“’n Deel van my lewenstorie is dat ek my pa verloor het toe ek agt jaar oud was. Dis hartseer en ek mis hom nog elke dag. Maar ek het geleer dit beteken nie daar is nie hoop en ’n mooi toekoms wat op my wag nie.”
Dít is Zi Watson, ’n graad 7-leerder aan die Laerskool Hugenote in Wellington, se boodskap aan ander.
LEES OOK: Depressie en angs by kinders: Hoe kan ’n ouer help?
Zi is onlangs as ambassadeur van The My Story Tribe se #ownyourstory-veldtog gekies. The My Story Tribe spits hom daarop toe om laerskoolleerders te help om emosioneel veerkragtig te wees.
Die 13-jarige Zi het aanvanklik emosioneel swaargekry. Sy vertel: “My pa was die vriendelikste mens wat ek geken het. Ek het gedink hy gaan altyd daar wees. Ek kan nie verstaan waarom hy moes sterf nie.”
Volgens Zi het die res van haar gesin ook gely. “My sussie was een jaar oud toe my pa oorlede is. Ek kon haar hartseer aanvoel.”
Zi vertel dat dit destyds ook ’n baie moeilike tyd vir haar ma was, omdat sy ’n kort ruk tevore ook háár ma en haar gewese man verloor het.
Nou, sowat vyf jaar ná haar pa gesterf het, kan Zi weer oor die toekoms droom. Sy het emosioneel sterker geword.
Haar raad aan ander?
“Dis belangrik dat jy jou eie lewenstorie ‘skryf’, en dit aanvaar. Dis jóú lewe, en jy moenie volgens ander se verwagtings leef nie.”
Sy droom tans drome oor hoe haar hoërskooljare gaan wees. En op die horison wink ’n toekoms in die regte. Of dalk as ’n beroepsnetbalspeler.
“Moet nooit toelaat dat ander jou afdruk nie,” sê sy, “óf dink dat jou drome te groot is nie.”