Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Dis my droom om Elijah te sien grootword’ – ma van driejarige bloedkankerlyer vertel

Die driejarige Elijah Ritter was ’n vrolike seuntjie van twee-en-’n-half toe hy nege maande gelede met aggressiewe bloedkanker gediagnoseer is.

Elijah se pa Carl moes sy werk as gespesialiseerde paramedikus laat staan om voltyds na Elijah om te sien, terwyl ma Jo-Anne (30) die pot aan die kook hou. Sy werk as belastingsekretaris by ’n rekenmeesterfirma.

Die skoknuus

Elijah was Jo-Anne en Carl se geskenk van Bo nadat Jo-Anne ’n hoërisiko-swangerskap beleef het. Sy vertel: “Elijah was ’n gesonde, energieke seuntjie met ’n sterk wil. Ons het ’n baie noue band met hom, en ’n liefdevolle verhouding.”

Maar hul lewe het in Junie 2025 soos handomkeer verander. Elijah se speelskool het laat weet dat hy ewe skielik nie meer kan loop nie. Sy ouers is dokter toe met hom, en volgens dié was die enigste probleem dat hy sy enkel verstuit het.

Maar ná drie weke by die huis het Elijah begin siek voel. Hy het ’n mond-infeksie opgedoen wat met koors gepaardgegaan het. Daarvoor is hy met antibiotika behandel.

LEES OOK: ‘Jy is Jesus se skapie, Hy sal jou oppas,’ sê tienjarige kankerlyer aan ander kinderkankerpasiënte

“Ons is later weer dokter toe met hom,” vertel Jo-Anne. “Hy het steeds geweier om te loop, hy wou nie meer speel nie. En toe die speelskool op 2 Julie laat weet dat Elijah ’n koors van 38 grade ontwikkel het, is ons inderhaas terug na die pediater toe.

“Dié het opgemerk dat Elijah se magie styf opgeswel is en dat sy milt vergroot is. Hy wou ’n klompie toetse doen om agter die kap van die byl te kom. Ons is reguit na Panorama-MediClinic in Kaapstad, waar bloedtoetse op hom uitgevoer is.

“Toe die pediater, dr Pieter de Waal, saam met die suster van die pediatriese saal na ons toe kom, het ek besef daar is fout.

“En toe kom die skoknuus: ‘Dit lyk asof Elijah bloedkanker het.’”

Vrae, en ’n belofte

Jo-Anne wou dit nie glo nie. “Tydens my swangerskap het ek hom twee keer byna verloor. Dit was ’n hoërisiko-swangerskap met ’n 70%-kans op ’n stilgeboorte. Moes ek hom nou aan kanker afstaan …?

“Ek het God met vrae gepeper: Hoekom moet my onskuldige kind hierdeur gaan? Word hy gestraf? Was dit iets wat ék gedoen het?

“Ek was hartseer en kwaad. ’n Warboel emosies het my oorweldig. My man en ek het na mekaar toe gedraai, ’n uur lank saam gehuil en mekaar ondersteun.

“Toe besluit ek dat ek weier om te aanvaar dat ek my kind gaan verloor. Ek sou Elijah, met die Vader se hulp, hierdeur kry. Ek het myself belowe dat hy ’n normale en goeie kinderlewe sal hê.

“Ek het baie diep gesprekke met die Here gehad en ook met Hom gestry. Tog het ek nooit my rug op Hom gedraai nie. Die Here het vir my gesê dat Hy ’n plan met Elijah se siekte het, al weet ek tot vandag toe nog nie wat dié plan is nie. Maar hierdie belofte het vir my baie kalmte gebring sodat ek sy siekte beter kon verwerk.”

Tree vir tree

Volgens die dokter is die bloedkanker waarmee Elijah gediagnoseer is dié soort “wat jy eerder wil hê”. Dit word B-sel akute limfoblastiese leukemie (B-ALL) genoem, dis aggressief met groot risiko-faktore – maar dit lewer ook die beste resultate as dit behandel word.

Kyk hierbo na Zhara du Toit se boodskap aan ander kankerlyers. Twee jaar het intussen verloop en sy is tans kankervry.

Die dokter het onmiddellik ’n bloedoortapping aangevra.

Elijah is op 3 Julie 2025 na Rondebosch Medical Centre oorgeplaas, waar ’n pediatriese onkoloog, dr Anabela Andrade, na hom sou omsien. “Sy het aan ons verduidelik hoe die pad vorentoe sou verloop. Sy het aanbeveel dat ons dié pad tree vir tree moet aanpak.”

