Ek het onlangs die mooiste pers dahlias vir ons tuin gekoop. Ons het ’n sonnige kol in die tuin gekies en, nadat ons die grond versigtig voorberei het, het ons dit geplant, vol hoop. Ons het dit elke dag water gegee – maar tot ons groot teleurstelling het dit net slegter en slegter begin lyk. Die delikate pers blomme het gou verwelk en die donker blare het slap gehang. Ek was daarvan oortuig dat die plantjie nie die verskuiwing na die nuwe tuiste sou oorleef nie.
Maar op ’n dag het iets begin verander: Daar was nuwe blare, en dié wat reeds daar was, was groter en gesonder as ooit. Tot my verbasing het die plant begin knoppies uitstoot vir nuwe blomme, en gou-gou was dit dubbel so groot as tydens die oorplant. Uiteindelik het die eens trietsige plantjie ’n pragtige bos geword, vol blomme.
Elke dag bekyk ek die plant, die ene verwondering. En ek dink aan daardie gewilde sêding: “Blom waar jy geplant is.” Ek dink ook aan hoe simplisties dié “raad” is, want soms word die mat behoorlik onder jou voete uitgeruk en dan bevind jy jou eensklaps op ’n plek en in ’n situasie waar jy hoegenaamd nie verwag het om te wees nie. Hoe ingewikkeld het alles dan nie geword nie!
LEES OOK: Kom ons sien God raak in dié Feesseisoen
Dan is bogenoemde soort sêgoed leeg en onsensitief. Jy probeer immers jou bes om aan die lewe vas te klou, en nou sal iemand jou aansê om boonop te blom …
Jy voel trouens hoe jou blare verwelk, en jy weet jy beskik eerlikwaar nie oor die vermoë om te blom nie. Ja, jy is dalk op ’n goeie plek geplant en jy kry genoeg son en water – maar jy is nie gebore in staat om ’n blom uit te stoot nie.
In die ou profeet Jesaja se tyd het God se volk hulle op só ’n plek bevind. In Jesaja 35:1-2 lees ons: “Laat die woestyn en die dor land hulle verheug, laat die Araba juig en blom soos ’n tulp. Laat dit welig blom en juig, ja, met ’n gejuig en ’n gejubel. Die heerlikheid van die Libanon word daaraan gegee, die glansrykheid van Karmel en Saron. Hulle sal die heerlikheid van die Here, die glansrykheid van ons God, sien.”
God verander die woestyn in ’n tuin wat blom. Hy genees en hernu en bring nuwe hoop vir sy mense. Hy gee lewe en vreugde aan die dorre en vrugtelose woestyn, selfs al voel dit vir sy mense onmoontlik dat daar ooit ’n enkele blom sal verskyn.
God se tydsberekening is anders as ons s’n. Ons moet dikwels eers deur die dorre woestyntyd aan ons wortels vasklou voordat ons groei en vernuwing bespeur.
Ek ervaar in my gedagtes hoe die delikate dahliaplantjie in my tuin, sonder dat ek dit kan sien, sy wortels ál dieper in die grond in stoot. Dit versprei, en gou is dit stewig in die nuwe grond geanker. En ek besef opnuut: Al lyk dinge maar sleg, is daar deurentyd iets besig om te gebeur. Gou-gou sal daar mooier blomme kom as ooit tevore. En die plant sal veel groter wees.
In Hosea 14:6-7 sê God aan sy kinders: “Ek sal vir Israel wees soos dou. Hy sal bloei soos ’n narsing, en wortels skiet soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei; sy prag sal wees soos dié van ’n olyfboom, en sy geur soos dié van die Libanon.”
Inderdaad, dit wat op die oppervlak te siene is, is nie naastenby die hele storie nie. In die stilte en dorheid van die woestyn sorg God vir ’n wonderwerk.
Groei en vernuwing vind dikwels juis in moeilike omstandighede plaas. Wanneer ek dus swaarkry en dit voel asof ek nie meer kán blom nie, word ek daaraan herinner om eerder my wortels dieper in te stoot, om op God se tydsberekening te vertrou. Om op Hom te wag.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.



















