Sendeling en skrywer Michele Potgieter sê daar is nog ’n moontlike kans op lewe vir haar 23-jarige dogter Mari-Alena.
Sy veg die afgelope vyf maande teen Burkitt se limfoom, ’n rare kanker wat gewoonlik in die abdomen of milt begin.

Michele verduidelik: “Haar dokters het bevestig dat Mari-Alena nie langer met chemoterapie sal voortgaan nie, omdat dit nie effektief was teen haar aggressiewe vorm van kanker nie. Op hierdie stadium maak dit nie langer sin vir haar om die newe-effekte van beide die behandeling en siekte te deurstaan nie. Die gewas in haar maag het verdubbel in grootte.
LEES OOK: Sendeling oor dogter se maagkanker: ‘God sal deur haar getuienis verheerlik word’
“Haar beste kans is ’n gevorderde, eksperimentele behandeling genaamd CAR-T Cell-terapie* – maar dit is nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.” Volgens Michele is daar wel sulke terapie in Suid-Afrika beskikbaar, maar nie spesifiek vir Burkitt se limfoom nie.
Die Sheba Medical Centre in Israel het Mari-Alena se saak hersien en is bereid om haar ’n plek in hulle terapieprogram te gee, sê Michele.
“Ons gee nie op nie en Mari-Alena gee nie op nie. Ons vertrou op God om haar te genees en doen alles menslik moontlik. Die enigste opsie wat ons oor het is die CAR-T Cell-terapie.”
- Klik hier indien jy wil help.
*CAR-T Cell-terapie is volgens die Nasionale Kankerinstituut ’n vorm van immunoterapie. In kort beteken dit dat die pasiënt se eie selle geneties verander word om sodoende die kankerselle aan te val.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















