“Mamma, ek is honger!” roep my oudste uit.
“Maar jy het dan nou net geëet …”
“Ek weet, maar ek is weer honger!” kerm hy.
Dit is hoe dit gaan met ’n huis vol seuntjies. Daarom dra ek altyd ’n eetding by my – of ons nou kerk toe gaan, by mense gaan kuier, of inkopies doen. Dit het al ’n gewoonte by my geword om twee appels te gryp wanneer ek by die voordeur uitstap, een vir elke sak.
My vriendinne giggel gereeld as een van my seuntjies na my toe kom met hul nou reeds bekende “mamma-ek-is-honger” en ek dadelik ’n appel gereed het. Ek roep net: “Vang!” Dan moet hulle vang. Ek reken al twee my seuns het op dié manier leer bal vang.
Soms ontdek ek ’n vrug in ’n baadjiesak wanneer ek klere was. Soms rol daar een onder die kar se sitplek uit. Maar wat anders doen ’n mens met twee kinders wat altyd honger is? Daardie honger is klaarblyklik sonder einde …
Die Bybel vertel ons ook van ’n soort honger, ’n dieper honger, wat ons almal ervaar. Dit kan net op een manier gestil word. En dit kos ons niks nie, want die prys daarvoor is reeds betaal. Ons lees in Jesaja 55:1-2: “Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.”
LEES OOK: ’n Dahliablom se les – ’n getuienis van hoop
Ons mors egter dikwels ons tyd en ons krag en ons geld op kitskos. Dit is daardie soort kos wat dalk tydelik verligting bring, maar wat nie ons honger werklik kan stil nie. Ons dink ons kan ons honger stil met sukses, met vergrype en verslawings, deur besittings te versamel of deur besig te bly. Maar dit is tevergeefs; ons bly innerlik leeg.
Die hol plek in ons hart kan slegs deur God gevul word. Materiële besittings of aardse genot kry dit nie reg nie. Die bekende 17de eeuse Franse wetenskaplike Blaise Pascal het dit goed beskryf toe hy gesê het: “Daar is ’n Godvormige leemte in die hart van elke mens, wat nie deur enige mensgemaakte ding bevredig kan word nie, maar slegs deur God die Skepper, wat bekend gemaak word deur Jesus Christus.”
Jesus is die brood wat gebreek is. Hy het vir sy dissipels gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie” (Joh 6:35).
Tog probeer ons steeds onsself voed. Die ou profeet beskryf die ongelukkige gevolge daarvan: “Dit sal wees soos wanneer ’n honger mens droom: Kyk, hy is besig om te eet; maar as hy wakker word, is sy keel leeg” (Jes 29:8).
En dan, op ’n dag, skrik ons wakker uit dié droom en besef dat ons steeds honger is, dat die leemte nooit gevul is nie. Ons besef dat ons siel steeds aan ’t soek is.
Net soos wat ek altyd gereed staan om my twee seuntjies te voer, staan ons Vader altyd gereed om ons van sy lewegewende kos te gee, dit waarna ons hart smag.
Is dit nie wonderlik om te weet dat ons nooit weer honger hoef te wees nie?
* “Want U het ons vir Uself gevorm, en ons hart bly onrustig totdat dit rus vind in U” – die heilige Augustinus van Hippo
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.




















