Om leier van die land se opposisie te wees, was moeilik. Om ’n ma te word, was moeiliker. Helen Zille, wat as die ystervrou van Suid-Afrikaanse politiek beskou word, praat hier nie oor regeringsake, die parlement en verkiesings nie, maar eerder oor haar haar reis as ma, ouma, skoonma en dogter. Hierdie skryfstuk is ’n uittreksel uit die boek Die hart van ’n ma (Naledi).
Wanneer ’n mens aan Helen Zille dink, kom daar bes moontlik ’n beeld van ’n formidabele politikus in jou gedagtes op. ’n Leier wat bekend is vir haar ferm (en soms omstrede) standpunte en skerp debatvoering.
Maar wanneer sy oor ma-wees praat, verskyn daar ’n heel ander kant van haar. ’n Sagter, meer brose kant. Vir Helen was ouerskap nooit ’n eenvoudige rol nie. Dit was kompleks, veeleisend en soms selfs pynlik. Maar dit was ook een van die mees vormende ervarings van haar lewe. Helen het eers op 32 ma geword – ’n doelbewuste besluit. “Dit was belangrik om eers in my loopbaan gevestig te wees,” verduidelik sy. “Ek het ook toe eers die man ontmoet wat ek gedink het ’n goeie pa vir my kinders sal wees.” Maar niks kon haar regtig voorberei op wat sou volg nie.
18 maande se nageboortedepressie
In haar biografie Not Without a Fight skryf sy ook openlik oor haar ervaring met nageboortedepressie, iets waaroor daar destyds selde gepraat is. “Ek sou eindelik ’n hele paar maande met nageboortedepressie worstel,” vertel sy. “Ek het ná my eerste kind en ook na my tweede kind daaraan gely. Ek het nie besef dat dit oorerflik is nie – my ouma het ook daarmee gesukkel. Dit het omtrent 18 maande geduur en was een van die moeilikste tye in my lewe,” erken sy ruiterlik. “Eers later sou ek dit beter verstaan. My man was wel baie ondersteunend. Hy het trou aan my sy gebly en ons het anderkant uitgekom. Wanneer ons terugkyk, besef ons dit het ons verhouding sterker gemaak.” Die ervaring het haar diep geraak, veral omdat dit so bots met hoe sy haarself geken het. “Nageboortedepressie verander eintlik die mens wie jy is,” sê sy. “Ek is ’n persoon wat vir niks terugdeins nie. Ek sien vir alles kans. Ek het gedink daar is mos miljoene vroue wat kinders het – dit moet seker baie maklik wees. Ek doen dinge wat nie so algemeen is nie, so hoekom maak mense so groot ding van swangerskap, geboorte-gee en kinders grootmaak? Die meeste vroue in die wêreld doen dit. Ek het egter op ’n wrede manier uitgevind dat dit nie so maklik is nie.”
LEES OOK: Uittreksel: ‘Eendag gaan ons niks, behalwe ons (12) kinders, kan saamvat hemel toe nie’
Die fisieke ervaring van geboorte het haar ook geskok. “Toe ek geboorte skenk aan my eerste kind, kon ek nie glo hoe erg die pyn was en hoe lank dit geduur het nie,” onthou sy. Sy lag as sy vertel hoe sy destyds in die hospitaal gelê het en gewonder het hoe vroue deur die eeue heen geboorte gegee het. “Ek was in ’n hospitaal met al die geriewe beskikbaar en ek het myself afgevra hoe vroue dit êrens in ’n hut of op ’n Voortrekkerwa kon doen?” Daardie eerste dae van moederskap het haar onseker laat voel. “Ek het dadelik gedink ek is nie opgewasse vir die taak om ma te wees nie en het onbekwaam gevoel vir hierdie taak wat voorlê,” erken sy. Al was daar gou ’n sterk band met haar baba, het die depressie haar verander. “Wanneer nageboortedepressie inskop, verloor jy perspektief,” verduidelik sy.“Klein dingetjies in die gewone lewe raak ’n reuse berg om te oorkom.” Vir iemand wat gewoond daaraan was om uitdagings sonder skroom te takel, was dit besonders moeilik om te verstaan wát met haar gebeur. Toe sy later weer swanger raak, het sy geweet die risiko bestaan dat dit weer kan gebeur. Tog het sy nie teruggestaan nie. “Wat my gehelp het, was tyd,” sê sy eenvoudig. “Toe my hormone stabiliseer, het dit beter begin gaan.” Haar man se ondersteuning was deurslaggewend. “’n Man moenie dink sy vrou wat sukkel met nageboortedepressie is nie die vrou met wie hy getrou het nie – miskien nie op die oomblik nie, maar sy sál daar deurkom,” sê sy. “Dit neem tyd, hy moet ondersteunend wees en verstaan dat dit nie haar skuld is nie.” Medikasie het vir haar min verskil gemaak. Wat wél gehelp het, was om met ander vroue te praat wat deur dieselfde ervaring gaan. “Ek het toe ook ’n nageboortedepressie-ondersteuningsgroep begin saam met en vir ander vroue wat daarmee worstel,” vertel sy.
