Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

#2 ‘Ek het hom vergewe,’ sê musiekpromotor ná mishandeling en molestering

ANJA MAREE* vertel verder:

FOTO SLEGS TER ILLUSTRASIE (iStock)

Ek het nooit my stiefpa by die polisie verkla nie; daar was altyd iets of iemand wat my verhoed het om dit te doen. Ek dink dit was ook maar ’n manier om myself te probeer beskerm omdat ek te bang was om daaroor te praat. Dis tog iets wat jy doelbewus uit jou gedagtes wegkeer. Sodra ek dus besef het dat ek al die gebeure in fyn besonderhede sou moes weergee, en boonop aan vreemdelinge, het my keel toegetrek en ek het daarteen besluit.

LEES OOK: ‘God se liefde het my gehelp om vrede te maak met my verlede,’ sê musiekpromotor ná jare se mishandeling en molestering

Buitendien: Hy was altyd in die kerk, hy was ’n gesiene sakeman. Almal se pel, goed vir die gemeenskap. Ek het getwyfel of enigiemand my sou glo. My wantroue in die regstelsel het my ook laat wonder of hy ooit vir sy dade sou boet. En ek het geweet dat ek in nog groter gevaar sou wees indien hy na my sou kom soek.

Maar namate ek ouer geword het, het ek ook daaraan begin dink dat hy, net soos ek, God se kind is. Dat die oordeel mý nie toekom nie.

Dit was uiteindelik een van die moeilikste besluite wat ek ooit moes neem – maar uiteindelik het ek besluit om hom te vergewe.

Al my foute …

As ek vandag aan my tienerjare terugdink, asook my jare as jong vrou, wens ek dat ek alles kon oordoen. Ek het soveel foute gemaak …

Al dié foute het gespruit uit my begeerte om aanvaar te word. Ek het my dikwels in gevaarlike situasies bevind waar slegs God my kon beskerm. Ek was só dikwels met verkeerde dinge besig en by verkeerde mense betrokke. Drank het my oordeel beïnvloed.

In ’n stadium het ek amper elke aand ná werk sommer ’n bottel wyn by die huis uitgedrink. Sonder enige rede. Ek dink nou dit was hoe ek probeer ontsnap het aan al my gevoelens, en aan al die dinge wat in my verlede gebeur het.

Ek het begin om modelwerk te doen. In dié tyd het ek behoorlik verslaaf geraak aan mans se aandag, omdat dit my laat voel het dat ek iewers behoort.

’n Lig word aangeskakel

Stadig maar seker het ek begin goedkoop voel. Die gesegde “’n mooi vrou is almal se vrou” het in my kop vasgesteek.

Daarna het my slegte verhouding met kos begin. Ek het gevoel dat as ek vet en lelik is, geen man weer na my sal kyk nie.

Ek het wel altyd in God geglo, ek was ’n Christen en het ’n verhouding met Hom gehad. As ek foute gemaak het, het ek by Hom gaan huil en Hy het my vertroos. Maar … ek het altyd na my sondige lewe teruggekeer.

Op 25 was ek op ’n loopbaanhoogtepunt: Ek was in ’n girl band wat ’n album vrygestel het; ek het by een van die land se grootste radiostasies gewerk; ek het gevoel dat ek “on top of the world” is.

Maar toe verloor ek amper my man, en ek het besef dat ek besig was om hom in iemand anders se arms te dryf. Ek het hard geval. En ek het lank by God se voete gesit en gevra dat Hy my moet wys hoe om dinge reg te maak.

‘My beker word vol’

Ek het onlangs The Chosen begin kyk, en die volgende woorde daarin het my bygebly: “I was one way, and now I am completely different. And the thing that happened inbetween, was Him.”

God het sagkens met my begin werk. Hy het ’n groot pleister op die groot seer geplak en hy het elke dag, bietjie vir bietjie, my beker kom vol maak.

Dit beteken nie dat dit maklik was nie. Ek het trouens aanhou foute maak – maar ek het daaruit begin leer. Ek moes die verhoudings wat ek byna verongeluk het baie versigtig hanteer. Ek moes my mense weer leer om my te vertrou. Daar is ongelukkig ook diegene wat ek verloor het en waarskynlik nooit weer sal terugkry nie.

In my 25ste jaar het ek besluit wat ek in die lewe wil hê. En ek het besef dat gesondheid, familie en God die belangrikste is.

Eensklaps was dit asof daar iewers ’n lig vir my aangeskakel is. Ek het net een oggend opgestaan en alles het vir my helder geword. Ek was gelukkig, en nié omdat ek dit gaan soek het nie, maar omdat ek dit in my Skepper kon vind.

Ek was nog altyd gelukkig in my werk. Maar sedert daardie helder oomblik het ek besef watter groot seëning dit werklik is. Musiek was uit die staanspoor die enigste ding wat balans in my lewe kon bewerkstellig.

Ek het my man in die musiekbedryf ontmoet, en ons het saam gegroei. Ons al twee werk in die vermaaklikheidsbedryf. Soms voel dit asof woorde oorbodig geword het; ons praat deur musiek met mekaar. Dis ons hartstaal en ons verstaan dit só goed. Dis die gom wat ons deur die jare aan mekaar laat vasklou het.

My man is lief vir my, ongeag alles wat gebeur het, en daarvoor sal ek hom ewig dankbaar wees.

‘Hoe kan God mý liefhê?’

’n Bekende sanger het my eendag gevra hoe ek iemand kan liefhê wat ek nie eens kan sien nie. Ek het nie geweet hoe om dit aan hom te verduidelik nie; ek weet wel dat ek God so liefhet soos my eie asem. Ek kan Hom nie sien nie, maar ek weet Hy is hier. Ek weet dat Hy my veilig hou, ek weet dat Hy my Voorsiener is en dat Hy die beste vir my wil hê.

Wat ek egter steeds nie kan verstaan nie, is hoe Hy mý kan liefhê. Hoe kan ’n almagtige God ’n groot sondaar soos ek liefhê?

Vroeër dié jaar het ek en ’n gospelsanger ’n gesprek oor God gehad. En ek vertel hom hoe ek sukkel om God se liefde vir ’n sondaar soos ek te verstaan.

Sy reaksie het my asem weggeslaan: Hy het verduidelik dat wanneer jy ’n babatjie het, jy onmiddellik lief is vir daardie kind. Ongeag. Die kind het nie nodig om jou liefde te verdien nie; jy is bloot lief vir jou kind. Só lief dat jy jou lewe vir daardie kind sal gee.

Net so, en soveel groter en soveel meer, is God se liefde vir ons, sê die gospelsanger. Ongeag wat sy kind verkeerd doen. Dis ’n grenslose liefde, ewig, onvoorwaardelik.

En jy hoef dit nie te verduidelik of te verstaan nie (eintlik kán jy nie); dis net daar.

Van daardie dag af weet ek dat Hy my liefhet. En dat ek die moeite werd is om voor te baklei.

Ek worstel vandag nog met baie dinge oor myself. Dinge soos selfaanvaarding en selfliefde kom nie maklik nie. Op die slegte dae het ek baie vrae, maar dan onthou ek God se beloftes in sy Woord. En ek onthou wat alles Hy al in my lewe vir my gedoen het.

Dan weet ek opnuut dat ek op die regte plek is. En in die regte tyd, én met die “regte” verlede.

*Anja Maree is ’n skuilnaam.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF