Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die betowering wat in die donker te vind is

Terwyl ons een aand op die stoep sit, sien ek ’n enkele vuurvliegie al dansend in die verte. En ek is onmiddellik opgewonde. Die liggie herinner my aan my kinderdae – en skielik besef ek mý kinders het nog nooit ’n vuurvliegie gesien nie. 

Toe neem ek hul klein handjies in myne en ons hou ons asem op terwyl ons nader kruip. Ons kyk in verwondering hoe die vuurvliegie in die donker rondvlieg. Een van my seuntjies besluit om dit te probeer vang. Hy hardloop agter die diertjie aan, sy arms voor hom uitgestrek, en uiteindelik kry hy dit gevang. Hy kom wys my wat in sy handjies rus en roep uit: “Ek het ’n sterretjie gevang!” 

LEES OOK: ‘Kies om God te aanbid – ten spyte van moeilike omstandighede’

Maar toe sien ek sy teleurstelling toe die vuurvliegie in die skerp stoeplig nie meer so spesiaal lyk soos vroeër nie. Die liggie is nou baie dof, en my seuntjie se gesig sê alles: Die magic het verdwyn.

Ek sê hom dat hy die diertjie weer moet vrylaat, in die donker. Dis daar waar sy liggie die beste lyk. Hy doen dit en sy gesiggie helder dadelik op, soos die vuurvliegie se lyfie.

Terwyl my kinders in die donker giggel en agter vuurvliegies aanhardloop, dink ek: Dis tog vreemd hoe ’n mens se kop werk. As ons aan die donker dink, dink ons gewoonlik aan gevaar. Ons vrees wat ons gaan sien as ons die lig aanskakel. Wag daar ’n groot kakkerlak op die vloer? Skuil daar ’n skelm in die skadu’s? ’n Monster in die verste hoek? 

Magic skuil ook in die donker

Maar in die donker, dit vind ons mettertyd uit, is daar dikwels ook magic te vind. Vuurvliegies, byvoorbeeld, hou van die donker. Daar is ook ander wonderlike dinge wat in die donker floreer. Lig, onder meer, wat slegs in die afwesigheid van ander lig werklik betekenis verkry. En waar daar lig is, is daar lewe. 

As ons dan daarin kan slaag om ons vrees by die deur te laat, wag daar dikwels iets moois in die donker. Trouens, die donker beslaan ’n ruimte vol moontlikhede. Ons moet wel bereid wees om juis daar te gaan kyk om dit raak te sien. Ons moet daar tot stilstand kom. En, as dit moontlik is, net daar wag. 

Die beroemde psigiater Carl Jung het eens gesê: “Mense sal enigiets doen – ongeag hoe absurd dit is – om te verhoed dat hulle hul siel in die oë moet kyk.” En bygevoeg: “Maar wie na binne kyk, ontwaak.” 

Ons dink dikwels dat ons, wanneer ons na binne kyk, ons in ’n soort donkerte begewe. Ons is bang om dit te doen omdat ons nie weet wat om daar te verwag nie. Ons vrees die donker plekke in ons hart. Ons vrees die monsters.

Maar dis ’n vergissing; dit is juis daar waar wonderlike dinge kan gebeur, waar ons kan ontwaak. Die donker in ons is nie ’n vyand nie; dit verteenwoordig ’n uitnodiging om die lig te ontdek.

Wanneer die Evangelieskrywer probeer woorde gee aan wie Jesus is, sê hy: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh 1:4-5).

Is dit nie wonderlik om te dink dat ons Jesus juis in die donker aantref nie? Ja, selfs in die diepste donker bring Hy lig. Dan is daar niks te vrees nie. Hy is nie net by ons wanneer ons vol vreugde is nie; Hy is juis in die donker ruimtes waar onsekerheid, vrees en pyn dreig om die oorhand te kry. 

Dalk is dit so dat Jesus wil hê dat ons gemakliker moet word met die donker in ons sodat ons sy helder lig daar kan raaksien. Dat ons oplaas uitvind waar die betowering lê. Dat ons opnuut, of vir die eerste keer, ontdek dat Hý die ware magic is.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►