Die Here het verlede jaar ’n wonderwerk in my en my man se lewe gedoen. Sy Naam is groot!
Ons wou al lankal swanger raak, en van ons familielede het verskeie drome van die Here ontvang oor die babatjie wat Hy aan ons sou gee. Maand ná maand het ons geduldig op Hom vertrou. Maar ná elke negatiewe swangerskaptoets het dié vertroue moeiliker geword. Ek het wel geweet ons kan nie moed opgee nie.
Wonderlike nuus, maar …
Op 4 Januarie 2023 het ek siekerig gevoel. Ek het nie veel daarvan gedink nie; ek was wel twee dae lank in die bed omdat ek so naar was.
My ma het my aangeraai om ’n swangerskaptoets te doen – en toe wys die apparaat twee duidelike rooi strepies.
Aanvanklik wou ek dit nie glo nie. Ek het nog ’n toets gedoen, en die uitslag was dieselfde.
LEES OOK: ‘Ek moes eers ’n winter deurgaan om die lente in my lewe te waardeer’
Die dokter het bevestig ek was reeds ses weke en vyf dae swanger. Ek en my man en ons familie was só opgewonde oor wat die Here vir ons gedoen het! En ek wou dadelik die nuus met almal deel.
Maar toe gebeur iets wat nie een van ons voorsien het nie: Tydens ’n opvolgondersoek op 12 weke sê die dokter dat die baba nie meer ’n hartklop het nie. En dat hy op 7 weke en 6 dae ophou groei het.
Ek was verpletter. Ek het nie geweet hoe om te reageer nie. Ek het net gevra: “Dokter, hoe is so iets moontlik?”
Ek het hom ook gevra om dubbel seker te maak, en hy hét weer gekyk. En dieselfde gesien. Hy het aanbeveel dat ek so gou moontlik ’n skraap laat doen sodat ek nie siek word nie.
Ons het gekies
By die huis het ek aanhoudend gehuil. Oor en oor het ek die Here gevra: “Hoekom gebeur dit met my?”
Ek was kwaad en seergemaak. Daardie aand het my familie hul hande op my gelê en vir my en my baba gebid. Ek en my man besluit toe saam dat ek nie die skraap sal laat doen nie. Ons het gekies om nie te glo wat op die sonar was nie en op die Here te vertrou. Ons het bly bid.
Net my naaste familie het hiervan geweet, want ek het besef dat baie mense dit nie sou verstaan nie.
Ongeveer twee weke later het ek verskriklike pyne beleef. Dit het gevoel of ek nie asem kry nie. My hele lyf het inmekaargetrek. My man het sonder ophou vir my gebid en my probeer vertroos.
Ons het geweet wat besig was om te gebeur: Dit was die pyne van die miskraam. Maar ons wou dit nie aanvaar nie. Ek het begin om saggies “Raise a hallelujah” te sing sodat ek nie aan die pyne hoef te gedink het nie. Ek het op die belofte van ’n babatjie gefokus. Ek het nie die duiwel toegelaat om te kom steel wat die Here vir my gegee het nie.
Ek het gekies om die Here te glo: dat ons baba lewe.
’n Tree in die geloof
’n Paar maande lank het ek en my familie aanhou bid, al het my maag nie veel groter geword nie. Ek het ook nie enige swangerskapsimptome beleef nie. Maar ons het bly glo en vertrou.
Daar was baie trane. En tye waarin ek net wou skree. Maar die wete dat God soveel keer my baba in my familie se drome kom wys het, het gesorg dat ek nie wou moed opgee nie.
Op 20 Julie het ek ’n tree in die geloof geneem en ’n afspraak by die dokter gemaak. Ek het hom vertel dat ek toe nooit die skraap laat doen het nie, en dat ek eintlik net kom vasstel het hoe ver gevorder my swangerskap is.
Die dokter het weer ’n sonar-ondersoek gedoen – en hy was stomgeslaan. Die babatjie wat destyds, volgens hom, nie gelewe het nie en nie ’n hartklop gehad het nie, het inderdaad geleef en verder gegroei. Ek was op daardie dag nege weke en ses dae swanger.
My man het begin huil, en ek het begin lag. Nie omdat dit snaaks was nie, maar vanweë die diepe blydskap wat ek ervaar het. Die Here het my hartseer in blydskap verander.
Samuel
My maag het toe mooi begin groei, en op 15 Februarie 2024 – meer as ’n jaar ná die eerste swangerskaptoets – het die Here ons met ’n pragtige seuntjie geseën.
Hierdie groot gebeurtenis het ons opnuut laat besef dat sóveel dinge moontlik is met slegs ’n bietjie geloof. Net soos wat die Here Hanna se gebede vir ’n kind verhoor het, het Hy ook ons gebede verhoor.
Daarom het ons ons seun Samuel gedoop. Ons bid elke aand dat God sy hande oor hom sal hou, en ons sê dankie vir wat Hy vir ons gedoen het.
- Linda Behr (27) en haar man Devon woon op George. Devon is ’n spuitverwer by ’n boumateriaal-onderneming. Linda is voltyds mamma vir klein Samuel.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.