Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Dieselfde arms wat die kruis gedra het, het mý ook gedra’ – 18-jarige getuig nadat sy van ’n ernstige siekte herstel

Ek was baie opgewonde om my matriekjaar aan te pak. Ek het uitgesien na die Mnr en Mej Framesby-kompetisie, na my belydenisaflegging, na die interhuis. Ek kon nie wag vir 40 days nie, die matriekafskeid, die “valedictory”-plegtigheid …

In ’n oogwink

Maar my lewe het in ’n oogwink soos handomkeer verander toe ek met die lewensgevaarlike siektetoestand genaamd intussusceptie (wanneer die derm in homself vou) gediagnoseer is.

Ek het gedink dat die operasie wat ek moes ondergaan bloot ’n roetine-prosedure sou wees en ek kon nie in my wildste drome voorsien dat daar komplikasies sou wees nie.

Maar ’n terugslag ná die eerste operasie het ’n tweede operasie genoodsaak, alles binne tien dae. Ek het 26 dae lank nie geëet nie en moes binneaarse voeding ontvang, sowel as voeding deur my neus.

Ná die tweede operasie is ek na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas, waar ek twee weke lank gelê het. Daar kon ek my mense slegs twee keer ’n dag sien.

LEES OOK: ‘Ek is verlam, maar dankbaar ek het nie breinskade nie’ – 29-jarige getuig van God se genade ná motorongeluk

Sal ek ooit weer kan huis toe gaan?

Ek het nooit aan die hospitaal gedink as ’n vreesaanjaende plek nie. Dit was altyd bloot ’n groot gebou, vol siek mense daarbinne.

Maar ja, ek was bang toe ek in die hospitaal was. Ek was bang, al het Psalm 118, wat ds Toit gereeld langs my hospitaalbed vir my gelees het, my met dié woorde getroos: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie.” Ek het gehoop dat my geloof groter as my vrees sou wees …

Ek het begin wonder of ek ooit uit die hospitaal sou kom. My drome en verwagtinge vir my matriekjaar het reeds aan skerwe gelê.

Ek is vandag trots om te kan sê dat ek 26 dae in die hospitaal oorleef het. Een van die redes waarom ek deurgedruk en bly veg het, kom uit Charlie Mackesy se boek, The boy, the mole, the fox and the horse: “‘We all need a reason to keep going,’ said the horse. ‘What’s yours?’ ‘You three,’ said the fox.
‘Getting home,’ said the boy.”

Daar was niks so erg soos om huis toe te verlang nie. Ek het gedroom van die dag wat ek huis toe sou gaan.

En hier sit ek vandag, besig om daardie droom uit te leef.

“Ek is vandag trots om te kan sê dat ek 26 dae in die hospitaal oorleef het,” vertel Mieke. Foto verskaf

Die krag van gebed

Wat my betref is gebed die belangrikste gesprek van die dag. My ma Marieke het vir my gesê dat ek ’n wonderwerk is wat rondloop, en dat dit die gevolg van die krag van gebed is.

In daardie donker tyd het gebede my gedra. Ek wil daarom sommer ook dankie sê vir die mense wat in hul stiltetyd hul hart oopgemaak het om vir my te bid.

Baie dankie aan juf Morgan, wat ’n gebedsgroep by die Framesby-personeel op die been gebring het; dankie aan Annica, wat met die Framesby-leerders gereël het om op Hemelvaartdag vir my in die saal te bid; baie dankie aan tannie Ignet en die ander ma’s wat in die ma-gebedsgroep vir my gebid het.

En baie dankie aan ds Toit, mnr van Niekerk en tannie Colleen se bystand aan my en my gesin. Baie dankie vir die vreemdelinge, gemeentelede, maats, onderwysers, Fantasia-koorlede, my belydenisklasgroep en hul ouers, asook my familielede wat my in hul gebede aan die Here toevertrou het.

God het hul gebede verhoor. Hierdie swaarkry-seisoen het my herinner aan hoe afhanklik ek van Hom is. Ek het opnuut besef dat dieselfde arms wat die kruis gedra het, my ook in en deur hierdie tyd gedra het.

“Daar was niks so erg soos om huis toe te verlang nie. Ek het gedroom van die dag wat ek huis toe sou gaan. En hier sit ek vandag, besig om daardie droom uit te leef,” sê Mieke wat toe haar matriekjaar by Hoërskool Framesby kon voltooi. Foto verskaf

‘Ek glo in engele’

Ek glo in engele. Mense-engele.

Tydens my swaarkry-maande was daar ’n klompie engele wat my help dra het. Hulle was in die gedaante van ’n predikant, van onderwysers, van ’n ma en ’n broer. Hierdie engele het hul eie “geestelike petroltenk” leeg gemaak om myne vol te kry.

Ek het besef dat ek, soos Dawid, die Goliat in my lewe deur God se grootheid oorwin het. Ek het besef hoe klein die mens eintlik is en hoe afhanklik ek van Hom is. Ek het ervaar dat ek nietig is en niks uit eie krag kan doen nie. Ek het die waarheid van Psalm 23:4 opnuut ervaar: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Charlie Mackesy skryf in sy boek: “You fell – but I’ve got you.” Ja, ek het geval, maar God was daar. Ek was in ’n woeste storm, en soms het dit gevoel asof ek deur die donker verswelg word. Maar die een goeie ding van storms is dat dit ophou.

My hospitaal-verhaal het my oë oopgemaak vir wie God is en wat Hy kan doen. Ons hemelse Vader het my spesiaal genoeg geag om my ’n tweede kans te gee om te kan droom en om te kan leef. En dit doen ek nou, in nederigheid en in volkome afhanklikheid van Hom, die Groot Geneesheer.

My droom is om ’n grondslagfase-onderwyseres te word. Ek wil ’n positiewe rol speel en ’n lig wees in jong kinders se lewe. Ek is so dankbaar dat ek volgende jaar as ’n intern by ’n laerskool kan werk terwyl ek ook studeer.

My raad aan mense wat ’n swaar tyd deurmaak?

Weet dat God nie ver is nie, al voel dit dalk so. Want geloof is nie ’n gevoel nie; geloof is die seker wete dat jy ’n kind van die Almagtige en Alomteenwoordige is.

  • Mieke Dolphin het pas haar matriekjaar by Hoërskool Framesby in Gqeberha voltooi.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF