Toe Caleb Swanepoel (29) in 2015 sy been in ʼn haai-aanval verloor, het hy gedink sy lewe is verby. Vandag, tien jaar later, is hy sterker as ooit tevore. Naas sy rolle as akteur, sakeontwikkelaar en motiveringspreker, het hy onlangs die eerste plek in die Suid-Afrikaanse Para-Branderplankrykampioenskap in Muizenberg behaal.
Caleb het in Prins Albert grootgeword, aan die voet van die Swartberge. Sy ouers het hom en drie sibbe van jongs af aan die natuur blootgestel. Hulle was ook baie betrokke by die gemeenskap.
Caleb het vroeg met watersport begin deur branders te ry sonder ʼn bord. Hier het sy liefde vir die see reeds van jongs af ontluik. Min het hy besef dat dié liefde hom duur te staan sou kom.
Soos ’n droom
“Die dag van die aanval was ʼn besonder mooi dag,” onthou Caleb. “Ons hele familie was met vakansie by Buffelsbaai naby Knysna. Dit is vanjaar tien jaar gelede. Soms voel dit soos gister; ander kere soos iets uit ʼn ander leeftyd.”
Hy sê sy broer het dié dag voorgestel dat hulle gaan branders ry. Later was hulle sowat 50 meter van die strand. Caleb sê sy voete kon nie die bodem raak nie, so diep was hulle in. Hy was bewus daarvan dat die res van die gesin hulle van die strandhuis af dopgehou het.
Hy vertel: “Ná sowat 40 minute in die water het ek ʼn grootwithaai opgemerk. Omdat ons nie op ʼn branderplank of ander bord was nie, was daar geen ander keuse nie as om dadelik, en so vinnig moontlik, terug te swem strand toe.
“Maar dis asof ek geweet het die haai gaan my aanval. Dit het my toe ook onder die water ingetrek en verwoed met my baklei. Ek onthou hoe ek gedink het dit was alles net ʼn droom. Ek het ook ʼn buiteliggaamlike ervaring gehad: Dit het kompleet gevoel asof ek die aanval sien ontvou het, maar nie daarby betrokke was nie.
“My regterbeen is bokant die knie afgebyt, maar ek het dit nie besef nie omdat ek geen pyn gehad het nie.”
Caleb se jonger broer Alex, wat saam met hom was, het aan hom gesê dat die wond slegs ʼn skrapie is, om hom sodoende kalm te hou. Steeds het hulle teruggeswem.
In daardie stadium het Caleb gedisoriënteerd geraak vanweë die erge bloedverlies. Die enigste “goeie ding” van dié dag was dat Caleb nie uitgebloei het nie. Die slagaar in sy dy het in ʼn spasma gegaan, wat die bloeding beheer het. Volgens Caleb sou so ʼn amputasie bo die knie gewoonlik tot gevolg hê dat jy binne twee tot vyf minute sterf.
“Maar toe het die haai teruggekom. Dié keer het hy my aan my linkerbeen gebyt. Dit het ʼn skeur gelaat. Steeds het ek nie geweet dat my regterbeen afgebyt is nie. Ons het geswém, en toe ons by die plek kom waar die branders breek, het die haai weggegaan.
“Intussen het my ma in die water in gehardloop. Ek is op die strand neergelê en ons het op die ambulans gewag. Ek is op ʼn branderplank na die ambulans gedra. En toe het die pyn gekom …”
‘Niemand wil bejammer word nie’
Caleb was slegs tien dae in die hospitaal. Hy was ’n sterk en gesonde jong man, en dit het die rehabilitasie effens makliker gemaak.
“Hierna,” sê Caleb, “het my lewe en my uitkyk daarop drasties verander. Ek is nie meer dieselfde mens as voor die aanval nie.”
Ná ses maande se rehabilitasie was hy terug in die water. Hy het ook in daardie tyd sy graad in drama voltooi. Alhoewel daar ʼn diep sny aan sy linkerbeen was, kon hy met behulp van ʼn stut regop staan. Hy het begin branderplank ry as deel van sy terapie. In 2017 is hy na die Suid-Afrikaanse Para-Branderplankrykampioenskap genooi.
