Meranda en Peter Campbell van Pretoria was net 24 weke swanger toe Meranda ’n noodkeisersnee moes kry. Klein Colin was hul eersteling. By geboorte het hy slegs 560 gram geweeg.
Toe die dokters besef my bloeddruk is gevaarlik hoog, soos ook my lewer se proteïenlesing, en dat ons seuntjie opgehou groei het in die baarmoeder, het die fetusspesialis en die ginekoloog met mekaar saamgestem: Slegs ’n noodkeisersnee sou my en klein Colin se lewe kon red.
Met sy geboorte op 4 Maart 2022 het Colin 560 gram geweeg. Die naelstring was drie keer om sy nek gedraai. Hy is dadelik na die Wilgers-hospitaal se neonatale eenheid oorgeplaas.
LEES OOK: ‘Hartkloppie was stil, maar toe ’n wonderwerk …’
Tien treë vorentoe, maar …
Colin was van die eerste dag af ’n ware vegtertjie. Binne die eerste week ná sy geboorte haal hy self asem, sonder enige hulp. Maar ’n week later, toe hy maar 530 gram weeg, besef ons daar is iewers ’n infeksie.
Talle X-strale is geneem en die kleine lyfie moes etlike sonarondersoeke deurmaak. Hy moes toe ook ekstra suurstof kry. Omdat hy niks uitgeskei het nie, moes hy ’n operasie ondergaan – sommer daar in sy kamer in die neonatale intensiewesorgeenheid (NICU). Die dokters het ’n opening in sy linkersy gemaak om die vloeistof te dreineer.
Toe dit nie werk nie, is ’n stoelgangsakkie aangebring.
Die infeksietelling het egter aanhou styg. Colin het om sy lewe geveg. Van oraloor het dokters kom raad gee.
Ek het my uitgemelk en die melk drie keer per dag hospitaal toe geneem. Ons mag slegs tydens besoektye daar gekom het. Ons het verneem Colin se organe het nie almal ontwikkel nie. En hy het bloeding op die brein gehad.
Die infeksietelling het steeds gestyg.
Ons familie woon in Thabazimbi. Hulle het ons wonderlik ondersteun en ons het dikwels saamgebid.
Sommige dae was ek heeltemal alleen. Peter is ’n doktor in arbeidsreg en sy werk moes voortgaan. Hy moes gereeld in die hof verskyn.
Soms was ek behoorlik moedeloos. En ek het geleer: In die NICU vorder jy dikwels tien treë vorentoe – net om weer 20 terug te val.
Net hy en sy fopspeen. En sy hemelse Vader
Elke Maandag het daar ’n breinskandering op Colin gewag. Peter het op ’n tweede mening aangedring. Hy wou nie aanvaar dat die baba, waarvoor ons agt jaar lank gebid het, dalk nie sou leef nie.
Daar was een professor wat gesê het: “Hierdie seuntjie sal dit nie maak nie. Hy moet so gou moontlik ’n operasie ondergaan, maar ék gaan nie daardie kans waag nie.”
Een van die pediaters het ons egter bemoedig: “As jy geloof het, is God daar.”
Dié woorde het ons genoeg moed gegee sodat ons die toestemmingsvorms vir die operasie geteken het – met dié woorde in ons gedagtes: “geloof en hoop; aanhou en vashou in geloof!”
Terwyl ons almal gebid het, het die dokters ’n kolostomie uitgevoer.
Colin het dit oorleef. Terwyl die dermkanale herstel het, moes hy ’n ruk lank sonder kos bly. Dit was net hy en sy fopspeen. En sy hemelse Vader.
Genadiglik kon hy gou binneaarse voeding begin kry.
Met besoektye moes ons beskermende maskers en jassies aantrek. Ek onthou hoe swaar dit was wanneer ons hom, as die besoektyd verstreke was, in die broeikas moes terugplaas.
Eers toe het ek die volle betekenis van Colin se naam gesnap – ‘jong man van oorwinning’.
Hoe waar is dit nie!
Maar gou het hy weer kwaai infeksie gekry en hy sou weer teater toe moes gaan. Dié keer om die kolostomie toe te maak ter wille van normale stoelgang, asook om die werklike oorsaak vir die herhaalde infeksies te probeer bepaal.
Hy moes eers 1,5 kg weeg voordat hulle die operasie sou kon uitvoer.
Toe die prosedure uiteindelik begin, kon ons nooit dink dit sou vier ure lank duur nie. Dit was veel langer as wat ons verwag het. Ons het sonder ophou gebid dat God hom bewaar.
Ons was oneindig verlig toe die nuus kom dat die kolostomie toegemaak kon word, én dat hulle die oorsaak van die knaende infeksie kon vind. Dit was ’n stukkie onontwikkelde derm in sy buik wat verrot het. Dié klein moeilikheidmaker is suksesvol verwyder.
‘Moenie bang wees nie; Ek ken jou naam’
Kort hierna het die vreugde van bereikte mylpale gekom: Colin drink ’n bottel; Colin dra babaklere. Hy haal asem sonder hulp. Hy behou die regte liggaamstemperatuur. Hy word, oplaas, na sy eie hospitaalkamer gedra.
Ons kind was altesaam 150 dae in die intensiewesorgeenheid. Ja, ’n volle vyf maande. Uiteindelik is hy uit die hospitaal ontslaan. Hy het 2,12 kilogram geweeg.
Ons was só dankbaar teenoor die Here!
Ons sê ook dankie vir elke dokter en elke lid van die hospitaalpersoneel wat so mooi na hom omgesien het, van sy geboorte af.
En vandag is Colin ’n baie gelukkige kind, en baie lief vir die buitelug. Hy is 28 maande oud en weeg 9,4 kilogram.
Om moontlike uitvalle weens sy vroeë geboorte te beperk, besoek ons gereeld ’n kinderkinetikus. Colin se immuniteit is steeds onvoldoende en daarom speel hy bedags tuis, eerder as om by ’n dagsorg- of speelskool te wees. Ek hou skool vir my graad R-klas.
Ek het elke dag vir Colin gesing, daar langs sy hospitaalbed: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie bang wees nie; Ek ken jou naam. Ek gaan oral met jou saam.”
‘Moet nooit hoop verloor nie’
Colin het intussen ’n babasussie gekry. Ons moes regdeur dié swangerskap voorkomend optree omdat ek weer die HELLP-sindroom* ontwikkel het. Ek is op 32 weke in die hospitaal opgeneem en Caley is op 36 weke gebore. Danksy goeie mediese sorg het sy (en ek) feitlik geen probleme ondervind nie.
Maar vreemd genoeg keer die intense trauma van alles rakende Colin se siekte deesdae na my toe terug. Veral die dokters se waarskuwing op 24 weke dat ek én Colin kon sterf.
Vir ouers wat moeilike tye deurmaak, het ek dié boodskap: Moet nooit hoop verloor nie. Onthou, God is altyd daar, al gaan dit hoe swaar.
*HELLP verwys na lewensbedreigende komplikasies vir ma en baba weens uiters hoë bloeddruk en verhoogde lewer-ensieme tydens swangerskap. Die behandeling daarvan behels onder meer die onmiddellike verlossing van die baba, al beteken dit ’n vervroegde geboorte.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.