asof iets my vasdruk. Ek hoor hoe God sê: “Ek is met jou.”
Toe die radioloog later inkom om ’n sonar te doen, toe weet ek wat hy gaan sê. Dit is toe so, en hy sê dat hy nou ook ’n biopsie moet doen. Ek lê net daar, ek sê vir myself: “Nee, dit kan nie wees nie, julle maak ’n fout, ek makeer niks, laat my net gaan.”
LEES OOK: #2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’
Toe ek uiteindelik kan uitgaan, sien ek vir Leon. En ek sien hy weet. Die trane in sy oë het my so geraak dat ek op die plek besluit het: Dié ding sal ek beveg! Dr Eagles, die chirurg, kom na ons toe – en die eerste ding wat hy doen, is om vir ons te bid.
Ons moes terug Keetmanshoop toe en die volgende Sondag weer Windhoek toe kom. Maandag wil hulle eers ’n biopsie van die kliere in my oksel doen, die sonar het iets daar uitgewys en hulle is bekommerd.
Ek is egter baie positief en werk in my kop uit hoe dinge verder gaan verloop. Dis sommer ’n vinnige prosedure, maak ek myself wys.
Daardie aand toe ons by die huis kom, moet ons aan ons vier kinders die nuus oordra. Ons sê hulle moet by ons kom sit, dat daar iets is wat ons hulle moet vertel. In dié huis waar daar baie oor mediese dinge gesels word, ken ons kinders die woord “kanker”.
Leon vertel hulle. Toe hulle “borskanker” hoor, sien ek die verslaentheid. Nico en Jurgens se eerste woorde is: “Gaan Mamma doodgaan?” Leandri vra: “Gaan Mamma nou bles word?” Karien se ongeloof en trane wil woordeloos weet: “Gaan ek dit ook kry?”
Op daardie oomblik het ek besef ek het ’n keuse. Óf ek besluit om hierdie K-ding te beveg, al is dit ook hoe moeilik, óf ek gee oor en laat dit sy gang gaan. Ter wille van die vyf mense wat daardie aand by my gesit het, het ek besluit laat-maar-gaan is nie ’n opsie nie. En ek het aan hulle gesê hulle moet onthou ek is nie ’n “quitter” nie, maar ’n “fighter”.
LEES OOK: ‘’n Klippie genade op my borskankerpad’
Die Maandagmiddag ná die biopsie het dr Eagles aan my gesê die biopsie-uitslae van my bors wys kanker, maar dit lyk goed. Ek het dus, tipies ek, besluit dat die uitslag van die kliere-biopsie ook gunstig sal wees. Ek wou dadelik ’n afspraak maak vir die mastektomie en het gevra: “Hoe lank voor ek weer kan begin werk?”
Dit was nie so eenvoudig nie. Ek moes eers die Woensdagoggend die onkoloog, dr Sybil Eksteen, gaan spreek om die uitslae van die kliere-biopsie te kry.
Daarop het ek met Leon afgespreek dat as Woensdag se afspraak agter die rug is, ek dr Eagles sal bel en sommer die volgende week die chirurgie laat doen.
Vroeg Woensdagoggend bel dr Eagles my met slegte nuus. Die kanker het inderdaad na die kliere versprei. Nog ’n keer word die mat onder my voete uitgeruk. Dit kán tog nie wees nie …
LEES OOK: ‘Ek droom altyd ek loop weer’
Uit dr Sybil Eksteen se tegniese verduideliking lei ek toe af dat die kanker hormoonafhanklik is, en die verspreiding na my kliere beteken dis in stadium IIB. Dit hou onder meer in dat daar agt sessies chemoterapie elke drie weke op my wag. Asook bestraling, ’n histerektomie, en ’n tien jaar-kankerpil.
Ek hoor haar aan, en ek vra: “Kan die chemoterapie nou begin?”
Nee, sê sy, ek moet eers weer terug Keetmanshoop toe. Toe verduidelik sy die newe-effekte, onder meer haarverlies wat gewoonlik op Dag 10 begin.
Terwyl ons terugry, werk ek dit in my kop uit: 18 September is my eerste chemoterapiesessie; Dag 10 is die 28ste, dis my 46ste verjaardag. Ek gaan dus op my verjaardag my hare afskeer. As ek Vrydag chemoterapie kry, sal ek Maandag kan werk; as ek agt sessies kry, is die agtste een op 12 Februarie. So beplan ek vooruit.
Leon kyk na my en sê: “Stop! Moenie jou lewe probeer reël nie, moenie nou probeer uitwerk hoe en wat en wanneer nie; laat God beheer neem.”
En daar leer ek my eerste les op hierdie pad. Gee alles oor aan Jesus, laat Hy die bestuurder van jou lewenskarretjie wees. Jy moet na die passasiersitplek oorskuif.
Dit was ’n baie moeilike les. Maar só lui my motto nou: “Buig laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. Hy sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en Hy sal jou op ’n ereplek langs Hom laat staan, regop, kop omhoog.”
NOTA: Ek sukkel soms met Meniere-sindroom, dis ’n toestand waar jou gehoor aangetas word, jy beleef balansversteuring en ’n suising in jou ore. Ná ’n heupvervanging in Desember 2018 het ek erge probleme daarmee gehad.
Op ’n Sondag in Augustus 2020 is daar in ons kerk gevra of daar iemand met oorprobleme is, want daar sal vir diesulkes gebid word. Nico het aan my gestamp en gesê ek moet vorentoe gaan. Ek wou eers nie. Ons bid al so lank self daarvoor, en buitendien hou ek nie van voor staan in die kerk nie. Maar ek staan toe op en daar word vir my gebid.
Terwyl ons ná die diens terugry, tref dit my eensklaps: My ore is reg!
Dit het my weer laat besef hoe groot en hoe getrou God is. Ek weet Hy gaan ons ook op hierdie kankerpad dra.
* Het jy ’n getuienis wat jy met LiG-lesers wil deel? Stuur jou verhaal na lig@tydskrifte.co.za.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.