Sané van Dyk kan vandag, byna twee jaar ná haar groot hartseer, met ’n dankbare hart getuig: “Klein Jan-Louis bring soveel hoop en vreugde vir elkeen wat hom ken. Hy is ’n teken van God se goedheid en onvoorwaardelike liefde vir ons.”
Op 28 Januarie 2023 is ons familie se wêreldjie eensklaps op sy kop gekeer. Nou, 26 maande later, voel dit steeds onwerklik.
Op daardie Saterdagoggend net ná vyfuur het ek en my man ’n oproep van my sussie ontvang. Sy wou weet of ons ’n idee het waar ons broer Luan hom bevind. Hy moes by haar kom oornag het, maar hy het nooit daar opgedaag nie.

Later daardie oggend het ons vasgestel dat hy in ’n ongeluk betrokke was; sy kar is gevind, maar niemand het geweet waar hý is nie. Al wat leef en beef het help soek – tevergeefs.
Daardie middag halfdrie het ons die nuus gekry dat hy dood is. Sy liggaam is in ’n winkelsentrum se parkeergebied gevind en dit het geblyk dat hy sy eie lewe geneem het. Hy was maar 22. Dit was twee dae voordat hy sy laaste eksamen sou aflê om sy graad te verwerf.
Intussen was my ouers nog op pad Bloemfontein toe vanaf ons plaas naby Aberdeen in die Oos-Kaap. Gelukkig het een van hul goeie vriende aangebied om hul motor te bestuur.
LEES OOK: ‘Aan dié wat eensaam agterbly ná selfdood: Jy is nie alleen nie’
Ek sal nooit die gevoel vergeet toe hulle uiteindelik daardie aand by ons aankom nie. Ons almal was so stukkend, so verward.
In die weke en maande wat gevolg het, het ons net probeer oorleef. So tussendeur moes my sussie haar troue reël. Sy en haar man is op 25 Maart getroud. Daar was soveel vreugde en gelukkige oomblikke … en steeds soveel trane oor Luan.
’n Belofte van God
Ek en Jandré is in Julie 2021 getroud. Teen die einde van die volgende jaar was ons gereed vir ’n baba. En einde Januarie, net ná Luan se dood, is die Mirena-voorbehoedmiddel verwyder. Ek het daardie dag in trane by die dokter gesit en hom alles oor Luan vertel.
In Aprilmaand het ek een nag ’n duidelike droom gehad waar Jandré aan my sê om Habakuk te gaan lees. Dit het my toe herinner aan ’n spesifieke vers wat God my gegee het voor ek Jandré ontmoet het. Dit was Habakuk 2:3, wat só lui: “Die dinge wat ek vir jou gewys het en wat jy opgeskryf het, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Maar binnekort gaan dit vir seker gebeur.”
Ek glo vas dat daardie droom ’n belofte van God was dat ek sou swanger raak, en ek kon deur die moeiike maande wat gevolg het daaraan vashou.
’n Gesin van vyf word drie
Toe, op 13 Junie 2023, kom die volgende enorme ellende: My pa het ook sy eie lewe geneem. Hy was 56 jaar oud. Sy kinderjare was nie maklik nie en hy het jare lank aan depressie gely. Ons dink my boetie se dood het hom geknak.
Dit was bitter. Binne vier-en-’n-half maande is sowel my broer as my pa van ons af weggeneem. Die gesin waarin ek grootgeword het, het in ’n oogwink van vyf mense na drie gekrimp. Dit was nou net my ma, my sussie en ek.
Dit was natuurlik nóg ’n verskriklike skok vir my liggaam en ek was daarvan oortuig dat ek nie sou swanger raak nie, in elk geval nie gou nie.
My skoonma se kaartjie
Maar op 27 Junie het die Here vir my ’n prentjie in die wolke gegee, een wat net soos ’n baba gelyk het. Die 14de Julie se naweek was ons huweliksherdenking (ek het die 15de verjaar) en ek en Jandré het weggegaan om al dié dinge op ’n ander plek te gaan vier.
Daardie naweek het ek al begin vermoed dat ek swanger kan wees, maar ek het myself wysgemaak dat dit net my lyf was wat al die trauma moes verwerk en dat my hormone daarom baie deurmekaar is. In die verjaardagkaartjie wat my skoonma my gegee het, word Jeremia 33:3 aangehaal: “As jy My ’n vraag vra, sal Ek jou ’n antwoord gee. Ek sal vertel van ongelooflike dinge. Hierdie dinge is nou nog vir jou ’n geheim, jy weet niks daarvan nie.”
Dit het vir my so mooi aangesluit by die vers wat ek uit Habakuk gekry het … Boonop het my skoonma toe nog nie geweet dat ons aan die probeer was om swanger te raak nie.
Die Here se wonderbaarlike tydsberekening
Op Dinsdagoggend 18 Julie kon ek nie langer met myself huishou nie en ek het ’n tuisswangerskaptoets gedoen. Dit was positief en ek het Jandré dadelik met die goeie nuus gebel. Om doodseker te maak het ek die volgende dag ’n bloedtoets laat doen. Dit het die swangerskap bevestig.
Ons het besluit om nie die ongebore kindjie se geslag vooraf vas te stel nie, en tot op die geboortedag het ons nie geweet of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie sou wees nie.
Die dokter het besluit om op 39 weke ’n induksie te doen omdat my bloeddruk te hoog was. En op 14 Maart 2024 is Jan-Louis gebore, ’n perfek geskape seuntjie.
Ook hierdie datum is vir my ’n teken van die Here se wonderbaarlike tydsberekening, want Jan-Louis is presies nege maande en een dag ná my pa se dood gebore. Dit is vir my simbolies, want ’n vrou is nege maande lank swanger, en die een dag daarna dui op die eerste dag van ’n nuwe lewe.
Vandag, amper twee jaar ná al die traumatiese gebeure, kan ek met ’n dankbare hart daarop terugkyk. Jan-Louis bring soveel hoop en vreugde vir almal wat hom ken. Hy is ’n teken van God se goedheid en onvoorwaardelike liefde vir ons. Daarvoor is hy spesiaal uitgekies.
Ek is steeds baie hartseer, ek word steeds kwaad en ek sit steeds met sóveel vrae. Maar ek weet God bly goed. Hy het my geseën met meer as waarop ek ooit kon hoop of waarvoor ek ooit kon vra. Ek weet Hy het my baie lief, soos vir elkeen wat hier lees. Mag ons nooit ophou om oor sy goedheid te getuig nie.
Loof en prys sy grote Naam!
- Sané en haar man Jandré, ’n boer, woon op ’n plaas naby Hoopstad. Sané is ’n onderwyseres, maar sy is nou voltyds ma vir haar eenjarige seuntjie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.



















