Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vrou rig houtkruis op ná mislukte selfdood: ‘Jy hoef nie ook die doringkroon te dra nie’

Gisela Hugo het langs ’n verlate stuk pad in die Karoo haar polse met ’n stuk glas gesny en toe onder ’n bos ingekruip om te sterf.

Maart vanjaar (2025) was dit ’n jaar sedert sy haar tuisgemaakte kruis op daardie presiese plek, waar sy gelukkig betyds gevind is, gaan inkap het. Sy en ’n klompie naby vriende het die harde grond oopgebreek, die kruis geplant en sy het haar skuldgevoelens ook neergesit. Daarna het hulle om ’n tafel met vonkelwyn gevier dat sy leef.

Sy wou op hierdie manier dié plek, waar sy so lewensmoeg gevoel het, se slegte verander in iets positief. So vertel hierdie verpleegsterma van twee dogtertjies. Sy wys die drie littekens op haar pols – nóg ’n stille herinnering aan daardie dag in Oktober 2023. Haar gedagtes was op so ’n donker plek dat sy gedink het dit sal vir almal, haar gesin inkluis, beter wees as sy nie meer daar is nie.

Vandag is sy dankbaar sy leef, sê dié vrou van Victoria-Wes.

’n Donker tyd

Haar storie gryp mense op haar dorp aan. Sy vertel daar is soveel mense wat vir haar sê daardie kruis van haar gee vir hulle ook hoop.

LEES OOK: ‘Ons baba is God se teken van hoop vir ons’ – vrou se dankbaarheid ná haar pa en boetie se selfdood

Gisela is in November 2022 met uitbranding gediagnoseer. Agter die diagnose lê byna drie jaar van trauma, erge stres en pyn. Sy het in 2020 bestuurder geword van hierdie klein dorp se staatskliniek. Dit was daarom háár verantwoordelikheid tydens die Covid-pandemie om seker te maak hulle help almal wat siek geraak het. Sy het net ’n klein span getroues gehad wat bereid was om suurstof na pasiënte se huise te vat en wat kliniek toe gekom het om te help met toetse vir infeksies. In hierdie angstige, onseker tyd het sy self Covid opgedoen en ’n jaar later moes sy ’n operasie kry na sy haar rug seergemaak het met ’n val.

Die volgende jaar is haar pa se tweede vrou (haar ouers is geskei toe sy nog ’n verpleegstudent was) skielik dood aan kanker.

By haar werk was daar protesaksie oor oortydbetalings waarvoor polisieversterking ingeroep moes word.

Tyd vir dink en rus was daar nie juis nie. “Jy het net aangegaan,” onthou Gisela.

Tot sy nie meer kon nie. Na haar diagnose met uitbranding het sy na twee weke se rus teruggegaan werk toe. Sy sê sy het gedink sy is OK, maar ses maande later het sy begin voel haar gemoed “dip weer”, soos sy dit stel. Sy vertel haar sielkundige het haar gevra of hy bekommerd moet wees, “(toe) sê ek nee, maar ek het geweet ek is nie op ’n goeie plek nie”.

Die rewolwer in die kluis

Vir haar man, Pieter, het sy ook nie gesê hoe moedeloos sy regtig voel nie.

In haar kop het sy begin dink dit gaan vir almal beter wees as sy nie meer daar is nie. Sy het besluit sy sal haarself iewers buite die dorp skiet. Op die oggend van 31 Oktober het sy hulle dogtertjies by die skool gaan aflaai. Sy onthou: “Ek het daarna net gery. By my was my man se rewolwer wat ek die oggend uit die kluis gehaal het”.

Wat sy nie geweet het nie, was dat hy die vuurwapen ongelaai stoor. Selfs toe sy dit ontdek het daar langs die pad het sy besluit sy ry nie terug nie. “Ek het rondgekyk, die glasstukke gesien en my pols ’n paar snye gegee voor ek onder ’n bos gaan inkruip het,” vertel sy.

Dit is hier waar ’n boervrou haar die middag gekry en toe haar man gebel het. Gisela onthou hy was baie geskok. Sy vertel: “Hy sê as hy terugkyk moes hy seker besef het maar hy het nie geweet hoe donker dit was (by my) nie … ons is nou baie meer oop en eerlik”.

Maande van terapie en rus het gevolg. Sy is in dié tyd gediagnoseer as bipolêr en haar medikasie is aangepas. Iets wat sy sê ’n groot verskil gemaak het. Soveel so dat sy teen Augustus die volgende jaar gevoel het sy is reg om terug te gaan werk toe, maar nie meer as bestuurder nie. Haar pos is nou verpleegpraktisyn.

Sy sê sy kyk goed na haarself. Sien haar sielkundige en psigiater gereeld, gebruik haar medikasie, stap soggens met hulle honde en luister weekliks na ’n opbouende Christelike podsending.

Dit was ’n harde, moeilike pad, maar haar geloof beteken vir haar baie. Sy luister ook graag gospelmusiek. Een van haar gunstelingliedjies is ‘A million little miracles’ met die volgende woorde wat sy haar eie gemaak het:

“All my life, I’ve been carried by grace

Don’t ask me how ’cause I can’t explain

It’s nothing short of a miracle I’m here

I’ve got some blessings that I don’t deserve

I’ve got some scars, but that’s how you learn

It’s nothing short of a miracle I’m here

‘Jy hoef nie ook ’n doringkroon te dra nie’

Gisela vertel een van die moeilikste dinge vir haar was om haarself te vergewe. Dit is in hierdie tyd van heelword dat sy haar vriende gevra het om haar te help om ’n kruis van palethout te maak. Sy wou dit op die plek gaan opsit waar sy gevind is. Gisela verduidelik: “Dit was Paasfeestyd en ek wou graag die sirkel voltooi … en iets mooier van hierdie bos langs die pad maak. Ek wou nie elke keer hier verby ry en die beklemming op my bors kry nie”.

Op die kruis is twee skoenlappertjies wat haar dogtertjies gemaak het. Vir hulle wil sy later wanneer hulle ouer is die volle storie vertel – sy voel hulle is nog te klein op agt en ses jaar.

Bo en onder die woorde “Kruis van hoop” staan ook geskryf “Jy hoef nie die doringkroon ook te dra nie. Hy het dit reeds vir jou gedoen. Moet nooit moed verloor nie, omdraai is altyd moontlik”.

*Dié getuienis het oorspronklik in Kerkbode, LiG se susterkoerant, verskyn.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►