Gerhard Pietersen se boek oor die wrede moord op sy skoonouers, en die pad na genesing wat hy daarna moes aandurf, getuig daarvan dat heelwording tog moontlik is ná erge trauma. Al bring dit jou by ’n ander plek uit as wat jy gedink het dit sou.
Die boek Wond: Plaasmoord – dis my mense (Litera, 2025) is Gerhard Pietersen se rou en eerlike vertelling oor menslike lyding. Nadat sy skoonouers wreed vermoor is op hul kleinhoewe net buite Groot-Brakrivier in die Wes-Kaap, was die hele familie erg getraumatiseer. Dié boek doen ook verslag van ’n persoonlike reis saam met God deur ’n landskap vol geweld. Op hierdie pad word die leser saam met hom kwaad. Jy huil, gil, sien en hoor en proe soos hy. Soms lag jy saam met hom.
Gerhard sê lesers het hom vertel dat hulle twee keer deur die boek is: “Die eerste keer het hulle dit soos ’n speurroman gelees, een wat jou met skok en hartseer stormloop, met selfs ’n bietjie humor ingevleg. En die tweede keer lees hulle dit soos ’n wysheidsoeker met ’n vergrootglas.”
’n Wêreld wat stom geword het, afgestomp
“My skoonouers was eenvoudige mense,” vertel Gerhard. “Hulle het ’n groot hart gehad vir mense wat swaarkry. Hulle het dié kleinhoewe sedert 1992 besit en my skoonpa het dit as sy ‘plaas’ beskou. Hy was ook die rioolsuiweringsagent in Groot-Brak en het ’n vragmotordiens bedryf. “Hy en my skoonma is deur ’n werker en dié se meeloper vermoor. Die werker het landuit gevlug. Die hofsaak het vier jaar lank geduur.”
Gerhard is tans ’n deeltydse leraar by Hoop Geloofsgemeenskap in Somerset-Wes. Hy het onlangs ’n benoeming aanvaar as die nuwe uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Sy vrou Amor is ’n verpleegster by ’n privaat kliniek. Hulle het drie kinders: Mia (25), ’n grafiese kunstenaar; Imke (23), ’n arbeidsterapeut by ’n skool in Pretoria; en Martiens (19), ’n eerstejaarstudent in siviele ingenieurswese op Stellenbosch. Die trauma wat hy en sy gesin moes deurmaak, het fisieke en geestelike wonde gelaat. “Ek het lank stil gebly,” vertel Gerhard. “Ek het my onttrek. My hart was my klooster.” Wond was vier jaar lank bloot joernale, wat hy in 2020 begin skryf het nadat hy bloedklonte in sy longe gekry het en drie weke lank moes regop sit. Daarna het hy ’n verdere vier jaar aan die verhaal geskryf, wat uiteindelik ’n boek geword het. Hieroor haal hy die Psalm 39-digter aan: “Ek was stil sonder om ’n woord te sê, maar my pyn het vererger.” Wond was uiteindelik “’n opdrag sonder aankondiging”. Hy sê: “Dis ’n lament, ’n treurlied, ’n protes teen die regverdiging van geweld, én teen ons onvermoë om empatie met mekaar te hê. “Ons leef in ’n wêreld wat stom geword het, afgestomp geraak het. Ons beleef nie meer die pyn om ons en in ons familie en in onsself nie. Ná ’n week vergeet ons die name van mense wat traumaties gesterf het. “Ek het besef dat ons met verloop van tyd ’n brose samelewing geword het, en ook ’n abnormale een. “My pyn is vererger deur die wete dat ek op ’n dag weer die gewone lewe sou moes aanpak. Dat ek dan weer alles sou moes onderdruk.”
Wond het Gerhard se terapie geword, sy medisyne. “Dis my kruisteologie. Die verwonde Christus het saam met my geskryf. Hy het my oë laat oopgaan vir sy eie wonde, wat ook aan my lyf en gees gesit het. Tussen die pen en papier en al die woorde het Jesus saam met my gereis.” ’n Nuwe belewenis, ’n nuwe verstaan Gerhard het dié reis in ses dele weergegee. Elke deel handel oor ’n ander fase in die wond se genesingsproses. Saam met elke fase het ook sy geloof: Sy belewenis en verstaan van God het nuut geword.