Die volgende dag het Elijah weer bloed ontvang. Die kardioloog wou vasstel of sy hart sterk genoeg vir chemoterapie-behandeling sou wees. Dieselfde aand is daar met die chemoterapie begin. Daar was nóg ’n bloedoortapping.

Jo-Anne en Carl het tien dae lank by Elijah in die hospitaal deurgebring, totdat hy sterk genoeg was om huis toe te gaan.

Hierna moes hy gereeld hospitaal toe. Die behandeling het nege maande geduur en vyf siklusse behels.

Jo-Anne vertel: “Ek is gewoonlik baie depressief wanneer Elijah hospitaal toe moet gaan en ek nie by hom kan wees nie omdat ek werk. Sy pappa en sy teddie moet hom dan maar troos, terwyl my hart by hom is.”  

‘Ek moes leer om volkome op die Here te vertrou’

Omdat Elijah se liggaam sleg gereageer het op die chemoterapie wat hy ontvang het, het die dokter ’n alternatiewe soort chemoterapie voorgestel: die sogenaamde Erwinase-behandeling, wat uit die Verenigde Koninkryk ingevoer is.

Steeds was die nagevolge erg. Veral die naarheid, die braking en die lyfie wat so gepyn het. Sy hare het begin uitval. Ook sy smaak is belemmer en hy het gesukkel met die tekstuur van sekere kossoorte. Dit alles het hom geïrriteer en hom buierig gemaak.   

’n Verdere probleem was sy are wat begin platval en later gedisintegreer het. Daarom moes die verpleegpersoneel vir hom ’n mediese port in sy bors inplant om die binneaarse medikasie toe te dien.

Gelukkig het Elijah al hoe sterker geword. En onlangs kon hy ’n paar dae lank huis toe gaan. Dit was ’n welverdiende blaaskans vir die gesin en hulle kon wegglip see toe om gehaltetyd saam met mekaar deur te bring.

Sy ma vertel: “Elijah wou net buite in die sand speel, op sy swart skopfietsie ry en visvang. Dit was wonderlik om hom so gelukkig te sien!”

Op 9 April 2026 het fase ses van die chemoterapie afgeskop. Dis ’n twee jaar lange fase met minder intense behandeling, onder meer chemoterapie-pille en steroïede wat hy daagliks moet gebruik. Dit sal sy liggaam kans gee om te herstel en aan te pas.

Die volgende drie maande sal Elijah nog in en uit die hospitaal wees. Daarna geleidelik minder.   

Jo-Anne sê: “Elijah se kankerreis was ’n seerkrypad wat ons dikwels bang gemaak het. Maar dit het my geleer om geduldig te wees met myself en om genade vir myself te hê. Ek moes leer om volkome op die Here te vertrou.”

Geloof, hoop, en drome

By sowel Jo-Anne as Carl het daar mettertyd ’n innige verhouding met die Here ontwikkel. Hulle bly dankbaar vir elke bietjie vordering wat Elijah toon.

Hulle hoop dat Elijah in September vanjaar kan teruggaan speelskool toe, al is dit slegs halfdag, en sy normale aktiwiteite hervat.

Elijah het wel, liggaamlik gesproke, ’n agterstand omdat hy so baie tyd in die bed moes deurbring. Hy is nie so sterk soos kinders van sy ouderdom nie en hy beweeg ook nie so vinnig soos hulle nie. Daarby is hy skaam en teruggetrokke wanneer hy tussen ander kinders is.

“Ons wil so graag hê hy moet maatjies maak, hy moet speel, hy moet net kind wees …”       

Elijah sal voortaan elke jaar vir ’n reeks toetse moet aanmeld omdat die kanker so aggressief is. Volgens Jo-Anne is ’n terugslag ’n besliste moontlikheid, maar solank hy die behandeling voltooi en gereeld getoets word, kan hy ’n normale lewe lei.

“Dis heerlik wanneer Elijah tuis is, met sy kietsiekat wat by hom gaan inloer. Dan oorlaai ons hom met liefde.

“Ek droom daarvan om Elijah te sien grootword, om hom ’n normale lewe te sien lei. Ek wil nie hê dat hierdie siekte sy lewe, sy menswees, moet definieer nie. Ek bid dat hy gesond sal word en dat hy, namate hy groter word, ook in sy geloof sal groei. Hy is Jesus se klein vegtertjie.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF