Wat begin het as ’n vreemde gevoel in haar voete, het binne enkele ure ’n lewensgevaarlike stryd teen die Guillain-Barré-sindroom geword. Maar terwyl Mareli du Plooy stadig maar seker klein oorwinnings beleef het in dié stryd, het ’n ander geveg gewoed: dié teen vrees en twyfel.
Mareli du Plooy was wakker. Sy kon hoor wat om haar gebeur. Sy kon verstaan wat mense sê. Maar sy kon nie antwoord nie. Sy kon nie beweeg nie. Sy kon nie haar dogtertjie Elizabeth vashou nie. En uiteindelik kon sy nie eens self asemhaal nie.
Sy het wel geleer om haar lippe te gebruik om sekere klanke te vorm, en met bepaalde gesigsuitdrukkings kon sy wys wat sy nodig gehd het of hoe sy voel. ’n Frons, ’n beweging van haar mond of ’n bepaalde klank was soms die enigste manier waarop sy kon kommunikeer.
Alles het een vakansie-agtermiddag in Umhlanga begin. Mareli was toe 28 jaar oud. Sy het op die strand gestap toe sy agterkom haar voete voel snaaks wanneer sy daarop trap. Later daardie middag het ’n vreemde moegheid haar oorval.
Toe het sy speldprikkels in haar hande gevoel en sy het voorwerpe laat val.

Sy het besluit om te gaan slaap en gehoop dat alles die volgende oggend beter sou wees. Omstreeks tweeuur daardie nag het sy wakker geword en probeer opstaan. Sy het nog genoeg spiergeheue gehad om uit die bed te kom, maar toe sy haar gewig op haar bene plaas, het hulle onder haar meegegee.
‘Ek was binne 24 uur verlam’
Sy is met Guillain-Barré-sindroom (GBS) gediagnoseer, ’n seldsame outo-immuunsiekte, met die liggaam se immuunstelsel wat die perifere senuwees aanval. Dié siekte kan vinnig-vinnig verlamming veroorsaak, en in ernstige gevalle ook die spiere aantas wat asemhaling beheer.
LEES OOK: ‘Daar is werklik krag in gebed,’ sê Standerton se ‘miracle man’
Aanvanklik het sy geglo sy sou herstel. Almal het gesê die prognose is dikwels goed. Mareli vertel: “Die besef dat ek dalk nie sou herstel nie het wel nie in een dramatiese oomblik op my neergedaal nie; dit het langsaam gebeur, namate my liggaam ál swakker geword en ek al hoe meer van my onafhanklikheid ingeboet het.”

Toe doen sy iets wat sy vandag self beskryf as waarskynlik een van die slegste dinge wat sy kón doen: Sy het GBS gegoogle. En die woord in dié soektog wat haar die hardste getref het, was “dood”.
“Van daardie oomblik af was ek bang. Nie net bekommerd nie, maar werklik bang. Ek het nie geweet wat volgende met my liggaam sou gebeur nie.”
Haar grootste vrees was egter nie om dood te gaan nie; sy was bekommerd oor haar driejarige dogtertjie Elizabeth. Mareli was ’n enkelma. Haar kind was klein en dié se hele wêreld het skielik verander: Haar mamma was in die hospitaal en niemand kon vir haar verduidelik wanneer Mamma huis toe sou kom nie. “Ek het gewonder of sy na my vra, of sy bang is, of sy dalk dink ek het haar gelos.”
Gou kon Mareli nie meer beweeg nie. Sy kon nie praat nie. Uiteindelik kon sy nie meer self asemhaal nie. Sy is aan ’n ventilator gekoppel en vier maande lank het ’n masjien vir haar asemgehaal. Daar was ’n pyp in haar keel, en wanneer dit losgekom, uitgehaal of vervang moes word, het dit vir haar gevoel sy versmoor.
Hoop in ’n klein lyfie
Die dokters het later vir haar familie gesê: “Mareli is leeg en moedeloos. Ons moet haar dogter bring om te kom kuier.” Haar pa het haar vooraf gevra om tog nie te huil as sy die kind sien nie. Hy het geweet dit sou haar asemhaling verder bemoeilik en die slym in die pype vererger. En dit sou klein Elizabeth ontstel.
Maar toe Mareli haar kind sien, kon sy haar nie bedwing nie en sy het aan die huil geraak. Die klein dogtertjie het net daar voor die hospitaalbed gestaan en na die pype en masjiene gekyk wat aan haar mamma gekoppel was.
Mareli kon haar nie optel nie. Sy kon nie eens haar arms na haar toe uitsteek nie. En sy kon nie met haar praat nie. “Al wat ek wou doen, was om haar vas te hou en vir haar te sê dat ek steeds haar mamma is en dat alles oukei sal wees.”
Daar het wel iets tydens daardie ontmoeting verander: “Om haar weer te sien het my nuwe krag gegee, en ’n rede om aan te hou veg.”
Elizabeth het mettertyd aan die pype en masjiene gewoond geraak en sy was nie meer so verskrik nie. Sy het selfs by haar mamma op die bed gaan lê. Vir Mareli was daardie klein lyfie langs haar ’n tydige herinnering dat sy steeds ’n ma was, selfs al kon sy nie die kleinding vashou nie.
