Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vrou veg reeds 12 jaar lank teen breinkanker: ‘Asemhaal is ’n voorreg’

“Ek het net besef ek kan nie meer stilbly oor wat die Here in my lewe gedoen het nie. Ek is ’n wandelende wonderwerk!”

Dié woorde van die 42-jarige Matilda Pieters bereik die LiG-kantoor via ’n e-pos uit Vredenburg in die Wes-Kaap. ’n Gesprek met hierdie vasberade vrou laat die hoendervel op jou lyf uitslaan. Matilda veg reeds 12 jaar lank teen breinkanker.

Iewers in 2013, twee weke ná haar en haar man Herman se troudag, het die skoknuus van ’n kankerdiagnose haar bereik. Daar het twee breinoperasies gevolg, en lang ure en dae en maande se chemoterapie. Sy moes ook haar beroep as onderwyser laat vaar omdat sy dit doodgewoon nie langer kon volhou nie.

Maar vroeër vanjaar het sy die Comrades-ultramarathon aangedurf, soos in 2016 en 2018. In Juniemaand, enkele dae voor die 2025-wedloop, is daar egter weer groei-aktiwiteit in haar brein bespeur. Sy het nietemin deurgedruk en die wedloop voltooi, net soos die vorige twee keer.

Hoe op aarde het sy dit reggekry?

“Gebed is my grootste anker,” vertel sy. “Daar was sóveel dinge wat kon verkeerd loop tydens die ingewikkelde operasies, maar dit het nie. Volgens my dokter is dit ’n wonder dat ek nie aan my regterkant verlam is nie. Die feit dat ek normaal kan lewe, is op sigself ’n wonderwerk. Dít gee my die meeste hoop.

“Soms word die las te swaar en dan word ek moedeloos. Dit is dan, wanneer ek regtig nie verder kán nie, dat ek agterkom hoe die hemelse Vader my dra.”

’n Legkaart van genade

“Wanneer ek op die afgelope 12 jaar terugkyk,” vertel Matilda, “sien ek ’n klomp klein legkaartstukkies wat, deur God se genade, in mekaar pas.

“Daar was die onmiddellike mediese ingryping, wat gelei het tot die suksesvolle verwydering van die breintumor. Destyds hoef ek ook nie chemoterapie of bestraling te ondergaan het nie. Die gewas is vroeg genoeg opgespoor.”

Maar in 2019 het daar weer ’n tumor ontwikkel, en in dieselfde deel van die brein as die vorige keer. Dit kon weer eens suksesvol verwyder word. “Ongelukkig,” sê Matilda, “was daar ’n klompie newe-effekte, onder meer permanente epilepsie en senuweeskade. Ná ’n moeilike ses weke by die Vincent Pallotti-rehabilitasiesentrum in Kaapstad kon 99,9% van my liggaam se motoriese funksies herstel word. Danksy toegang tot sulke eersteklas mediese behandeling kon ek dus steeds ’n normale lewe lei.”

LEES OOK: Onderwyser bring hoop in chemokamer en oefen vir ‘oorwinningswedloop’ in haar kankerstryd

In 2021 is daar nog eens tumor-groei bespeur. “Dié keer het dit ’n volle jaar se chemoterapie gekos om dié nuwe groei te bestry. Na afloop van hierdie sessies het MRI-skanderings aangetoon dat die chemoterapie doeltreffend was. Die kanker was in remissie.”

Sedertdien word daar elke ses maande ’n MRI-skandering uitgevoer, en dit is op dié wyse dat die tumor in Junie vanjaar opgespoor is. Sy ondergaan tans chemoterapie.

‘Asemhaal is ’n voorreg’

Die chemoterapie laat haar brein “dof” voel, en sy ervaar erge moegheid. Nogtans bly sy positief. “Môre is nie gewaarborg nie. As jy soggens wakker word, is dit reeds ’n groot voorreg.

“Ek het die uiterste respek vir die mediese personeel wat ek oor die afgelope jare ontmoet het. Ek is só dankbaar vir hulle!

“En ek is dankbaar vir ons magtige Here se genade. Hy het my ’n tweede en ’n derde kans op lewe gegee.

“My man is ’n engel uit die hemel. Daar is familie en vriende wat my gedra en versorg het. Ek kan nie die belang van my ondersteuningsnetwerk behoorlik beskryf nie. Ek is waarlik geseënd!”

Matilda wil graag ander kankerlyers bemoedig, en daarom getuig sy: “Die heel belangrikste saak is geloof. Mý geloof is my anker, en die krag van gebed hou my staande. Ek het geleer om dankbaar te wees vir die klein dingetjies in die lewe. Net om asem te haal is ’n voorreg.

“Kyk rond en sien die wonderwerke om jou. Onthou, jy is reeds ’n wonderwerk in ons hemelse Vader se oë.

“’n Positiewe uitkyk op die lewe is van groot belang. Waar daar lewe is, is daar hoop. Jy kan óf tou opgooi, óf jy kan veg. Die keuse is joune. Ek kies die lewe. Dis nie altyd maklik nie, maar jy moet vashou aan jou keuse.

“Wees eerlik met jouself. Jy is nie superman of superwoman nie. Moenie probeer om berge te versit nie. Leef ’n uur op ’n slag. God verwag nie van jou om deurentyd sterk te wees nie.”

Trauma en verlies, en opstaan

Matilda praat openhartig oor ’n onlangse emosionele stryd en hoe sy “vér van sterk af” was. Die afgelope klompie jare se trauma het sy tol begin eis. “Daarom is ek baie dankbaar vir ’n goeie psigiater. Ek moes my trauma herbesoek en dit opnuut verwerk.”

Daar was ook ’n heel onlangse verlies: “Die dag ná vanjaar se Comrades is my ma aan ’n hartaanval oorlede. Dit was ’n skok vir my liggaam, dit het my tot in my diepste wese geraak. Ek wou maande lank nie weer draf nie. Maar tyd bring genesing.”

Matilda staan altyd weer op. Letterlik. “Ek het pas nuwe tekkies gekoop,” vertel sy. “Ek gaan weer begin draf.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►