Sy het ook ’n artikel vir Fair Lady oor die onderwerp geskryf, iets wat onverwags ’n groot reaksie ontlok het. “Nog nooit vantevore en nooit daarna, het ek sulke terugvoer op ’n artikel wat ek geskryf het, ontvang nie,” onthou Helen. “Dit het my laat besef, daar is talle vroue wat hierdeur gaan. Ek is nie eiesoortig, nie ’n uitsondering nie. Ek het besluit ek wil ander vrouens probeer help.” Sy het betrokke geraak by organisasies wat gesinne ondersteun en het steungroepe vir vroue met nageboortedepressie begin. Die gesprekke en gedeelde ervaring het nie net ander gehelp nie, maar ook haarself. “Ek het mettertyd besef dat ek, alhoewel ek by tye ontmoedig was, nog kans gesien het om dinge te doen, om inisiatief te neem,” sê sy. Depressie het ook ’n rol in haar familiegeskiedenis gespeel. Haar ouma aan haar pa se kant het erge nageboortedepressie gehad. “Sy het dit so erg ervaar, dat haar kinders, ook my eie pa, na hul geboorte ’n tyd lank van haar weggeneem is, totdat sy weer reg was om na hulle om te sien,” vertel Helen. Haar eie ma het ook met depressie gesukkel, hoewel dit nie nageboortedepressie was nie. “Namate ek ouer geword het, het ek al meer en meer begrip vir my ma se depressie gekry,” sê sy. “Ek het besef waardeur sy gegaan het. Sy het ’n baie moeilike lewe gehad. Sy het alles vir ons gedoen. “As ek nou so terugkyk, wens ek dat ek meer gedoen het om haar te ondersteun,” erken sy. “Ek was ’n normale tiener wat teruggepraat het. Dit was moeilike tye en ek het nie besef dat my ma eintlik nie heeltemal gesond is nie.” Dié insig het eerslater gekom. “Ek sou dit baie anders hanteer het as ek die wysheid, wat ek nou het, as kind gehad het,” sê sy. “’n Mens het dit egter natuurlik nie as jy 15 of 16 is nie.”
Toe haar nageboortedepressie uiteindelik verby was, het sy stadig haar voete as ma gevind. Sy het aanvanklik by haar kinders se skoolbeheerliggaam betrokke geraak. Van daar af het politiek ’n al groter rol begin speel. Dit was egter nie maklik om ’n werkende ma te wees nie. “Politiek is veeleisend,” erken sy. Wat vir haar ’n groot verskil gemaak het, was haar man se ondersteuning. Hy was professor en departementshoof by die Universiteit van Kaapstad, maar het steeds sy deel van die ouerskapsverantwoordelikhede bygedra. Daar was ook tye wat besonder intens was. Veral toe sy haar eie beleidskonsultasie begin het. “Dit was die moeilikste tyd van my lewe; my kinders was nog baie klein,” sê sy. Sy het dikwels deur die nag gewerk om projekte klaar te kry. “Ek het hulle van kleins af in ’n crèche gehad,” erken sy. “Daaroor voel ek nou nog soms bietjie skuldig.” Maar sy voeg vinnig by dat sy baie trots is op haar seuns.“Ek reken darem hulle is suksesvolle volwassenes en dit kon dus nie te traumaties vir hulle gewees het nie,” sê sy met ’n glimlag.
