DEUR DEONETTE DE KOCK
Ses maande gelede moes Mari van Rooyen die skoknuus aanhoor dat haar 16-jarige seun in graad 10, wat ná skool medies wil gaan studeer, ’n seldsame, aggressiewe soort kanker het. As gelowige ma ondersteun sy hom voluit in sy stryd.
‘Die skok was enorm’
“Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie steeds hoop dis ’n nagmerrie waaruit ek gaan wakker skrik nie,” sê Mari van Rooyen van Kenridge, Durbanville oor haar jongste, Ruben, se kankerdiagnose.
Mari vertel dat Ruben vier jaar gelede baie siek was. Hy is met ’n chroniese toestand, ruminasiesindroom, gediagnoseer. Dis ’n probleem met sy spysverteringstelsel en hy moes deur ’n pyp gevoed word.
Verlede jaar het Ruben, ’n positiewe en liefdevolle kind, vir die eerste keer begin beter voel. Toe gebeur die ondenkbare.
Sy ma vertel: “Op 23 Oktober 2022 het Ruben gekla oor ’n knoppie op sy linkerboud. Groot was my skok toe die knop soos ’n gholfbal onder die vel voel.”
Hoewel dit nie seer was nie, het Mari en haar man Ryno dadelik gesorg dat daar ’n MRI-skandering en ’n sonar-ondersoek gedoen word. ’n Groot groeisel is uit die gluteus maximus in Ruben se linkerboud verwyder en vir ontleding weggestuur.
Op 10 November kry hulle toe die nuus: Ruben het kanker.
Mari onthou: “Die skok was enorm. Dit was vir my net ondenkbaar dat my kind kanker het. Maar dit was Ruben wat my buite die spreekkamer vasgedruk en vertroos het.”
Die wrede werklikheid
Ruben het alveolêre rhabdomyosarkoma, ’n aggressiewe soort kanker wat reeds tot fase 3 gevorder het. Dis uiters seldsaam. Dit versprei deur jou spiere, senuwees, organe en limfkliere. Ruben se kanker het nog net in die pelvis-area versprei.
Waar die kanse op oorlewing vroeër jare maar 20% was, is dit danksy die vooruitgang in die mediese wetenskap nou 80%.
Mari vertel: “Ek het baie lank met die wrede werklikheid geworstel. Ek was sprakeloos, geskok. Die trane het dae lank onophoudelik oor my wange geloop. Ek is so afhanklik van God se genade, want my hartseer is baie groot, baie werklik en baie intens.
“Ek kan slegs bly glo dat God se pad die regte pad is, al is dit hoe swaar. Ek praat die hele dag met Hom. Ek doen dit met woorde – maar soveel meer deur my stilte. Ek het geen handleiding oor hoe om Ruben op die beste manier te help nie. Slegs in stil oomblikke kry ek daardie leiding.”
Die sarkoom is verwyder en Ruben het die eerste chemoterapie-sessie op 5 Desember 2022 getrotseer. Die chemoterapie en bestraling vir dié soort kanker behels ’n aggressiewe program. Ruben is op ’n 46 weke-skedule geplaas, en hy het reeds 14 chemoterapie-sessies agter die rug, asook 23 sessies bestraling.
Mari sê: “Ons begin elke behandelingsessie met ’n gebed om die Here te dank vir die mediese sorg wat Ruben kan ontvang om gesond te word, vir die voorreg daarvan, en vir die kans op oorlewing wat dit hom bied.”
Die “kleiner” chemoterapie-sessies is minder intens, maar die groot sessies behels dat hy oornag in die hospitaal opgeneem word, en bykomende medikasie.
Ruben het 23 dae lank elke dag bestraling ontvang. “Die proses is eenvoudig,” vertel Mari, “en die masjien is indrukwekkend. Maar die emosionele tol om elke dag na Cancer Care te gaan en jou siekte in die gesig te staar, was erg vir Ruben. My hart het keer op keer gebreek.”
Klippies om te raam
Mari vertel hulle het as gesin saam besluit hoe hulle Ruben se kanker sal benader: deur oor alles te praat – hul gevoelens, hul vrese, dit waarop hulle hoop en dit waaroor hulle bekommerd is. “Saans praat Ruben en ek oor sy grootste vrese en sy gelukkigste oomblikke. Ons lag, huil, wonder en hoop dan saam.”
