Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

Adri Coetzee kankerdagboek

DEUR ADRI COETZEE

So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh 8:1 The joy of the Lord is my strength.

Ek kyk om my rond en besef hoe waar dit is. Slegs die Here kan my hiervoor krag gee.

Ek is baie braaf ná die eerste sessie en kry vir my ’n lekker wegneemkoffie vir die lang pad terug. Foutjie! Leon moet langs die pad stop, want ek is naar.

Die werklikheid tref my sleg. Ek bring Saterdag en Sondag in die bed deur. Die kinders dra water aan, hulle maak my toe, Karien sorg vir kos. Ek kan nie regop kom nie.

Maandagoggend sê ek vir Leon ek kan dit nie doen nie. Ek kan nie vir nóg sewe behandelings voel soos ek voel nie.

Maar ek beur vorentoe, ek wil gaan werk. Hy wil hê ek moet by die huis bly, maar ek hou voet by stuk.

Tussen my mislike dae deur probeer ek sin maak van alles wat met my gebeur. Die Here gee my dié teks: “My dogter, omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword. Gaan in vrede en wees altyd genees van jou kwaal” (Mark 5:34). En ek besef opnuut God gaan my genees.

Geborg

Soggens voel ek so sleg dat ek net wil bly lê, maar God gee my elke oggend genoeg krag om op te staan en aan te gaan. Ek kan egter nie my gewone tempo volhou nie; ek moet byvoorbeeld stadiger stap. Dis ’n moeilike aanpassing.

LEES OOK: #1 Dokter se winterpad met kanker: ‘Ek het gesorg dat ánder ’n mammogram laat doen …’

Maar ek sê ek is oukei. Vir almal sê ek dit, behalwe my onkoloog vir wie ek alles kan vertel. Toe ek op ’n dag weer moedeloos by haar kla, stuur sy my die volgende: “Dr Owen het gesê dat as jy vandag net genoeg krag het om te probeer, is dit goed genoeg. Môre kan jy weer voluit gaan. Wees gaaf met jouself. Soms is dit oukei om net te ‘wees’.”

God het my geleer dat verandering nie maklik is nie, maar dat ek die pad moet stap wat Hy vir my gekies het. Aan die einde van daardie pad sal daar ’n pragtige reënboog wees. Ek het aan Jeremia 29:11 vasgehou: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, voorspoed en nie teenspoed nie, Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.”

Adri Coetzee en haar dogters Leandri (12) en Karien (15) tydens ’n spesiale fotosessie voor Adri se laaste chemo-behandeling. “Ons wou die lewe vier!” vertel Adri, ’n algemene praktisyn van Keetmanshoop, Namibië. Foto verskaf

Teleurstellings, mislukkings, siektes … Niemand kies dit vir haar- of homself nie.  Maar elkeen kan kies hoe om dit te hanteer, te verwerk. So dikwels het ek gevoel ek kan nie meer nie. Ek het geroep: Here, help my, asseblief!

Dan het ek beleef hoe Hy my kom optel wanneer ek op die grond lê. Hoe Hy my gevoelens in sy hande neem. Wanneer ek getwyfel het, het Hy dit telkens in ’n bemoediging omskep. So het ek elke keer besef: Hiér kan ek nie bly lê nie. En dit was my behoud.

Een van die newe-effekte wat my die ergste getref het, was mondsere. Dit het gewoonlik hier by Dag 5 ná ’n chemoterapiesessie begin. Ek kon nie eet nie, ek kon nie my tande borsel nie.

Geborg

In die dae wat ek regtig nie meer kon nie en waarin ek net by die Here bly pleit het, het ek my krag in dié teks gevind: “Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking” (2 Kor 12:8).

Nog ’n les wat ek moes leer, was om hulp te vra – by my hemelse Pappa, maar ook by die engele wat Hy oor my pad gestuur het. Die engele wat kos aangedra het, wat met die kinders gehelp het, wat my ná elke chemoterapiesessie bemoedig en ondersteun het. Hulle was daar, hulle het my voete gewas, my kopvel masseer. Daar was die engele by my werk.

Toe ek die eerste keer sê: “Ek kan nie, help my asseblief!” was dit vir my erg, maar ek besef dis wat God wou hê ek moes doen.

Ná die chemoterapie het die chirurgie op my gewag. Ek het nooit daaraan getwyfel dat ek ’n bilaterale mastektomie moes ondergaan nie. Maar toe die chemoterapie verby is, het die werklikheid van dié radikale chirurgiese ingreep my tussen die oë getref.

LEES OOK: ‘Ek is dankbaar vir die goue lesse wat my Manna aan ons nagelaat het’

Ek het eensklaps besef dat dit nooit weer ’n kwessie sou wees hoe my borste lyk nie, of dit groot of klein is, of dit hang of nie; dit gaan ná dese bloot . . . weg wees. Ek het geworstel met die soort vrae waarmee vroue in dié situasie worstel – totdat Leon my in die oë gekyk en gesê het: “Dit gaan nie oor hoe jy van buite lyk of nie lyk nie; jou uiterlike maak nie van jou Adri nie. Dis wat binne is wat saak maak.”

Ek weet tog dat God nie na die uiterlike kyk nie, maar ek het opnuut besef dat as ek saam met my man en my kinders kan wees, as ek gesond is, dit al is wat saak maak.

Geborg

Ná ’n heerlike wegbreek saam met my gesin het die tyd vir die bestraling aangebreek. En ek het so vas geglo dit sou nie nodig wees nie . . .

Die moeilikste van alles was om vyf weke lank 500 km van my mense te wees. Om Leon en die kinders op ’n Maandag in Keetmanshoop te los. Ek het soos ’n koshuiskind gehuil. Ek was opstandig. Hoekom Here? Hoekom chemoterapie en chirurgie en bestraling? Hoekom kon ek nie betyds vir die mammogram gegaan het nie? Ek wou antwoorde hê . . .

Terwyl ek alleen in Windhoek sit en probeer om sin te vind in alles wat met my gebeur, gee die Here my dié teks: “My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen” (Jos 1:9).

God het my ’n opdrag gegee in plaas van antwoorde. Hy het my beveel om sterk en dapper te wees, ook in die tyd toe ek gevoel het ek wíl nie sterk wees nie.

Ek moes besluit: Óf ek huil die vyf weke om (dit is 23 uur en 45 minute per dag; die bestraling duur net 15 minute) óf ek fokus op God se krag.

Weer moes ek ’n keuse voor God maak …

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.