Soms ’n afwesige ma, maar kinders steeds eerste
Wanneer sy oor moderne ouerskap praat, verwys sy dikwels na twee boeke van die skrywer Jonathan Haidt wat haar beïnvloed het: The Coddling of the American Mind en The Anxious Generation. “Kinders moet van kleinsaf leer dat die lewe nie altyd maklik is nie, dat dinge nie altyd billik is nie, dat jy kan seerkry,” sê sy. “Ouers moenie probeer om alles van hulle kinders weg te hou nie.” Wanneer Helen terugkyk op haar eie optrede as ouer, erken sy dat sy nie altyd perfek was nie. “Ek mag dalk dikwels ’n afwesige ma gewees het,” sê sy eerlik. “Maar my kinders het geweet as hulle my bel, selfs al is ek by die president, sál ek daardie oproep neem.” Daardie beginsel het vir haar belangrik gebly: dat haar kinders altyd sou weet hulle kom eerste. Sy glo ook kinders moet leer om hul eie foute te maak. “Om die gevolge daarvan te leer en te ervaar, en nie altyd vir hulle die pad gelykmaak nie. My seuns was nie maklike tieners nie,” erken sy. Veral sy en haar oudste het soms gebots. “Hy aard baie na my – hy het ook sterk uitgangspunte en neem sterk standpunt in!” vertel sy. Selfs vandag gebeur dit nog dat hulle verskil. “Ons het onlangs oor kunsmatige intelligensie ’n groot argument gehad,” sê sy laggend. Sy vind dit steeds merkwaardig hoe die klein babatjie wat eens in haar arms gelê het, nou ’n volwassene is met sy eie gewoontes en opinies. “En dat hulle nou baie, baie meer van alles af weet as wat ek daarvan weet!” Vandag bring haar rol as ouma groot vreugde. Haar eerste kleinkind, Mila, is na Helen se ma en ouma vernoem. Dit dra vir haar ’n besondere betekenis. “Dit is spesiaal om te weet dat iets van hulle in jou kleinkind voortleef.”
Haar verhouding met haar skoondogter is ook vir haar baie kosbaar. “Dit was vir my lekker om te sien hoe maklik sy mawees ervaar,” vertel sy. “Sy is ’n natuurlike en wonderlike ma.” Sy bewonder ook haar skoondogter se sterk fokus op familie. “Sy wil hê haar kinders moet hulle grootouers goed leer ken en ’n goeie verhouding opbou,” sê Helen. “Ek is elke dag dankbaar vir haar.” Een van haar seuns en sy lewensmaat het egter ’n ander pad gekies.“Hulle sien nie kans om te trou of babas te hê nie,” sê sy. “Hulle is, wat hulle in Engels noem, dinkies – double income no kids.” En sy respekteer dit.
Meer luister as praat
Wanneer sy oor haar eie ma nadink, beskryf sy hul verhouding as kompleks. “Hulle sê, your mother presses all your buttons, because she put them there,” sê sy. Tog het sy baie van haar ma geleer. Hulle was baie eenders, albei sterk en vasberade. “Baie wyshede wat telkens by my opkom, is iets wat my ma gesê, of iets wat sy gedoen het.” Aan die einde van haar ma se lewe het hulle ’n besondere manier gevind om te kommunikeer. Omdat haar ma beter kon lees as luister, het Helen elke dag vir haar ’n brief geskryf. “Ek het jare lank elke dag vir my ma iets geskryf,” vertel sy. Daardie geskrewe gesprekke het hulle nader aan mekaar gebring.
Wanneer Helen vandag oor ouerskap praat, is haar belangrikste boodskap eenvoudig. “As ma moet jy onvoorwaardelik lief wees vir jou kinders,” sê sy. “Werk aan ’n goeie verstandhouding, kommunikasie en meer luister as praat,” sê sy. Een beginsel het sy deur die jare as riglyn gebruik. “Talk as if you are right … but listen as if you are wrong.”
Helen Zille se merkwaardige storie is ’n uittreksel uit Die hart van ’n ma – Essays uit die podsending ’n Ma & ’n Mikrofoon (Naledi) en kan hier bestel word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