Dis nie ’n pad wat ’n mens alleen loop nie. Jy benodig versorgers, ondersteuners, kamerade, vertroosters, aandag-afleiers en gebedsoldate. Hulle het ’n WhattsApp-groep begin en hulle doen daarop verslag van Ruben se reis. Ruben se maats, familie en selfs ’n oudonderwyseres het hom al tydens sy behandelingsessies bygestaan.
“Ongelukkig is daar steeds kinders wat onsensitief is. Wat staar, wat kommentaar lewer oor sy hare, wat agteraf fluister. Gelukkig is dit net ’n handjievol. Die meerderheid is maats vol deernis en empatie. En hulle ondersteun hom báie.”
Mari reken ook dat Ruben se reis nie ongesiens moet verloop nie, en sy neem ’n foto by elke prosedure, en elke chemoterapie- of bestralingsessie.
“Ons vier gesinslede (Ruben het ’n suster, Amelia, wat 20 jaar oud is) het gaan klippies optel sodat Ruben ná elke behandeling ’n gepaste klippie daarvoor kan kies. In die Bybel het die Here die Israeliete laat klipaltare bou om bepaalde gebeure en sy beloftes te onthou. Ons gaan later Ruben se klippies vir hom raam, want hierdie reis is vir altyd deel van sy vorming as mens.”
‘My wonderlike gesin’
Oor die uitdagings op sy pad sê Ruben: “Die ergste vir my is die baie dinge wat ek misloop: skoolaktiwiteite, my maats en hulle dinge. Alles gaan verby … sonder my. Omdat ek ’n sosiale mens is, maak dit seer. Ek het ’n A-gemiddeld behaal tot in graad 9, en erekleure gekry vir noodhulp.
“Die alleenheid is erg, soos ook die kragteloosheid, die naarheid en die oneindige moegheid wat die chemoterapie meebring. Die liggaamlike en geestelike pyn wat ek moet dra, is moeilik. Ek voel knaend sleg; kos en water smaak nie normaal nie.
“Maar wanneer ek meer energie het en kan skool toe gaan, moet ek maar ‘fake it till I make it’. Ek probeer om, op my manier, met my kanker te ‘deal’.
“My wonderlike gesin dra my deur dit alles. Sonder my ma sou ek niks gewees het nie; ons is baie afhanklik van mekaar. My pa sukkel met emosies, maar ek weet hy gee baie om en hy kom sit soms by my. My suster Amelia, ’n student, weet net hoe om my te laat beter voel met haar chirpy persoonlikheid en lawwe grappies.
“My vriende beteken ook baie vir my, veral Marlo. Asook my onkoloog, dr Johan Riedemann. Daar is wildvreemde mense wat vir my bid, en mense wat boodskappe op my ma se WhatsApp-groep stuur.
“Ek wil steeds ’n dokter word, en ek beskou dr Riedemann as my mentor. Ek is bewus van die harde werk wat dit sal verg. Maar dit is soos dr Johan sê: ‘As ek hierdie kan doen, kan ek enigiets doen.’”
‘Om daar te wees vir hom’
Mari vertel dat hulle graag saam met Ruben skaak speel. Hy geniet ook sy e-fiets.
Hoewel dit Mari se hart breek as Ruben pyn het of as hy pap voel of naar is, word haar hart weer heel wanneer sy hom by die skoolhek aflaai. En elke keer as hy ’n toets kan skryf, of as sy maats kom kuier. En as hy kos kan eet, en vra vir meer.
“Ruben se onderwysers by Hoërskool DF Malan is besonder ondersteunend. Hulle bemoedig hom. Hy werk selfstandig tuis en woon klas by wanneer dit moontlik is.”
As alles goed verloop, behoort die chemoterapie-sessies teen die einde van die jaar afgehandel te wees.
Mari weet dat die Here deurentyd by hulle is. “Ons beleef sy teenwoordigheid en seëninge voortdurend,” sê sy.
“My toekomsvisie vir Ruben is dat hy sy droom om ’n dokter te word, sal verwesenlik. En ek weet dat God ’n doel het met die pad wat Ruben nou stap. Dat Hy elke tree by Ruben sal wees. Hy het my Ruben se ma gemaak – om ‘daar te wees’ vir hom, om hom te vertroetel en te vertroos.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.