CHARLOTTE VAN DER WESTHUIZEN leef reeds 20 jaar met die oneindige seer dat haar gewese man hul drie kinders doodgeskiet het. Dit word nie makliker nie, sê sy. Maar sy getuig ook dat God haar nog nooit verlaat het nie.
Hooffoto: Liezl Matthee
Om ’n kind te verloor is bykans ondenkbaar. Maar as jy al drie jou kinders tegelyk aan die dood moes afstaan, en dit boonop hul pa is wat hulle vermoor het, lê die smart anderkant woorde, vér anderkant begrip.
Charlotte van der Westhuizen (nou 55) se gewese man, Marius van der Westhuizen (nou 63), het op 28 Julie 2006 die 21 maande oue Antoinette (haar ma se “Nettie-Bettie”) en die vyfjarige Marius (“Boetietjie”) en die gestremde 16-jarige Bianca (“Sussie”) doodgeskiet terwyl hulle geslaap het.

Net ná hierdie gruweldaad het Marius sy skoonma gebel en haar vertel wat hy gedoen het. Sy verweer? Dat Charlotte “weer eens” nie na hom wou luister nie.
‘Ek was bitter bang vir hom’
Charlotte gesels met LiG in haar huis in Brackenfell, Kaapstad. Al wat sy van haar drie kinders het, is foto’s, van hul besittings en vele kosbare herinneringe.
LEES OOK: God se opdrag: ‘Vergewe jou seuntjie se moordenaar – en vertel jou storie’
Sy vertel van haar onstuimige huwelikslewe. Sy sê dat sy eintlik uit die staanspoor besef het dat Marius, ’n polisieman, se gedrag bedenklik was. Dit het mettertyd vererger, veral ná die kinders se geboorte.
Hy het haar, stadig maar seker, begin isoleer. Eers het hy haar ouers die huis belet, en later ook haar vriendinne. Die enigste ondersteuning wat Charlotte gehad het, het van haar stasiebevelvoerder by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gekom, en van ’n vriendin. Laasgenoemde het haar gereeld by die huis kom oplaai nadat Marius weer haar motor se sleutels weggesteek het.
Charlotte moes dikwels te voet die kinders by die jongste twee se skool gaan haal. Dit was uiters moeilik met ’n baba, ’n gestremde tiener in ’n rolstoel en ’n vyfjarige.
“Alhoewel hy my nooit fisiek mishandel het nie, is ek emosioneel en finansieel afgetakel. Hy het boonop straf gedrink, en dan het hy my sleggesê. Daardie verbale mishandeling het geen perke geken nie.”
Die enigste ligpunte in haar lewe was haar lieflike kinders. En ’n werk waar sy baie gelukkig was.
“Ek was bitter bang vir hom. Op ’n keer het hy my pa aangerand. Hy het ook homself en twee van die kinders in die huis toegesluit en geweier dat ek inkom. Volgens hom moes ek kies: óf hy, óf my ouers.”
Die SAPD se gyselaar-eenheid is later ontbied en hulle het tot tweeuur daardie nag met hom onderhandel. Nadat hy besgegee het, het hulle hom weggeneem.
Klein Marius, wat nog nooit tevore sy bed natgemaak het nie, het dit daardie aand die eerste keer gedoen.
“Ek het noodgedwonge ’n interdik teen hom gekry. Dit was in Maart 2006, slegs vier maande voor daardie bitter dag.
“Ek het egter die interdik teruggetrek as gevolg van sy mooipraatjies. Hy het my verseker dat dinge voortaan anders sou wees.”
Nadat Marius gebieg het oor ’n buite-egtelike verhouding, het hy die skuld daarvoor op Charlotte gepak omdat sy, volgens hom, ’n slegte vrou was. Daarop het sy vir hulle ’n afspraak by FAMSA gemaak. Huweliksberading was die laaste uitweg.
Hulle het egter nooit daardie afspraak nagekom nie; dit het 28 Julie geword …
Daardie verskriklike aand
Een van die vele eise wat Marius aan Charlotte gestel het, was dat sy nooit laat mag gewerk het nie. Op daardie betrokke dag moes sy patrolliewerk doen en sy het laat by die huis gekom. Omdat sy vir hom bang was, het sy gejok en gesê dat sy terug is polisiekantoor toe omdat sy die melk daar vergeet het.
“Marius het toe na die kar se afstandmeter gaan kyk en gesê dat ek beslis nie terug is kantoor toe nie. Hy was woedend. Alhoewel hy gewoonlik baie gedrink het, was hy daardie aand nugter.
“Ek het vroeg gaan slaap om verdere konflik te vermy. Die volgende oomblik het hy by die kamer ingestorm met ’n ultimatum. Ek moes kies, het hy gesê: óf hy, óf my werk.
“Ek het verduidelik dat hy my man is, en my werk my inkomste. Hy het volgehou en ek het telkens op dieselfde manier geantwoord. Oplaas het hy gesê dat ek my keuse gemaak het, en dat ek die gevolge daarvan sal moet dra.”
Daarop is Marius na die kinders se onderskeie kamers, waar hy hulle geskiet het.
“Ek het hulpeloos toegekyk hoe hy my drie kinders die een ná die ander vermoor. Hy was gefokus, doelgerig, en ek was nie opgewasse teen hom nie. Hy het juis die kinders geskiet omdat hy my daardeur wou straf. Hy wou hê ek moes die res van my lewe daarmee saamleef.”
‘Hy het my toekoms gesteel’
Marius is tydens sy verhoor vir waarneming Valkenburg toe gestuur. Daar het die sielkundige wat hom onder hande geneem het, ’n forensiese psigiater, gesê dis die ergste geval van narsissisme wat sy tot nog toe teëgekom het.
Hy is uiteindelik tot 24 jaar tronkstraf gevonnis.
Charlotte het tot op hede elke paroolaansoek teengestaan. Volgens haar bevoordeel die paroolstelsel dikwels die oortreder. Sy sê sy baklei nie net vir haarself en die nagedagtenis van haar kinders nie, maar sy verset haar ook ter wille van ander slagoffers.
Haar seer word nie minder nie. “Ná byna 20 jaar bly alles steeds vir my onwerklik. As ek video’s sien van my storie of artikels daaroor lees, voel dit asof dit met iemand anders gebeur het.
“Daar is ’n gesegde wat lui dat as jy jou ouers verloor, jy jou verlede verloor. Ek weet nou dat as jy jou kinders verloor, jy jou toekoms verloor. Marius het my toekoms gesteel, en my kinders s’n.
“Mense sê dikwels dat tyd genees. Ek is nie so seker dat dit die waarheid is nie. My waarheid is dat ek nooit kleinkinders sal hê nie, nooit ’n ouma sal word nie.
“As dit nie vir God was nie, was ek nie vandag hier nie. Ek het in 2007 probeer om myself om die lewe te bring, ek wou net van die pyn ontslae raak. Ek het nie gedink nie, net gevoel.
“Maar God het my nooit verlaat nie. Ek het gesien hoe gaan my kinders hemel toe. Ek dien ’n genadige God op wie se skoot ek elke dag sit.”
Charlotte is daarvan oortuig dat as jy nie God se teenwoordigheid in jou lewe erken nie, dit vir jou onmoontlik sal wees om so iets te oorleef.
Sy wil ook ander mense waarsku. “Vir diegene wat onseker voel oor hul omstandighede en die situasie waarin hulle hulle bevind, wil ek net sê: ‘Luister maar na daardie stemmetjie in jou binneste …’”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