Kort daarna het die mediese span begin om haar geleidelik van die ventilator te speen. Maar haar herstel sou stadig wees. En terwyl sy baklei het om weer beheer oor haar liggaam te verkry, het daar ’n ander geveg in haar gemoed afgespeel: Haar verhouding met God het onder druk gekom.
Mareli sê sy was nooit kwaad vir God nie. “Ek het nooit aan Hom óf aan my geloof in Hom getwyfel nie. Ek het nie vir Hom gevra ‘hoekom ek?’ nie.”
Maar, sê sy, sy kon God nie by haar “voel” nie. Inteendeel: “Wanneer ek gebid het, het dit gevoel asof my gebede teen die plafon vasslaan.”
Dit was vir haar moeilik omdat geloof nog altyd ’n deel van haar lewe was, en haar gebede het later bloot ’n desperate pleidooi geword: “Here, genees my asseblief! Laat my teruggaan na my dogter toe sodat ek weer vir haar kan sorg. Laat my weer onafhanklik wees.”
’n Venster op ’n nuwe lewe
Later, tydens haar rehabilitasie in Bloemfontein, het iets kleins maar betekenisvol gebeur: Mareli kon deur ’n venster na bome kyk. Ná maande se hospitaalmure was daar skielik weer ruimte, lewe en beweging voor haar oë.
En vir die eerste keer in ’n lang tyd het sy gevoel God is naby. “Tot vandag toe is bome vir my simbolies van daardie eerste keer toe ek, ná ’n geestelike stilte, weer God se teenwoordigheid kon ervaar. Ek het nie skielik al die antwoorde gekry nie, maar ek het opnuut ontdek dat ek nie alleen is nie.”
Haar daaropvolgende herstel was wel nie een groot, dramatiese wonderwerk nie; dit was eerder ’n klomp klein oorwinnings – ’n vinger wat beweeg; ’n spier wat reageer; meer beheer as die vorige dag. En, uiteindelik, ’n eerste tree.
Dit het jare geduur voordat sy weer kon loop, wel met krukke, maar darem. Vandag gebruik sy hoofsaaklik ’n rolstoel om oor die weg te kom. Haar handfunksie is steeds beperk.
Maar Mareli beskou haarself nie as ’n mens wie se lewe deur ’n rolstoel gedefinieer word nie. “Ek sien myself glad nie anders as wat ek was nie. Ek bejammer my ook nie. Ek het ’n goeie lewe, een met uitdagings, maar steeds ’n goeie lewe.”
Die liggaamlike gevolge van GBS is wel nie al wat sy van daardie ellendige tyd oorgehou het nie; sy is steeds bang. “’n Deel van my leef asof daar enige oomblik weer iets verkeerd kan gaan.”
’n “Vreemde” gevoel, ’n verandering in haar asemhaling, of bloot gewone uitputting neem haar gedagtes onmiddellik terug na daardie hospitaalbed. “Ek moes leer leef met ’n senuweestelsel wat gevaar onthou, selfs wanneer ek veilig is.”
Maar daar is die een ding waaraan sy deurentyd vasgehou het: “Gebed, gebed, gebed.”
Voorbereiding
Wanneer sy vandag op alles terugkyk, sien sy God se hand ook in daardie gebeure wat destyds vir haar soos mislukking en verlies gevoel het. In die nege maande voordat sy siek geword het, het verskeie dinge in haar lewe skeefgeloop. Uiteindelik het sy besluit om haar werk te los en terug te trek Wesselsbron toe. Sy kon nie verstaan waarom alles skielik gevoel het asof dit uitmekaarval nie.
Vandag sien sy iets heel anders in daardie gebeure: As sy steeds in Bloemfontein gewoon het toe Guillain-Barré toegeslaan het, sou sy nie dieselfde ondersteuningstelsel gehad het nie en haar familie sou nie naby haar gewees het nie. Bowendien was haar Bloemfonteinse huis vol trappe. “Daardie nege maande was toe veel meer as ontwrigting; dit was eintlik voorbereiding.”
Sy sê sy verstaan steeds nie alles nie. Daar kom nog dae wanneer sy bang is. Die trauma het nie verdwyn omdat sy oorleef het nie. Maar ook haar geloof het nie verdwyn nie.
‘Ek glo, al verstaan ek nie’
Dis nou 12 jaar sedert daardie diagnose, en Mareli bestuur haar eie finansiële adviespraktyk. Sy het ook SoulState saam met haar lewensmaat Bernard du Toit van stapel gestuur. Dis ’n klere-onderneming wat op geestesgesondheid fokus.
Sy sê: “Jy hoef nie elke dag dapper of positief te wees om steeds te kan veg nie. Jy mag maar bang en kwaad en moeg wees. Maar moenie opgee op ’n lewe wat jy nog nie kans gehad het om te leef nie.”
Miskien is dit juis dít wat haar verhaal haar geleer het: Hoop beteken nie dat die donkerte nooit weer kom nie; hoop beteken dat die donkerte nie die finale sê het nie.
“Nee, ek verstaan nie alles nie. Maar ek glo dat God steeds besig is om my verhaal te skryf.”
En dit is vir eers genoeg.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.



