Niemand in sy situasie wil bejammer word nie, sê hy. “Ons het bloot ondersteuning en erkenning nodig.”
Rehabilitasie is steeds deel van sy lewe. “Dis ʼn lang en intensiewe reis.”
ʼn Groot deel van sy genesing het bestaan uit allerlei aanpassings, soos om weer te leer loop en om opnuut die see aan te durf.
“Ek dink ek bevind my steeds in ʼn proses waar ek moet besluit hoe hierdie gebeure my as mens geraak het. Dit het wel my siening van die gestremde gemeenskap drasties verander. Ek is nou ook gestrem. Ek is dus baie bewus daarvan hoe ek myself as deel van die gestremde groep verteenwoordig. Byvoorbeeld: Ek beskou oop ruimtes op ’n ander manier, en vra my af: Is dit toeganklik? Selfs my skoene se gewig is belangrik. Trappe lyk anders as voor my ongeluk.
“Soms voel ek nostalgies as ek mense sien wat draf. Ek oefen, maar dit is veel meer beperk as voorheen. Ek kan byvoorbeeld nie draf nie omdat ek nie kniegewrigte het nie. Ek kyk deur ʼn nuwe lens na my lewe. Die lewe is broos en onvoorspelbaar.
“Ek bestempel myself as ʼn spirituele mens en ek weet niks word onvoorwaardelik aan ons gegee nie. Die lewe is ʼn reis en ek besef dat daar iets groters as ons is. Ons pad word vir ons uitgekerf.”
‘Haaie is nie die monsters wat baie mense dink hulle is nie’
Caleb se herontmoeting met haaie, terwyl hy in die diepsee saam met hulle swem, het goed afgeloop, hoewel hy ʼn bietjie senuweeagtig was. Die film Caleb, beyond the bite wys hoe dié branderryer se verhouding met die see lyk. So ook sy belewenis toe hy die eerste keer saam met reusehaaie geswem het.
Caleb, beyond the bite is gesamentlik deur die niewinsgewende organisasie Wild Trusten die Sharks Under Attack-projek aangepak, en is gemik op, onder meer, die beter beskerming van bedreigde haai-spesies. Dis in Aliwal Shoal in KwaZulu-Natal se diep waters verfilm, en alles is op een slag geskiet. Daar was geen beplanning of draaiboek nie; alles is rou en eerlik in die lens vasgevang.
Caleb sê: “Haaie is nie die monsters wat baie mense dink hulle is nie. Ek glo, trouens, in daadwerklike kontak tussen mens en dier. Ek is baie betrokke by die beskerming van haaie, in samewerking met Wild Trust. My betrokkenheid berus hoofsaaklik op my storie wat ek oral vertel.”
‘Omhels jou weerloosheid’
Caleb sê dat almal uitdagings beleef. “Maar nie almal praat daaroor nie. As dit met ons goed gaan, dink ons nie daaraan om ʼn fondament te lê as verweer teen ʼn terugslag nie. Met die eerste nederlaag word jy dan gebreek omdat jy nie oor daardie onderbou beskik nie.
“En ek reken dat jy jou weerloosheid, trouens, jou hele storie, moet omhels en met ander deel. Jy weet nooit wie dit nodig het om daarvan te hoor nie.
“My reis met branderplankry is ʼn genesende ervaring. Die see het geneem, maar dit het ook baie teruggegee.”
* Caleb is tans ook te sien in die sepie Diepe Waters, waarin hy die rol van Lucas speel. Dit was vir hom ʼn nuwe uitdaging om sy gestremdheid só in die openbaar te vertoon. Tog geniet hy hierdie ondervinding baie. Hy het immers ʼn Afrikaanse rol losgeslaan, ʼn prestasie vir ʼn ware Engelsman!
* Met spesiale dank aan Wild Trust
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.