“Aanvanklik het dit gevoel asof mense se gebede my voete van die grond af lig, asof dit my soos vlerke dra. Maar toe die werklikheid van die verlies duideliker begin word het, en die moordondersoek so lank uitgerek is, het ek al hoe stiller geword. Ek het magteloos gevoel. Kwaad. Hartseer. Ek het baie dae gewonder waar die Here in al dié dinge is. Hoe kan Hy dit toelaat? Hoe kan dit enigsins geregverdig word?” Hy het nuwe insig ontwikkel in wat trauma werklik inhou, verduidelik Gerhard. “Ek het begin insien wat die geweld in die land aan ons mense doen. En ek het probeer verstaan hoe dit moontlik is om daarmee saam te leef. “Trauma, het ek vasgestel, is allereers ’n emosionele en liggaamlike reaksie op iets ingrypends en skokkends wat met jou gebeur. Dit beskryf ’n verskeidenheid belewenisse: skok, verwonding, maar ook liefde en blydskap. En trane en seerkry en slaaploosheid en moegheid. “Jy kan vir almal jok, behalwe vir jou lyf. Jou liggaam verklap waar jy jou nou bevind. Dit sal sê: ‘Hier is pyn. Stop hier, en gee aandag daaraan.’ “Ek het geleer hoe belangrik emosionele en liggaamlike selfsorg in die genesingsproses is, en hoe belangrik ondersteuningsnetwerke vir geweldslagoffers is. En dat daar nie maklike antwoorde is nie.”
Soos ’n blinde bedelaar
In die begin, sê Gerhard, het hy die Here probeer verdedig wanneer mense vir hom moeilike geloofsvrae oor die sin in lyding vra. “Ek het ook ander mense se antwoorde gelees, en oplaas agtergekom: Dis nie ek nie. “Om predikant te wees het die behoefte versterk om ’n goeie beeld te probeer skep – dié van die een wat alle soorte smart kan te bowe kom. Ek het egter besef ek is besig om ’n front voor te hou, om ’n muur om myself te bou terwyl ek binne-in aan die verkrummel is. “Ek het my al hoe meer begin afsonder. Maar toe het alles net erger geword, en die eensaamheid meer.” En die vrae wou nie wyk nie: God is dan vol barmhartigheid; Hy is almagtig en alomteenwoordig …“Ek móés begin skryf. Ek moes op dié manier God hoor, ek moes ligter voel. Ek wou gesond word. Ek was soos Bartimeus die blinde bedelaar, wat ’n paar keer om genade moes roep.”
’n Tentbewoner
Met watter oë kyk Gerhard deesdae na die wêreld? “Ek maak vrede daarmee dat my wêreld vol lyding is; ek dink wel nie op ’n pasifistiese manier daaroor nie. Maar ek weet wat my beperkings is. “Ek is ook realisties oor verandering; ek weet dit begin by en in my. Daar waar ek tussen my mense om die etenstafel sit. En langs my seun in die kar. En in die hand van my vrou.” “Ek het geleer dat hoop, soos trauma, twee kante het: Dis lyding én opstanding. Ons kan nie by die leë graf kom voordat ons nie deur Golgota gegaan het nie. Ons kan ook nie die werklikheid van die kruis alleen deurmaak nie. Daarvoor is ons is net te veel mens. “Trauma maak van jou ’n tentbewoner. Dis soos Jesus en die apostels ons geleer het: Jy is in hierdie wêreld, maar nie meer van hierdie wêreld nie. Jou voete is op dié aarde, maar jy het slegs ’n tydelike verblyfpermit.” ‘Die beste is om te luister’ “Wanneer moord gepleeg word, is daar nie ’n wenner nie. Ek het genadiglik opgegee met my pogings om die ‘held van lyding’ te wees, en om ’n goeie einde by elke storie te probeer skryf.”
Op die moeilike pad wat Gerhard moes loop, het hy, deur God se genade, die goeie gevind in die opstaan van elke dag. “Jy kan gelukkig wees, al is jou hart stukkend. Dis soos wanneer jy na ’n mooi liefdesliedjie luister … en dan word jy hartseer. Of as jy na ’n mooi sonsondergang kyk en bly is dat jy hier is om dit te beleef … en dan laat dit jou verlang, hunker, na iets meer.” Uiteindelik, sê hy, is hy nou ook daarvan bevry om ’n antwoord vir elkeen gereed te hê. “Dis oukei om nie te weet nie. En oukei om niks te sê vir mense wat trauma beleef nie.” Hy het geleer om bloot saam met hulle daar te wees. “Die beste is om te luister, en deur jou sagte teenwoordigheid sulke mense te laat voel dat dit wat hulle sê en beleef, belangrik is.”
In elke hoofstuk van Wond verwys Gerhard na sy vrou as “Liefde”. Hieroor sê hy: “Naby die einde van die skryfproses het ek besef dat ‘liefde’ die enigste woord naas ‘wond’ is wat nooit weggaan nie. Dit bons altyd weer terug.” Om ’n geloofsgemeenskap te vind soos dié een waar hy en sy mense nou tuis is, was op sigself ’n wonderwerk, sê Gerhard. “Daar is immers nie baie gemeentes wat ’n leraar met soveel sagtheid sal omarm nadat hy ’n boek soos Wond geskryf het nie.
“En ek wil ten slotte net sê dis nie dat ek in dié hele proses God weer gevind het nie; Hy het mý gevind – op gewone en op misterieuse maniere. En die weerbegin is steeds aan die gang. Elke dag.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.


















